Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-dosent help ontwikkel aan ʼn nuwe raamwerk vir akademici

Gepubliseer op: 31 Augustus 2022

Salomien Boshoff is ʼn dosent in BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia. Sy het onlangs saam met Elzette le Roux van Universiteit Stellenboch ʼn raamwerk vir dosente en akademiese ondersteuningspersoneel ontwikkel om hulle te help om deur sekere uitdagings te navigeer.

“Noodafstandonderrig”, “samelewing 5.0” en “aanlyn en/of gemengde leer” is van die woorde wat gebruik is om die onlangse ontwrigtings, kompleksiteite en veranderinge in hoër onderwys (HO) te beskryf wat weens die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Volgens Boshoff moes akademici vinnig aanpas om steeds studentesukses te verseker deur aanlyn of gemengde onderrig-en-leer-metodes in te span.

Die raamwerk wat deur Boshoff en Le Roux ontwikkel is, dien juis as ʼn kompas om dosente te help om studenteleer deur drie fokusareas van die onderrig-en-leeragenda te navigeer. Hierdie drie fokusareas sluit in:

  • Kurrikulum – insluitend wat onderrig word, hoe en wat geassesseer word, dosent se onderliggende filosofie en wie die studente is;
  • Onderrig en leer – die uitvoering van die kurrikulum in verskeie leerruimtes, veral in afstand- en gemengde leermodusse van aflewering; en
  • Leerderanalise – insluitend assessering en besinning oor die analise.

 

Hierdie raamwerk help ʼn dosent om deur ʼn lens te lig terwyl die dosent beplan, ontwerp, implementeer en reflekteer en kan as ‘n kompas tydens akademiese personeelontwikkeling gebruik word. Verskeie akademiese ondersteuningspersoneel en dosente wat reeds van hierdie raamwerk gebruik maak tydens hul beplanning, ontwerp, implementering en besinning van modules en programme, ervaar ʼn positiewe effek. Boshoff noem dat sy opgewonde is oor die moontlikhede wat hierdie raamwerk vir ander akademici kan oopbreek.

Boshoff en Le Roux het ook onlangs by die jaarlikse Flexible Future-konferensie, wat vanaf 24 tot 25 Augustus by die Universiteit van Pretoria aangebied is, ʼn referaat gelewer oor die raamwerk wat hulle ontwikkel het. Die referaat se titel was: “STACK: A lens and compass for academic staff during curriculum design and implementation”.

“Dit was ʼn ongelooflike voorreg om ons idees te deel met ander akademici by die Flexible Future-kongres,” sê Boshoff.  Die hooftema van hierdie konferensie was “Society 5.0: Towards human-centred and digitally enhanced education”. Boshoff noem verder dat die konferensie weereens bewys het hoe verskeie instellings en akademici saam kan werk om die beste moontlike oplossings in optimale leer aan studente in Suid-Afrika te bied.

“Daar word wonderlike insiatiewe dwarsoor Suid-Afrika gebruik om die student – as mens – sentraal te plaas van verskeie aksies by hoëronderwysinstellings,” sluit Boshoff af. “Die twee dae was gevul met planne vir die toekoms wat leer sal bevorder by studente. Ons sien uit na hierdie toekoms.”

Salomien Boshoff, Akademia-dosent, by die Flexible Futures-konferensie, wat op 24 en 25 Augustus by die Universiteit van Pretoria plaasgevind het, waar sy ʼn referaat oor die STACK-raamwerk (wat sy help ontwikkel het) gelewer het.