Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia hou suksesvolle eerste eerstejaarkamp

Gepubliseer op: 28 Januarie 2020

Een en veertig eerstejaarstudente het vanaf 24-26 Januarie van heinde en verre gekom om Akademia se heel eerste eerstejaarkamp by te woon wat by Camp Discovery, buite Pretoria, gehou is. Die doel van die kamp was sodat eerstejaars bymekaar kon kom sodat hulle mede­studente kon ontmoet, netwerke kon bou en ʼn beter begrip van studies by Akademia vorm.

“Die kamp is vanjaar eers in Gauteng gehou om die belangstelling by ons grootste sentrums te toets,” vertel Mareli Rall, die kampkoördineerder. “Na afloop van die positiewe terugvoer wat ontvang is, beoog Akademia om meer streke vir 2021 betrokke te kry.”

Akademia se eerstejaarkamp is uniek in die sin dat dit studente, wat by geografies verspreide studiesentrums klasloop, bymekaarbring. “So het studente die geleentheid gekry om mense te ontmoet wat hulle nie noodwendig by hulle eie studiesentrums sou raakloop nie,” reken Rall. Boonop strek Akademia se studenteprofiel oor beide skoolverlaters en ouer studente wat reeds werksaam is, en het die kamp ʼn goeie netwerkgeleentheid gebied.

Buiten dat studente nuwe vriende kon maak en hulle netwerke uitbrei, was daar ook hoogtepunte soos ʼn modderbad, dosente-ontmoeting, boeresport, hindernisbane, ʼn wildrit, waterkaskenades en ʼn nagmars. Studente het ook meer geleeroor die begronding en kultuur van Akademia, en geluister na ʼn lesing oor wat hulle vir die akademiese jaar te wagte kan wees.

Volgens Rall was die kamp ʼn reusesukses en is die studente baie opgewonde oor wat 2020 vir hulle inhou. “Ons is bly oor die energie wat die studente gehad het en die goeie spanwerk wat hulle toegepas het. Ons glo dat hulle die energie in hulle studies sal toepas en toegewyde studente in hulle loopbaanreis sal wees,” sê Rall.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, vertel die eerstejaars oor die begronding van die instelling en hoe studente dit in hulle studies kan toepas.
Die eerstejaarstudente voltooi ʼn hindernisbaan en leer dat spanwerk die wenresep tot voltooiing van die hindernis is.
Die eerstejaarstudente het ook aan boeresport deelgeneem.