Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Taaldag: Hoeveel moeite gaan jy doen vir jou hartstaal?

Gepubliseer op: 3 Augustus 2021

Geskryf deur Riana Crafford, dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.

Een van die uitdagings verbonde aan ʼn minderheidstaal is die feit dat die sprekers daarvan oorweldig word deur die taal wat deur die meerderheid gepraat word. Hulle hoor hulle tweede taal meer as hulle moedertaal. Dink ʼn bietjie hoe ʼn Suid-Afrikaner se dag tipies verloop:

Vandat die wekker in die more afgaan, is dit net Engels, Engels, Engels. Geen wonder mense sê hulle stel hulle “alarm” nie! (Dis nou n.a.v. die Engelse toepassing op hulle slimfoon).

As jy, soos ek, lief is vir klassieke musiek en inskakel op Classic FM, moet dit jou nie verbaas dat al die komponiste (waarvan die oorgrote meerderheid nie Engels is nie) se vanne en komposisies in Engels aan luisteraars voorgehou word nie. Is daar dan nie ʼn beduidende deel van hulle luisteraars wat Afrikaanssprekend is nie? Dit gaan nie juis beter met ons kinders nie, al luister hulle nie na klassieke musiek nie. Die “koel” kunstenaars is in soveel gevalle nie Afrikaans nie, dus luister hulle so baie na Engelse lirieke.

Om nie eers te praat oor die ‘gaming’ wat hulle so graag aanlyn doen nie. (Hulle verseg om dit ‘speel’ te noem, hulle sê dis ernstige sake.) Dis altyd in Engels. Niks van dié aard is in Afrikaans nie! Kan iemand nie Minecraft in Afrikaans vertaal nie, asseblief?

By die werk kan jy net so hier en daar met jou Afrikaanse kollegas ʼn persoonlike gesprek in Afrikaans voer, die res van die tyd praat ons almal noodgedwonge Engels. Ironies, want nou probeer ons almal om ons in ons tweede of derde taal verstaanbaar maak. Die Suid-Afrikaners wie se moedertaal Engels is, is eintlik maar yl gesaai. Dan kan mens maar net jou kop skud oor ons amptelike landstaal, nl. ‘broken English’.

Wanneer mens se kind vorendag met “Mamma, ons lewer more ʼn praatjie oor ….”, begin jy Googleloer dat die biesies bewe. Helaas kry jy niks in Afrikaans oor die onderwerp nie, dus slaan jy maar oor na Engels. Dit nou terwyl die kind self besig is om op Facebook, Instagram en die res van die sosialemediaplatforms rond te swerf. Natuurlik ook met Engelse #hashtags.

Dit bring my by die slotsom dat dit moeite is om mooi Afrikaans te praat. Dit kom lankal nie meer vanself nie; mens moet spesifiek hard werk daaraan. Dis net te maklik om sommer die Engelse woord tussenin te gooi. “Is dit die moeite werd om sulke moeite te doen?” Maak dit saak of ons taalgebruik keurig en suiwer is, of is die mengelmoes van tale maar aanvaarbaar in die 21ste eeu van globalisasie?

Ons voorouers het so hard gewerk, nie net om die land te bewerk nie, maar ook om erkenning te kry vir ʼn eie taal. Is ons bereid om ook hard te werk om dit te behou?

Wat sê jy?

Is dit vir jou ʼn prioriteit om suiwer Afrikaans te praat en moeite te doen om Afrikaanse woorde te vind vir begrippe wat jy normaalweg net in Engels ken?

Hoeveel moeite gaan jy doen vir jou hartstaal?

In ʼn vorige artikel het ek (na my beskeie mening) baie sterk redes uitgespel hoekom dit die moeite werd is om telkens na die woordeboek te gryp wanneer jy wil praat oor die dinge van die een-en-twintigste eeu.

In die lig van die volgende gegewens:

  • Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika, met sowat 6,8 miljoen sprekers, en
  • Afrikaans is een van slegs vyf tale in die wêreld wat in die 20ste eeu tot ʼn volwaardige akademiese en wetenskapstaal ontwikkel het

 

kan ons tog nie toelaat dat al die veld wat ons voorsate gewen het, in die 21ste eeu verlore gaan nie.

As ons taal dan as ʼn nederige “kombuistaal” begin het, is dit mos nou ons verantwoordelikheid om te sorg dat dit nie spoedig weer daar eindig nie – net goed genoeg om in te skinder, maar nie om in te studeer nie! Ons wil steeds seker maak dat hoëvlakdenke akkuraat en treffend in ons mooi taal uitgedruk kan word. Solank as wat Suid-Afrikaners in Afrikaans bly navorsing doen, is daar nog hoop vir die toekoms van Afrikaans as ʼn universiteitstaal.

Nietemin, alles is vir seker nie verlore nie. Dit blyk dat Afrikaans veerkragtig is. Ek is nou nie seker of dit die gevolg is van die feit dat Afrikaans nog so ʼn jong taal is en of dit ten spyte daarvan is nie. Afrikaanssprekendes pas goed aan tydens die Vierde Nywerheidsrevolusie, waar alles so snel verander.

Verandering is wel ʼn gegewe, maar niemand hou juis daarvan nie. Inteendeel: Mense weerstaan verandering. Mense val maklik terug op  “Dit is wat ek dit my hele lewe lank genoem het, ek gaan dit nie nou iets anders begin noem nie.” (Dink maar aan dorps- en straatname. Lewenslange inwoners van dorpe verwys steeds na straatname wat nou nêrens meer te vinde is nie.)

Nogtans het die Afrikaanse taal verstommende veranderings en vernuwings gesien in haar baie kort bestaan. Hoe ons liewe moedertaal deesdae ingespan word is soms verstommend. Afrikaans is ʼn integrale deel van ons kultuurskat en ook hier word daar gewoel met vernuwing.

Viva Afrikaans, ons jong, veerkragtige taal. Ek het waardering vir ons kunstenaars wat nie op hulle laat wag om ons taal op ʼn nuwe manier te laat floreer nie.

Ek is besonder bly oor die vernuwing, want dit hou ons tradisionele liedjies in die volksmond. Dankie aan al die eietydse Afrikaanse sangers wat moeite doen met hierdie volksliedjies en bietjie nuwe ritmes en keurspeltegnieke gebruik om ons kultuurskat weer gewild te maak. Jong mense sal “Afrikaners is plesierig” dalk nooit weer as ʼn volkspeledansie gebruik nie, maar hulle sing dit nog lekker saam met Karen Zoid. (Om maar een voorbeeld te noem).

Ook die kleuters sing lekker saam aan sowel nuwe as ou bekende liedjies. Gunstelinge soos Hansie Slim, Jan Pierewiet, Pollie ons gaan Pêrel toe. Dit is nou danksy Lollos. Nuwe liedjies bevat nogal kostelikhede. Luister gerus na Lollos se Seekoeiliedjie. Hoor hoe spitsvondig: “ …. Oppas vir die seekoei. Jy wil nie met hom stoei. Oppas, kom nie te naby, anders maak jy hom dalk see-kwaai … Seekoei, seekwaai, stoei en lag, seekoei, aai-ai-aai.’ Wat ʼn raak beskrywing om die mees gevreesde dierasie in Afrika die ‘seekwaai’ te noem!

Dankie aan almal wat moeite doen met ons hartstaal. Hou so aan. Ons sal darem graag wil hê dat ons geliefde Afrikaans grasieus moet oud word.

Riana Crafford is ʼn dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.