Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Kapitaalwinsbelastingverligting vir klein besighede

Gepubliseer op: 27 Julie 2021

Geskryf deur Mariska Wannenburg, dosent in belasting, koste- en finansiële rekeningkunde aan Akademia

Nuwe wetgewing op kapitaalwinsbelasting, wat deel vorm van natuurlike persone, soos individue, trusts of maatskappye se inkomstebelasting, is bekendgestel in die Republiek van Suid-Afrika (RSA) tydens die 2001/2002-jaar van aanslag.

Wat is kapitaalwinsbelasting?

Belasting op kapitaalwins is ʼn belasting wat betaalbaar is op winste wat realiseer by die beskikking of verkoop van bates op of na 1 Oktober 2001. Eenvoudig gestel: indien die verkoopprys van ʼn bate die aankoopprys van die bate oorskry, ontstaan ʼn kapitaalwins.

Verder impliseer die Inkomstebelasting Wet 85 van 1962 (“Inkomstebelastingwet”), dat persone wat as inwoners geag kan word in die RSA aanspreeklik is vir kapitaalwinsbelasting met die vervreemding van hul bates wêreldwyd. ʼn Weerhoubelasting is van toepassing op nie-inwoners van die RSA, en hulle is ook aanspreeklik vir kapitaalwinsbelasting met die vervreemding van hul onroerende bates wat in Suid-Afrika geleë is of van enige ander bates wat effektief verwant is aan hul permanente plek van besigheid in die RSA.

Wanneer is die verligting van kapitaalwinsbelasting van toepassing op klein besighede?

Die Agste Bylaag van die Inkomstebelastingwet 85 van 1962 (“Agtste Bylaag”) maak voorsiening vir verskeie uitsluitings op die algemene reël. Een van die uitsluitings hou verband met die vervreemding van klein besigheidsbates, of ʼn belang in ʼn klein besigheid, wat beperk is tot ʼn waarde van R1,8 miljoen.

Ingevolge artikel 57(2) van die Agtste Bylaag is die volgende verligting beskikbaar vir natuurlike persone met die vervreemding van die volgende bates:

  • ʼn Aktiewe besigheidsbate of ʼn klein besigheid wat besit word deur ʼn persoon as ʼn alleeneienaar; of
  • ʼn Belang in elk van die aktiewe besigheidsbates of ʼn erkende klein besigheid wat besit word deur ʼn vennootskap, totdat ʼn persoon sy of haar belang uit die vennootskap onttrek; of
  • ʼn Volle aandeelhouding in ʼn maatskappy wat ten minste bestaan uit 10% van die ekwiteit van die maatskappy, waar die belang verband hou met die aktiewe besigheidsbates van ʼn erkende klein besigheid.

 

Alvorens die bogenoemde kapitaalwinsbelasting verligting van toepassing kan wees op ʼn natuurlike persoon behoort daar aan al die volgende vereistes voldoen te word:

  • Die persoon behoort die aktiewe besigheidsbate tot sy of haar eie voordeel gehou het, óf moes die belang in die vennootskap of maatskappy vir ten minste vyf agtereenvolgende jare gehad het voordat die vervreemding plaasgevind het; en
  • Die persoon behoort moes wesenlik by die bedrywighede van die klein besigheid betrokke gewees het; en
  • Die persoon moes ten minste 55 jaar oud wees; óf die beskikking het plaasgevind weens siekte, ander swakhede of as ʼn nadoodse bemaking.

 

Die terme “klein besigheid” en “aktiewe besigheidsbate” behoort noukeurig oorweeg te word. ʼn “Klein besigheid” beteken dat die totale markwaarde van alle bates van ʼn besigheid op die  datum van vervreemding nie R10 miljoen mag oorskry nie. In die praktyk is dit baie algemeen dat een individu meer as een klein besigheid besit, en dit sou beteken dat die bates van al die besighede tesame nie R10 miljoen mag oorskry nie.

ʼn “Aktiewe besigheidsbate” verwys na onroerende eiendom wat ten volle of gedeeltelik vir besigheidsdoeleindes gebruik word. Indien die eiendom slegs gedeeltelik vir besigheidsdoeleindes gebruik word, sal die verligting slegs van toepassing wees in die mate waarvoor die bate wel vir besigheidsdoeleindes gebruik was. Verder is ʼn “aktiewe besigheidsbate” ook enige bate wat nie as onroerende eiendom geag word nie en slegs en uitsluitlik vir besigheidsdoeleindes gebruik word. Indien hierdie bates slegs gedeeltelik vir besigheidsdoeleindes gebruik was, sal die verligting nie beskikbaar wees nie.

Die kapitaalwinsbelastingverligting van R1,8 miljoen is beperk tot die leeftyd van ʼn natuurlike persoon, en enige kapitaalwins wat R1,8 miljoen oorskry sal belas word. Dit is raadsaam dat persone hierdie belastingverligting in ag sal neem by toekomstige vervreemding van klein besigheidsbates.

Mariska Wannenburg, dosent in belasting, koste- en finansiële rekeningkunde by Akademia.

Verwysings

SARS. 2021. Disposal of small business assets. https://www.sars.gov.za/types-of-tax/capital-gains-tax/exclusions-and-roll-overs/disposal-of-small-business-assets/ [Datum van gebruik: 3 Julie 2021].

PKF South Africa. 2021. Capital Gains Tax: Relief on the disposal of Small Business Assets. https://www.pkf.co.za/news/2021/capital-gains-tax-relief-on-the-disposal-of-small-business-assets/ [Datum van gebruik: 3 Julie 2021].

P.C. Bruwer and Partners. Kapitaalwinsbelasting. http://pcbruwer.co.za/kapitaalwinsbelasting/