Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia ken sy eerste grade toe

Gepubliseer op: 7 April 2017

Akademia het vandag by sy vyfde jaarlikse plegtigheid vir die eerste maal grade toegeken. Die toekenning het geskied aan dertien studente wat in 2014 ingeskryf het en die program BCom Ondernemingsbestuur verlede jaar voltooi het.

Kwalifikasies aan altesaam 76 studente van regoor die land, asook ‘n student in Nieu-Seeland, is toegeken. Sowat 400 mense het die geleentheid in die Atterbury Teater in Pretoria bygewoon, met professor Danie Goosen as geleentheidspreker.

Piet le Roux, Akademiese Hoof van Akademia, sê Akademia is trots op hierdie mylpaal: [pullquote]“Akademia het die afgelope vyf jaar gehalte universiteitsvlakkwalifikasies soos nooit tevore binne bereik van Afrikaanse studente geplaas” – Piet le Roux[/pullquote]“Akademia het die afgelope vyf jaar gehalte universiteitsvlakkwalifikasies soos nooit tevore binne bereik van Afrikaanse studente geplaas. In 2012 het ons met hoër sertifikate begin. In 2017 ken ons die eerste grade toe. Intussen is 750 ander studente reeds druk aan die werk in vier graadprogramme en verskeie ander kwalifikasies.”

“Ons wens die studente geluk en bedank daarby ons ondersteunersgemeenskap wat hierdie droom gedeel het en die verwesenliking daarvan moontlik maak,” sê Le Roux.

Benewens die toekenning van 13 BCom Ondernemingsbestuur-grade, is 14 Gevorderde Diplomas in Projekbestuur, drie Diplomas in Kleinsakebestuur, een Diploma in Bemarking, 19 Hoër Sertifikate in Kantooradministrasie en 26 Hoër Sertifikate in Rekeningkunde toegeken.

Le Roux sê dit is vir Akademia ‘n eer om professor Goosen as geleentheidspreker te kon hê: “Professor Danie Goosen het ‘n onvermoeide ywer vir die universitêre gedagte. In sy boodskap as een van ons voorste openbare intellektuele, herinner hy ons voortdurende aan die Westerse tradisie en ons Christelike etos, aan die belang van gemeenskap en plek, en tegelykertyd die aanlê van ‘n veelheid van verbande na ander gemeenskappe en plekke. In ‘n tyd dat universiteite dikwels van hul gemeenskappe afskeid neem in ‘n hoop om daardeur internasionaal te wees, wys professor Goosen ons op die gevare daarvan en op gebalanseerde alternatiewe. Ons is bevoorreg om hom as lid van ons adviesraad te hê en bedank hom vir sy boodskap.”

Die gradeplegtigheid het die oorhandiging van spesiale toekennings aan toppresteerders ingesluit. Elsie Elizabeth Bakker is as toppresteerder in die BCom Ondernemingsbestuur-program aangewys en Suerica Pietersen het met die louere weggestap in die Gevorderde Diploma in Projekbestuur. Anika Miske het die beste punte in die Diploma in Bemarking behaal het. Anéll De Beer beklee die topposisie in die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie en Dawie Oosthuysen in die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.