Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia stel wêreldbekende koordirigent aan

Gepubliseer op: 27 Julie 2021

In koorkringe sal die naam Franco Prinsloo beslis ʼn klokkie lui. Hy is onlangs aangestel as koordirigent vir Akademia se kraakvars koor wat binnekort aanvang neem. Prinsloo, die bekroonde komponis en dirigent, is vanaf laerskool af betrokke by verskeie kore. Hy het na skool musiek by die NWU se Potchefstroom-kampus studeer en het ook by die Puk-koor betrokke geraak waarna hy sy koor-vlerke na Pretoria gesprei het. In 2017 het hy die Vox Chamber Choir gestig wat reeds vyf CD’s uitgereik het en verskeie prestasies bereik het. Hy is ook te sien as aanbieder van lesings by internasionale koorkongresse en -feeste.

Prinsloo vertel dat hy geweldig opgewonde is om hierdie rol by Akademia te vervul en beskou hy dit as ʼn ongelooflike eer om die amptelike koordirigent van die instelling se heel eerste koor te wees. “Ek sien baie uit na die spesiale en kunssinnige oomblikke wat ons koor saam gaan beleef. Daar is iets ongelooflik wat gebeur wanneer ʼn groep mense saamkom om een doelwit te bevorder: die skep van skoonheid en betekenis”, sê hy.

Hy glo dit is baie belangrik vir ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia om ʼn koor te hê. “’n Koor bied aan studente ʼn veilige gemeenskap waarbinne hul hulself musikaal ten volle kan uitleef. Musiek raak deel van jou wese en dit skaaf en vorm jou”, noem hy.

Volgens dr. Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia, is koorsang een van die aktiwiteite waaraan studente kan deelneem as deel van dié unieke studente-ervaring by die instelling. “Koorsang bied ontspanning en sosialisering, maar ontwikkel ook selfdissipline en intellektuele ontwikkeling. Boonop ontgin jy jou talente op ʼn heerlike manier. Ons is opgewonde oor dié aanstelling. Hy is beslis een van die beste dirigente in die land.”

“Hierdie droom van ʼn wêreldklas Akademia-koor is een van die hartprojekte van ons besturende direkteur, Marthinus Visser, en ook van myself. Dié koor gaan nog baie vreugde aan die publiek verskaf”, reken Muller. “Wat die koor uniek maak is dat beide personeel- en studentestemme saamgesnoer gaan word om talle gehore se hartsnare met optredes aan te raak.”

Prinsloo se visie vir dié koor is om ʼn gemeenskap te skep waar sangers hulself vrylik, gemaklik en met passie kan uitleef. “Die koor moet ʼn tuiste bied waar studente, sáám met die ander liefhebbers van koorsang, ten volle hulself as mens kan uitleef en dit op ʼn passievolle manier kan deel met ander”, sê hy. Hy hoop glo dat die koor een van hoogstaande gehalte sal wees wat altyd in diens van musiek sal staan.

Franco Prinsloo, eerste koordirigent van die Akademia-koor, staan reg om ʼn topgehalte koor op die been te bring.