Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Top drie vir sakeplankompetisie vir studente aangekondig

Gepubliseer op: 28 Julie 2021

Daar heers groot opgewondenheid nadat die top drie inskrywers vir Akademia se sakeplankompetisie vir Ondernemingsbestuurstudente aangekondig is. Dié kompetisie, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, bied die ideale hupstoot vir studente met ʼn sake-idee om ʼn omvattende sakeplan op te stel en dit dan aan ʼn paneel kundiges voor te lê. Die wenner ontvang pryse ter waarde van meer as R30 000 om die wensakeplan ʼn realiteit te maak, asook waardevolle mentorskapgeleenthede.

Die top drie-sakeplanne is:

  • Janco Opperman en Wikus Basson (Customsites)

Customsites is ʼn aanlyn webwerfontwerpbesigheid met die doelwit om dit vir Suid-Afrikaanse klein-, medium- en mikrobesighede moontlik te maak om hul eie webwerwe van goeie gehalte te laat ontwikkel.

  • Marlene van Niekerk (Coffi-licious)

Coffi-Licious is ʼn onderneming wat koffiebone van Zambië na Namibië invoer. Die besigheid gaan ook die produk in Namibië versprei en in die nabye toekoms na Suid-Afrika uitvoer.

  • Ronan van Vuuren (Digital Dynamics)

Digital Dynamics is ʼn aanlyn, diensgebaseerde bemarkingsagentskap wat sosialemediabemarking en digitale bemarkingsdienste aan kliënte lewer.

Hierdie sakeplanne sal tydens die finale rondte op 1 September deur die opstellers aan ʼn paneel voorgelê word om die algehele wenner te bepaal.

Die sakeplankompetisie het ontstaan uit ʼn behoefte om studente bystand te bied met die oprigting van hul besighede. Studente kan dit wat hulle tydens hul studie in Ondernemingsbestuur geleer het, prakties in hierdie kompetisie toepas. Daar is vanjaar elf sakeplanne ingeskryf wat met mekaar om die top drie plekke meegeding het.

Volgens Monique Visser, die programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur), is een van die beweegredes agter die program om studente met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om uiteindelik eendag, as hulle wil, hul eie besighede te kan begin. “Sodoende kan Akademia bydra om werksgeleenthede vir die gemeenskap te skep.”

Die beoordelaars van hierdie kompetisie is ervare sakelui wat waardevolle terugvoer vanuit hul onderskeie velde aan deelnemers lewer. Die paneel bestaan uit:

  • Danie Marais – Senior kredietbestuurder (Absa)
  • Henk Schalekamp – Besturende direkteur (Kanton)
  • Braam van der Vuywer – Innovasiekundige
  • Rhona Erasmus – Entrepreneur (Pienkvoet-Pret)
  • Iné Bester – Projek- en bemarkingkoördineerder (Saai)
  • Lizette Uys – Kommersiële sakebestuurder (Vodacom Network Operations)

 

Die belangrikste aspekte waarna die paneel gekyk het om die top drie te kies is die oorspronklikheid van die besigheidsidee, of daar ʼn behoefte aan die produk/diens is en of dit ʼn uitvoerbare en suksesvolle besigheid kan wees. Hulle kyk ook na die manier waarop die studente hulle in ʼn dokument oor hul ondernemings uitdruk.

“Met dié kompetisie wil ons as dosente in Ondernemingsbestuur graag getrou bly aan Akademia se visie. Die oogmerk is om vir die studente wat inskryf ʼn tuiste skep waar hart en denke gevorm word om sodoende vir hulle ʼn betekenisvolle en vrye toekoms te skep”, sê Visser. Sy verduidelik verder dat daar hopelik in die toekoms aan alle Akademia-studente in ander programme ook die geleentheid gebied kan word om vir die kompetisie in te skryf.

Alle voorspoed aan die drie finaliste met die voorbereiding vir die finale rondte. Akademia hou die suksesse van die besighede met groot opgewondenheid dop.