Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia hou Bestuurswetenskappe-simposium ter voorbereiding van vyfde industriële revolusie

Gepubliseer op: 1 September 2022

Akademia se Departement Bestuurswetenskappe binne die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het op 1 September ʼn simposium aangebied met die tema: Samelewing 5.0. Hierdie simposium is by koshuis@Leriba aangebied en ook regstreeks na kykers uitgesaai.

Die uitgesoekte gaste wat die simposium bygewoon het, sluit in akademici vanaf openbare universiteite sowel as privaat hoëronderwysinstellings. Rolspelers wat in die bedryf staan asook van Akademia se alumni het ook die simposium bygewoon.

Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe by Akademia, was die doel van die simposium tweeledig. “Eerstens wou ons hê persone moet by die simposium uitstap en weet waaroor die vyfde industriële revolusie (5IR) gaan en watter besigheidsvaardighede en instrumente nuttig is in dié revolusie. Tweedens wou ons met die simposium mure afbreek tussen akademici en praktyk, en ook brûe bou om netwerke en verhoudings onder mekaar te vestig.”

Die gassprekers van die funksie het hul kennis en insig oor die 5IR na die program gebring. “Deur die dag was daar ook heelwat geleentheid om oor die sprekers se aanbiedinge te reflekteer en daaroor te besin,” noem Coetzer.

Die simposium is afgeskop met ʼn aanbieding deur prof. Chris Adendorff, ʼn senior toekomskundige en presidensiële kommissaris vir die Suid-Afrikaanse Vierde Industriële Revolusie, oor wat die 5IR werklik behels. “Die 5IR het twee komponente, die bekendstelling van nuwe tegnologie en ʼn herorganisasie van die industrie wat deur daardie tegnologie teweeggebring is,” noem Adendorff. Hy vertel ook dat die 5IR ʼn groter fokus op die menslike aspek sal hê en dat daar klem gelê sal word op die vennootskap tussen tegnologie en mense.

Johann Smith, ʼn dosent in Innovasiebestuur by Akademia, het ʼn voorlegging aangebied wat gehandel het oor die metaverse en hoër onderwys. “Die metaverse het verskeie definisies, maar dit is ʼn virtuele of alternatiewe ruimte wat ons betree danksy aangepaste realiteit of virtuele realiteit,” sê Smith. Hy vertel dat hierdie metaverse-tegnologie studente se leer kan verbeter en dat daar reeds baie geleenthede hiervoor bestaan. “Ons gaan egter nuwe wêrelde vir ons studente moet skep.”

Digitalewetenskap- en innovasiebestuurder, Isak van der Walt, het ook ʼn aanbieding gedoen oor ontwrigtende tegnologieë en dienste in die vierde industriële revolusie (4IR). “Een van hierdie voorbeelde is Libby, ʼn kliëntediensrobot wat in die Universiteit van Pretoria se biblioteek werk,” sê van der Walt. Libby kan die basiese vrae in die biblioteek antwoord en maak gebruik van onder andere sensors, kameras, gesigsherkenning- en teks-na-spraaktegnologie. “Samewerking met rolspelers en ander afdelings is belangrik met die aanpak van vernuwende projekte in die 4IR.”

Elaine Alberts, projekbestuurder by Standard Bank, het die vraag beantwoord oor of veranderingsbestuur mens kan aktiveer vir die 5IR. “Veranderingsbestuur kan beslis mense aktiveer vir die 5IR solank dit binne ʼn ekosisteem gebeur en nie in isolasie nie. ʼn Mens moet dus die ekosisteem waarbinne verandering gebeur, verstaan,” noem Alberts. Sy vertel ook verder dat veranderingsbestuur ʼn holistiese benadering behels asook om begrip, kennis en vaardighede te verhoog om groei te help dryf en mense se drome moontlik te maak.

Kultuurevangelis by King Price, Marno Boshoff, het die gehoor toegespreek oor hoe die dryf van ʼn innoverende kultuur ʼn verskil kan maak in die 5IR. “Kultuur is ʼn mensdinamika, dit beteken dit gaan oor die mense. Kultuur is die manier van doen by ʼn maatskappy,” noem Boshoff. Hy vertel verder dat ʼn gesonde maatskappykultuur produktiwiteit dryf en dat daar 300% meer innovasie in maatskappye is wanneer werknemers gelukkig is in hul werkplek.

Dr. Thommie Burger, die laaste gasspreker vir die dag, en ʼn gesertifiseerde finansiëlemodellerings- en sakewaardasieontleder by JTB Consulting het nuttige wenke met die gehoor gedeel wat vir die 5IR gebruik kan word. Een hiervan is om die “Business Model Canvas” te gebruik om te verseker dat al die aspekte van die besigheid produktiwiteit verhoog. Nog ʼn wenk is om gereeld jou sakeplan af te stof om seker te maak dat die besigheid sy doelwitte bereik.

Die dag is op ʼn hoë noot afgesluit met die voorleggings van die topdriesakeplanne van die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Hierdie kompetisie bied aan Akademia-studente in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program die geleentheid om ʼn sakeplan op te stel, dit voor te lê aan ʼn paneel en om hul eie besigheid op die been te bring. Die paneel het by die simposium aan die spanne terugvoer gegee en die gehoor kon ook vir hul gunstelingsakeplan stem. Die gala-aand sal hierop volg waar die wenners van die kompetisie aangekondig sal word.

“Dit was ʼn baie waardevolle simposium en ons by Akademia se Departement Bestuurswetenskappe sien uit na al die geleenthede wat die 5IR vir ons inhou. Ons is ook opgewonde om ons kwalifikasies en manier van klasgee te bly ontwikkel om sodoende aan die voorpunt van die vinnig veranderende tegnologie te bly en steeds die hart daarvan te behou,” sluit Coetzer af.

Indien jy belangstel in ʼn kwalifikasie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, besoek die Akademia-webblad vir meer inligting. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Indien jy die simposium misgeloop het, kyk dit hier.

Elize-Mari Coetzer, die departementshoof van Bestuurswetenskappe by Akademia, verwelkom gaste by die simposium wat op 1 September by koshuis@Leriba gehou is.
Die gassprekers by die Bestuurswetenskappe-simposium was Johann Smith, Marno Boshoff, Elaine Alberts, Isak van der Walt, dr. Thommie Burger en prof. Chris Adendorff.