Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Jan Taks gaan GRÓÓT

Gepubliseer op: 7 Februarie 2020

Geskryf deur Riana Crafford, ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

Ek lees op BusinessTech* van 3 Februarie dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangekondig het dat hulle nuwe tegnologie wil implementeer om Suid-Afrikaanse belastingontduikers vas te vat. Hulle gaan blykbaar hulle inligtingtegnologie grootliks opskerp deur te fokus op datagedrewe insigte, selflerende programmatuur en kunsmatige intelligensie (KI).

Sê SAID se kommissaris, Edward Kieswetter: “Hierdie stap volg na […]  ʼn herdefiniëring van die belastinggaarder se strategiese doelwitte.”

Hoe moet die man op straat voel oor hierdie voorgenome projek? My beskeie mening is dat dit ʼn stap in die regte rigting is.

Hopelik verstaan die man en vrou op straat dat ons nie kwaad vir Jan Taks is nie, net vir die regeringsinstansies wat die geld vermors wat hy ingesamel het. Dit baat iedereen as almal gelyk die wa deur die drif trek; ons het nie lyfwegstekers nodig nie. Hoe meer mense die belastinggaarder “ondersteun”, hoe minder hoef elkeen individueel by te dra. Daarom is ons bly as Jan Taks se stelsels doeltreffend werk, om die gewillige (of dan ten minste gedienstige?) belastingbetalers se lewens makliker te maak wanneer hulle hul verpligting nakom, sowel as om diegene wat probeer om die belastingman te kul op te spoor en in te katrol.

Hier is hoe Kieswetter dit wil regkry (en dit is goeie nuus vir konsultante en ander professionele persone in Suid-Afrika): Jan Taks gaan ʼn aggressiewe werwingsperiode in. Hulle wil die SAID met Groot Data en KI bemagtig, en gaan kundigheid nodig hê om dit reg te kry.

Sien, die een hand was die ander. Die privaatsektor beskik oor die ter sake kundigheid, en dus gaan van ons belastinggeld deur SAID aangewend word om van hierdie mense in diens te neem: data-ontleders, asook tegnologiese innovasie- en aanskaffingsbeamptes. So gee hulle die Suid-Afrikaanse arbeidsmark (en veral die IT-bedryf) ʼn hupstootjie.

Dit is goed dat die SAID die belang van Groot Data -ontleding en -benutting insien; heeltemal belyn met tendense van suksesvolle ondernemings van die 20’s. Hierdie wetenskap (Groot Data-ontleding) help organisasies om hulle data doelmatig in te span en sodoende nuwe geleenthede raak te sien en daarop te kapitaliseer. Hoekom sou die SAID dit nie ook doen nie? Belastingbetalers behoort verlig te wees om te hoor dat Jan Taks ook graag slimmer wil werk; vernuftige aanwending van Groot Data sal lei tot meer doeltreffende bedrywighede rakende “ondersteuners” se belastingbydraes, meer effektiewe aanwending van hulpbronne, en gelukkiger belastingpligtiges.

Laastens: Die man op straat hoor al ʼn geruime tyd van die Vierde Nywerheidsrewolusie (4NR). Net ingeval ons gedink het dat dit slegs ontwikkelde lande is wat hieraan deelneem, is dit verblydend om die kommissaris te hoor verklaar: “Verby is die tyd om bloot te praat oor die 4NR, ons wil toekomsgereed wees, en dit kan ons slegs wees deur te bly belê in ʼn intelligente organisasie, wat weer soos in die verlede wêreldklas diens aan belastingpligtiges lewer. (Een van die maniere om dít te doen, is om dit moeilik en duur vir belastingontduikers te maak!)

Dus ʼn wenk vir elkeen wat ʼn IT-verwante loopbaan oorweeg: Die aanvraag na data-ontleders gaan in die onmiddellike toekoms selfs meer en meer toeneem.

Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia