Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Die waarde van die GallupStrengths-persoonlikheidsontleding vir organisasies

Geskryf deur Paul Smit, Studentesake: Strategiese ontwikkeling by Akademia

Die een enkele rede waarom mense sukkel om hulle volle potensiaal te bereik, is die tradisionele denkfout dat sukses meer bereikbaar is as ons ons swakhede verbeter. Die resultate van hierdie denkfout is dat ons soveel jare tyd mors deur ons self te probeer verbeter in areas waarin ons eenvoudig net nie goed genoeg is nie en dus ook nie geniet wat ons doen nie. Hierdeur verloor ons al hoe meer veld omdat ons nalaat om eerder meer tyd te spandeer om ons natuurlike sterkpunte en talente te ontwikkel. Ná alles is dit waar ons uniekheid en potensiële effektiwiteit lê.

Die Gallup-organisasie in die VSA het met meer as 30 jaar se navorsing hierdie benadering tot sukses bewys. Hulle het navorsing gedoen met miljoene mense dwars oor die wêreld en die volgende bevind: Die beste organisasies in die wêreld is almal daarvan bewus dat individue se groei, spanne se groei en organisatoriese groei begin deur in werknemers se talente en sterkpunte te belê. Die sleutel tot sukses is nie om jou swakhede te probeer verbeter nie, maar eerder om uit te vind wat mense se natuurlike sterkpunte is en om daarop voort te bou.

Nou is die vraag: Is jy in die bevoorregte posisie om elke dag te doen wat net jy baie goed kan doen? Die kans is groot dat baie mense nie in hierdie bevoorregte posisie is nie. Die resultate van die GallupStrengths™-persoonlikheidsontleding en effektiewe lewensafrigting sal jou help om jou sterkpunte by jou werksplek en in jou persoonlike lewe te verhoog – terwyl die negatiewe verminder word.

Spanne wat op sterkpunte fokus en hulle werknemers toelaat om hulle individuele uniekheid te ontwikkel skep die volgende voordele vir die organisasie:

  • Werknemers ondek hulle unieke identiteit (talente), eie waarde en kwaliteite.
  • Werknemers en leiers wat hulle sterkpunte ontdek en ontwikkel is volgens Gallup se navorsing 6% meer ingekoop en gemotiveerd om die organisasie se sukses te bevorder en 7,8% meer produktief.
  • GallupStrengths help jou om die regte mense in jou span te kry.
  • Organisasies waar werknemers bewus is van mekaar se sterkpunte het meer waardering vir mekaar se talente en verhoog samewerking en spanproduktiwiteit.

Hou egter die volgende in gedagte:

Om jou GallupStrengths te ontdek is maar een deeltjie van jou sukses. Lewensafrigting wat jou help om jou sterkpunte te verstaan, toe te pas en te ontwikkel is seker die belangrikste stap vir jou sukses. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na paul@paul-smit.co.za.

Paul Smit is verantwoordelik vir strategiese ontwikkeling in die Studentesakeafdeling.