Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia stel eerste koffiewinkel Sowel As bekend

Die reuk van vars geroosterde koffie, die geklingel van teelepels en die opgewekte neurie van saamgesels het op 17 April die opening van Akademia se nuwe koffiewinkel – Sowel As –vergesel.

Sowel As verteenwoordig as ‘t ware ʼn kuier-oase vir Akademia se personeel, studente en vriende. Groot opgewondenheid heers oor dié koffiewinkel wat tans vanaf Leriba in Centurion bedryf word. Die koffiewinkel is gerieflik langs die Centurion-sentrum op die perseel geleë.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Projekte by Akademia, vergestalt Sowel As ʼn droom wat reeds etlike jare gekoester word. “Daar is min dinge wat kers vashou by die lekkerte van goeie gespreksvoering en uithaler koffie, en as jy boonop ietsie te ete kan byvoeg, soveel te meer,” meen Swanepoel. Sy noem dat besoekers aan Sowel As heerlike tuisgebak soos onder meer sjokoladebruintjies, minikaaskoek en dadelkoekies kan geniet terwyl voorsiening ook gemaak word vir diegene wat nie koffie drink nie.

Sowel As sal derhalwe verskeie koffiedrankies, ook Die Pionier, Akademia se spesiale ontbytkoffiemengsel, wat in 2022 ter viering van ʼn dekade se pionierswerk bekendgestel is, verkoop. Die ontwikkeling van dié Akademia-eie koffiereeks, wat uit ʼn dompelpotkoffieversnit asook ʼn vriesgedroogte versnit bestaan, het volgens Swanepoel die grondslag gelê vir die ontstaan van die koffiewinkel.

Die naam Sowel As spreek tot Akademia se vormingsideaal en simboliseer die ontwikkeling van die denke sowel as die hart met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. Net soos studente blootgestel word aan méér as net hul onderskeie dissiplines, en individuele ontwikkeling en groei, net so beoog die koffiewinkel om méér as net die tradisionele koffie-en-koek-ervaring aan besoekers te bied.

“Ons sien daarna uit om in die toekoms met plaaslike entrepreneurs hande te vat en unieke Sowel As-ervaringe aan besoekers te bied,” sê Swanepoel. Sy verduidelik verder dat spesiale kuiergeleenthede soos byvoorbeeld pizza-en-wyn-aande, asook koffie-en-koekparingsgeleenthede vir die Akademia-gemeenskap in die vooruitsig gestel word.

Sowel As se besigheidsure vir Akademia-studente en -personeel is soos volg

  • Maandae, Dinsdae sowel as Donderdae: 16:00-21:00
  • Woensdae: 10:00-21:00
  • Vrydae: 8:00-13:00

Vir meer besonderhede, of om as student of personeellid die koffiewinkel vir ʼn spesiale geleentheid te bespreek, stuur ʼn e-pos na sowelas@akademia.ac.za. Hou gerus Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting en spesiale aanbiedinge. Volg ook gerus Sowel As hier op Instagram.

Sowel As verteenwoordig as ‘t ware ʼn kuier-oase vir Akademia se personeel, studente en vriende. Die koffiewinkel is gerieflik langs die Centurion-sentrum en word vanaf Leriba bedryf.
Behalwe goeie koffie, kan personeel en studente ook vars tuisgebak by Sowel As geniet.