Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Topdriesakeplanne vir Sakeplankompetisie 2022 bekendgemaak

Gepubliseer op: 17 Augustus 2022

Akademia het onlangs die topdriesakeplanne aangewys vir die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Daar was vanjaar agt inskrywings vir die kompetisie wat onder mekaar meegeding het vir een van die topdrieplekke.

Die topdriefinaliste sal tydens die finale ronde van die Sakeplankompetisie wat op 1 September 2022 plaasvind hul sakeplanne aan ʼn paneel voorlê waar die wenner van die kompetisie aangewys sal word.

Die topdriesakeplanne vir 2022 is:

  • CoreTech Quantum Technologies (Chante Holsthyzen, Megan Heaton en Jean-Pierre Knoetze)

Hierdie besigheid stel rekenaarprobleme reg vir persone wat nie die kennis het om dit self te doen nie. Hulle leuse is: “We fix all your computer problems”.

  • Heart of Courage (Carami van der Vyver)

Heart of Courage is ʼn leefstylbesigheid wat fisiese opvoedingsprogramme en kognitiewe, sielkundige sessies aanbied deur gebruik te maak van gespesialiseerde metodes.

  • La Essence Creations (Louisa Fouche)

Hierdie besigheid is ʼn bakkery/koffiewinkel wat vars gebakte produkte maak.

Daar is vanjaar groot pryse op die spel vir die wenner sowel as naaswenners van die kompetisie. Die wenner sal die volgende pryse ontvang:

  • Solidariteit Jeug: R50 000 se prysgeld
  • ActionCoach: Sessie met Thabo Pitse: 1-tot-1-sessie teen R5 500 per uur
  • Groot FM-toer: Wat agter die skerms gebeur
  • Outomatiese inskrywing na die finale ronde van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie 2022.
  • Kontantprys van R1 000 geborg deur Van Schaiks

Beide die naaswenners kan uitsien na die volgende pryse:

  • JTB Consulting: R10 000 se prysgeld
  • ActionCoach: Sessie met Thabo Pitse: 1-tot-1-sessie teen R5 500 per uur
  • Groot FM-toer: Wat agter die skerms gebeur

 

Volgens Monique Visser, programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia, is die doel van die sakeplankompetisie om aan Fonties die geleentheid te bied om eerstehandse ervaring op te doen om hulle eie besigheid op die been te bring. “Ons studente leer baie vaardighede in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program en dit is ʼn groot voorreg om ʼn platform soos die sakeplankompetisie daar te kan stel waar die Fonties die vaardighede prakties kan uitleef.”

Vanjaar se beoordelaars is kenners in hul onderskeie velde wat waardevolle terugvoer aan die deelnemers sal kan gee. Hier volg die paneel.

  • Thommie Burger: Gesertifiseerde finansiëlemodellerings- en sakewaardasieontleder, JTB Consulting
  • Henk Schalekamp: Besturende direkteur van Kanton
  • Danie Marais: Senior kredietbestuurder van Absa
  • Mareli Bothma: Bestuurder van Solidariteit Jeug
  • Sanderien van der Walt: Bestuurder van AfriForum Sakenetwerk
  • Sarita Gerber: Programkoördineerder vir LLB en dosent in Regsgeleerdheid

 

Die paneel sal vanjaar na verskeie belangrike aspekte van ʼn besigheidsplan kyk, sowel as die oorspronklikheid van die besigheidsidee en of daar ʼn werklike behoefte aan die produk of diens in die mark is. Daar word ook gekyk of die besigheid uitvoerbaar en suksesvol kan wees en hoe die studente hulself kan uitdruk in ʼn geskrewe dokument oor hul besighede.

Die kompetisie vind vanjaar vir die derde opeenvolgende jaar plaas en volgens Visser word daar gepoog om die kompetisie ʼn jaarlikse instelling binne die program te maak. “By die BCom (Ondernemingsbestuur)-program maak ons vir studente deure na die toekoms oop. Met die sakeplankompetisie wil ons graag sien dat studente se drome om hul eie besighede te besit, bewaarheid word,” sluit Visser af.

Akademia wens die drie finaliste alle voorspoed toe met hul voorbereiding vir die finale ronde en ons sien uit om hul by die finaal te sien spog met hul sakeplanne.

Die topdriesakeplanne vir die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie is onlangs bekendgemaak en ding op 1 September mee by die finaal van die kompetisie.