Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Matriek van 2022, jy kan nog vanjaar studeer!

Gepubliseer op: 23 Januarie 2023

Ná ʼn lang wag het die matrieks van 2022 uiteindelik hul matriekuitslae ontvang. Baie geluk aan elkeen! Jy wonder dalk – wat nou? Jy het nou jou skoolloopbaan afgesluit en wonder wat volgende in die pyplyn is. Indien jy studie vir 2023 oorweeg, het Akademia goeie nuus vir jou. Alhoewel die meeste hoëronderwysinstellings se studieaansoeke vir vanjaar reeds gesluit is, is voorgraadse studieaansoeke vir 2023 by Akademia nog oop tot en met 31 Januarie.

“Ons wil aan skoolverlaters genoeg tyd bied om te besluit watter studierigting hul die beste sal pas,” verduidelik Liana van Rooy, registrateur van Akademia. “Akademia bied verskeie studierigtings oor verskillende fakulteite waar studente hul passies kan uitleef. Ons wil daarom vir die matrieks van 2022 genoeg tyd gee om hul matriekuitslae deur te gaan en steeds studies vanjaar te kan aanpak.”

Akademia bied boonop vir voornemende studente die keuse om of voltyds op kampus te studeer of by een van die landswye studiesentrums of selfs via e-leer vanaf enige plek ter wêreld.

Die nauurse afstandsmodel bied ʼn gerieflike klasrooster met klasse wat saans en oor sommige naweke aangebied word om dit vir studente moontlik te maak om bedags te kan werk of ander belangstellings te kan najaag. Studente op hierdie model ontvang optimale akademiese ondersteuning vanaf dosente en die aanlyn leerbestuursplatform genaamd die Spens (die aanlyn platform waar jy al jou akademiese leesstof, studiemateriaal en belangrike inligting ontvang). Daar is ook ʼn A-gemeenskap waar jy steeds met jou medestudente kan bande bou en sosialiseer.

Indien studente eerder aan ʼn voltydse klaservaring wil deelneem, is daar die opsie om by die Centurion-kampus studies aan te pak. Die kampus bied ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, biblioteek, ʼn koshuiservaring, ʼn ouditorium, asook ander fasiliteite wat studenteondersteuning bied. Hier neem studente deel aan ʼn bruisende studentelewe en draf bedags voltyds klas – dit terwyl hulle lewenslange netwerke bou.

Ongeag van die onderrigleermodel wat jy kies, alle eerstejaars ontvang ook gratis toegang tot ʼn aanlyn kursus om die kuns van studentwees baas te raak – selfs nog voor oriëntering vroeg Februarie afskop. Dié kursus is ontwikkel om die sprong vanaf skoolleerder tot studentwees te vernou en sal jou voorberei vir ʼn suksesvolle studiereis. Tydens die kursus word nuttige temas soos basiese rekenaarvaardighede, hoe om vir die akademiese jaar voor te berei, akademiese taal- en skryfvaardighede, basiese akademiese navorsing en wenke vir die aflê van assesserings hanteer.

Alle eerstejaars word ook uitgenooi na die jaarlikse eerstejaarskamp wat beloof om een vir die boeke te wees. Die kamp skop af op 31 Januarie 2023 by die Wag ’n Bietjie-kampterrein net buite Pretoria. Tydens die kamp sal jy die geleentheid kry om meer te leer oor Akademia en sy waardes en om jou studenteraad en van die instelling se personeel te ontmoet. Jy sal ook die kans kry om lewenslange vriendskappe met jou medestudente, oftewel mede-Fonties, te kan kweek. “Ons hoop dat jy saam kom kamp en werklik inskakel by die Akademia-familie. Ons sien vreeslik uit om jou te ontmoet!”, vertel Douard d’Assonville, bestuurder van Studentesake.

Waarvoor wag jy? Gryp die geleentheid aan en doen nou hier aanlyn aansoek om by ʼn wêreldklas Afrikaanse hoëronderwysinstelling te studeer. Begin jou loopbaanreis by Akademia – waar die denke en hart bymekaarkom.

Akademia bied vir jou die keuse om op die voltydse kampusmodel of die nauurse afstandsmodel te studeer.
Eerstejaar-Fonties kom jaarliks bymekaar by die opwindende eerstejaarskamp.