Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Nuwe studenteraad aangewys om studentelewe by Akademia verder uit te bou

Gepubliseer op: 26 Augustus 2022

Akademia se studenteraad (SR) vir die 2022/2023-termyn is tydens ʼn spoggeleentheid op 25 Augustus ingehuldig. Die nuwe SR staan gereed om die studentelewe by die instelling vir alle Fonties opwindend en waardevol te maak.

Volgens Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia, is die SR die kern van ʼn georganiseerde en gestruktureerde studentelewe. “Die studenteraad is deurslaggewend vir die ontwikkeling van ʼn gebalanseerde student wat ons waardes en opvoedingsideaal uitleef.”

Die rol van ʼn SR is om die studentelewe by Akademia te ontwikkel en te implementeer, sowel as om ʼn stem vir die studente te wees. “Akademia se studentelewe is nog in sy kinderskoene en die SR sien uit daarna om die studentelewe saam met hul mede-Fonties te ontwikkel,” vertel d’Assonville.

Daar is ʼn deeglike proses gevolg om die nuwe SR aan te wys. Nominasies vir die studenteraad het oopgemaak waarna die studentesakekomitee onderhoude met elk van die kandidate gevoer het. Ná hierdie onderhoude gevoer is, is die kandidaatslys bekendgemaak van studente wat aan al die vereistes voldoen het.

Vanjaar se verkiesing het vir die eerste keer ʼn swete, oftewel onvoorbereide onderhoude voor die publiek, ingesluit. Fonties en personeel van Akademia kon vrae instuur wat tydens die onvoorbereide onderhoude aan die SR-kandidate gevra is wat hulle voor ʼn aanlyn en inpersoon-gehoor moes beantwoord. Die eerste swete was vir die voorsitter- en adjunkvoorsitter-portefeuljes en die tweede swete vir die res van die studenteraadsportefeuljes. Ná hierdie publieke onderhoude gevoer is, kon alle Akademia-studente vir hul gunstelingkandidate op die Spens (Akademia se aanlyn leerplatform) stem waarna die aankondiging plaasgevind het.

Die SR vir 2022-2023 en hul portefeuljes is as volg toegeken:

Myrtle Endley – Voorsitter
Megan Meyer – Adjunkvoorsitter en Nauurs
Robyn Visagie – Gemeenskap
Ruben Barnard – Finansies en Akademie
Dylan Beckers – Sport
Cornel Rautenbach – Bemarking en Kommunikasie
Markus van Staden – Kultuur en Erfenis
Jenna-Bleu Heystek – Koshuisraad

Volgens d’Assonville is die nuutverkose SR ʼn volwasse groep met baie ervaring aangesien sommige van hulle reeds verlede termyn ook op die SR gedien het. “Hulle het sterk karakters en is gewortel in ons beginsels en waardes wat beteken dat hulle baie sterk optrede het,” sluit d’Assonville af.

Baie geluk aan die nuwe studenteraadslede wat hierdie termyn vir Akademia en sy studente gaan dien. Mag julle ʼn ware verskil maak in mekaar en jul medestudente se lewens en mag julle die instelling se studentelewe na nuwe hoogtes neem. Ons sien met groot opwagting uit na wat in die SR-kalender vir die jaar voorlê.

Myrtle Endley tydens haar swete vir die portefeulje van voorsitter van die Akademia-studenteraad.
Die volledige studenteraad saam met Marthinus Visser, besturende direkteur, Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte en Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder, by die inhuldigingsfunksie op Akademia se Centurion-kampus.