Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent wen CIMA-toekenning vir tweede keer

Gepubliseer op: 26 Januarie 2023

Michelle Coetzee, ʼn passievolle Akademia-dosent, het in 2021 en weer in 2022 die Uitnemendheidstoekenning vir Onderrig (eervolle vermelding) van CIMA (Chartered Institute of Management Accountants) ontvang. Coetzee doseer tans Rekeningkunde, Belasting en Ouditkunde by Akademia.

Coetzer is deur haar eie studente vir hierdie toekenning genomineer en was een van 650 dosente wat deur instellings en individue genomineer is vir oorweging deur ʼn sentrale paneel. “Hierdie toekenning getuig van die noue belyning tussen Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad en die CIMA-kurrikulum asook dosente se suksesvolle onderrigpogings. Dit is ʼn spesiale eer om hierdie toekenning vir die tweede keer te kan ontvang,” noem sy.

Sy beskryf ouditeure as probleemoplossers wat uitblink in kritiese en strategiese denke. “My passie vir probleemoplossing het ʼn besonderse liefde vir ouditkunde gekweek.” Hierdie liefde het haar gemotiveer om ten einde as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. Tussen haar besige skedule by Akademia deur het sy ook einde 2022 haar meestersgraad in rekenaarouditkunde geslaag.

Die akademie maak haar opgewonde aangesien sy deur middel van skakeling studente se bestaande kennis met nuwe vakinhoud kan verbind op ʼn betekenisvolle wyse. “Dit is ongelooflik bevredigend om kritiese denke te stimuleer en studente te inspireer om hul kennis toe te pas ten einde ‘n blywende verskil te maak, hoewel dit uitdagend is om ʼn verskeidenheid aanbiedingstrategieë aan te wend om individuele leerbehoeftes te bevredig.”

Dit is vir haar belangrik om haar studente as kritiese denkers te help ontwikkel. “‘God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7). Met hierdie besonderse gees vervleg ek graag ouditleerpraktyke met onderrig- en opvoedingsdoelwitte ten einde studente se kritiese denke te ontwikkel,” sê sy.

Sy bereik haar klas op ʼn intellektuele vlak deur in die studente se moedertaal te doseer. “Totius het gepreek in ons taal; Cloete en NP Van Wyk Louw het gedig ons taal; Karen Zoid raak plesierig in ons taal en Akademia-dosente doseer in ons taal. Ek bereik my studente by wyse van eenvoudige en verstaanbare oudit-vaktaal tydens kontaksessies te gebruik.” Haar raad aan mededosente is om gereeld te herbesin oor hul individuele perspektiewe en reflekteer om deurgaans oor hul onderrig- en opvoedingspraktyke te reflekteer.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia sluit af met die volgende: “Dit is ʼn groot pluimpie vir Michelle Coetzee dat haar studente haar genomineer het vir hierdie toekenning op grond van haar toewyding, betrokkenheid by die studente en uitstekende vermoë om kennis van haar vakgebied oor te dra. Die toekenning dui weer eens op die gehalte van Akademia se onderrig en kwalifikasies soos beoordeel deur ʼn onafhanklike internasionale professionele liggaam.”

Akademia is trots om so ʼn ambisieuse en sterk ambassadeur in ons dosentkorps te kan hê en ons sien uit na alles wat Michelle nog gaan vermag.

Michelle Coetzee is ʼn kenner in die veld van ouditkunde wat in 2021 en 2022 die CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Onderrig ontvang het.