Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Vanjaar ontvang 191 Akademia-studente kwalifikasies in absentia

Gepubliseer op: 17 April 2020

In die lig van die Covid-19-maatreëls wat wêreldwyd van krag is, oorhandig Akademia vanjaar 191 kwalifikasies in absentia. Akademia se agste jaarlikse kwalifikasieplegtigheid sou op Vrydag 17 April plaasgevind het. In totaal word 91 grade, 13 gevorderde diplomas, 4 diplomas en 83 hoër sertifikate toegeken. Hierdie kwalifikasietoekennings is ʼn merkwaardige toename vanaf Akademia se plegtigheid in 2013 toe ʼn totaal van tien kwalifikasies oorhandig is.

Twee van die instelling se kwalifikasies, BCom (Ekonomie en Regte) en BCom (Finansiële Beplanning), lewer vanjaar eerste graduandi nadat aanbieding van hierdie programme in 2017 begin het.

“Alhoewel ons tans tye van onsekerheid beleef, en die normaal wat ons geken het moontlik vir altyd verander het, ken Akademia met trots hierdie kwalifikasies toe en erken hierdie studente vir hulle deursettingsvermoë en doelgerigtheid. Hierdie kwalifikasies skep nie net hoop vir ʼn goeie toekoms vir hierdie individue nie, maar ook vir die gemeenskap waarin hierdie afstudeerde studente nou werk,” sê Liana Venter, registrateur by Akademia. Die instelling beoog om later vanjaar ʼn seremonie te hou om die kwalifikasies wat oorhandig word saam met die afgestudeerde studente te vier.

Die meerderheid van Akademia se studente werk deur die dag en studeer nauurs. Daarom is dit vir Akademia ʼn groot eer om jaarliks die top presteerders in elke kwalifikasie te beloon met ʼn toekenning vir hulle harde werk en besonderse prestasies. Die toppresteerders vir 2019 is soos volg:

  • Lydia Suzanne Berry: BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Nichola Carlson de Kock: BCom (Ekonomie en Regte)
  • Richelle Deyzel: BCom (Finansiële Beplanning)
  • Minette Nel: BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Alida Magdalena Swanepoel: Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Shanre Deale: Diploma in Kleinsakebestuur en Entrepreneurskap
  • Elizma Botma: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Delene Johanna Nel: Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

 

Akademia het haar eerste akademiese jaar in 2012 met slegs 35 studente afgeskop, en vanjaar spog die instelling met 1 358 ingeskrewe studente. Deel van hierdie sukses is die feit dat die instelling ʼn landswye netwerk van studiesentrums het waar studente op ʼn nauurse of blokrooster kan klas draf, asook die instelling se akademiese programaanbod wat deurlopend uitbrei. Akademia bied vanaf 2021 ses nuwe kwalifikasies aan, en studente sal ook die opsie hê om vanaf volgende jaar voltyds op die Centurion-kampus te studeer.

“Ons is saam met die afgestudeerde studente bly oor die mylpaal wat bereik is, en ons is oortuig daarvan dat hulle verder as alumni saam met Akademia gaan bou aan die toekoms en die gemeenskap waarbinne hulle is, veral na die pandemie verby is,” vertel Venter.

Die kwalifikasieplegtigheid­program vir 2020 is op die Akademia-webblad gepubliseer. Hierdie kwalifikasieprogram is die wettige raamwerk vir die toekenning van kwalifikasies en word ook ingesluit in die jaarverslag wat aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding gestuur word.