Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Klasse by Akademia gaan ononderbroke voort

Gepubliseer op: 23 April 2020

Verskeie artikels verwys daarna dat van Shakespeare en Isaac Newton se beste werk tydens hulle eie inperkingstyd met die Groot Pes van Londen gedoen is.

Akademia se onderrigleermodel laat nie toe dat die inperking haar studente se leerervaring beïnvloed nie. Studente gaan ononderbroke met die akademiese jaar voort – alhoewel hulle dit nou net effens anders doen.

Die akademiese jaar het gewoonlik bestaan uit kontaksessies waar studente fisies by een van die dertien studiesentrums klas moes bywoon. ʼn Noodplan is in plek gestel sodat Akademia se 1 350 studente steeds voordeel daaruit kan put om klasse tydens die inperkingstyd by te woon.

“Akademia se model is van meet af so ontwikkel dat daar ʼn sterk fokus op gevorderde tegnologie is, en daarom het die oorskakeling na hierdie alternatiewe manier van onderrig redelik maklik gebeur,” meen Marthinus Visser, besturende direkteur.

Dosente neem kontaksessies in die gerief en veiligheid van hulle huise op. Hierdie klasopnames word dan op Akademia se aanlyn leerbestuurstelsel aan studente beskikbaar gestel. Dié akademiese ondersteuning en leermateriaal speel ʼn belangrike rol in die sukses van studente se akademiese jaar.

“Alhoewel hierdie opnames nie noodwendig interaktief is soos wat klasse gewoonlik sou wees nie, verskaf dit steeds méér addisionele ondersteuning as om bloot ʼn aanlyn model te volg,” reken Visser. Studente kan steeds op hierdie platform saam dosente en medestudente aan gespreksforums deelneem, waar hulle akademiese navrae rig en idees kan uitruil. Addisionele ondersteuning word ook aan studente gebied wat uitdagings met betrekking tot tegnologie of databeskikbaarheid ervaar.

“Om gehalte-onderrig en -opvoeding te lewer is ons prioriteit. Daarom doen ons personeel alles in hulle vermoë om die akademiese reis van ons studente gedurende hierdie tyd so gemaklik as moontlik te maak. Ons wil graag hê dat elkeen van ons studente hulle akademiese jaar suksesvol moet voltooi,” sê Visser.

Volgens Visser het Akademia al heelwat korrespondensie ontvang van studente wat hulle dankbaarheid teenoor die instelling toon. “Ons waardeer Akademia en hulle dosente vir die moeite wat hulle insit,” vertel Madeleine van der Merwe, ʼn eerstejaarstudent wat tans LLB studeer. “Ons het nou juis die tyd om oor en oor na die klasse te luister, en dit wat ons nie verstaan nie kan ons vra en die dosente antwoord dadelik.”

Paul Maritz, tweedejaarstudent in BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) het ook sy ervaring van sy studies gedeel: “Ek sit in redelike ernstige inperking, maar danksy Die Spens – die studenteplatform – gaan alles letterlik soos normaal aan. Dis darem lekker. Dis darem eerstewêrelds…”

Die instelling beoog nie om die bestaande model met die alternatiewe manier van klas­aanbiedings permanent te vervang nie. “As gemeenskapsinstelling sal daar altyd plek wees vir interaktiewe kontaksessies waar studente en medestudente in die klaskamer kan ontmoet, netwerke kan bou en sinkroniese interaksie met hulle dosente sal hê. Sodra hierdie pandemie onder beheer is, en ons weer met fisiese kontaksessies kan begin, sal ons voortgaan waar ons in Maart opgehou het.”

Akademia-studente gaan soomloos voort met hulle studies tydens inperking. Kontaksessies word opgeneem en beskikbaar gestel op die instelling se leerbestuurstelsel.