Search
Close this search box.

Openbare lesing deur dr. Ernst Roets pak temas van Dune-reeks uit

Gepubliseer op: 15 Mei 2024

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia

Die Dune-films het sedert 2021 groot opspraak gemaak onder liefhebbers van wetenskapsfiksie. Die films is op die gewilde boeke van Frank Herbert gebaseer, wat ook onder andere ʼn Hugo-prys vir wetenskapsfiksie behaal het. Die films wat geweldig goed presteer het, het ook verskeie gesprekke en idees losgemaak onder denkers, soos dr. Ernst Roets, beleidshoof van die Solidariteit Beweging. Hy het op 8 Mei tydens een van die NP van Wyk Louw-sentrum se maandelikse openbare lesings op die Gerhardstraat-kampus verskeie temas in die boeke vir studente, akademici en die publiek kom uitpak. Sy tema vir die openbare lesing was: “Hoe om Dune tussen die lyne te lees.”

Enkele temas wat deur Roets aangeraak is, is aan die hand van figure soos Aristoteles, Nicollò Machiavelli, Friedrich Nietzsche en NP van Wyk Louw gedoen. Die eerste groot tema, volgens Roets, is die sterk aanwesigheid van beweging vanaf potensialiteit na aktualiteit. Die hoofkarakter in die Dune-verhaal, Paul Atreides, is konstant besig om te beweeg vanaf blote potensiaal na die absolute aktualisering van daardie potensiaal. Hy ontdek al hoe meer sy roeping en begin al hoe meer sy rol in die groter prentjie van dinge raaksien. Roets het uitgewys hoe mens se potensiaal tot verwerkliking kan kom wanneer jy soos die hoofkarakter jou kant bring.

Die tweede groot tema verwoord Roets as “die stryd teen Fortuna”. Paul Atreides is vasgevang in ʼn stryd teen die onvermydelike. Soos wat hy aangaande sy roeping ontdek, kom hy ook meer en meer tot die insig dat sy roeping hom op ʼn pad van verwoesting en bloedvergieting gaan lei. Meer nog, hoe meer hy probeer om sy roeping te vermy, hoe meer is daar ander faktore wat hom dwing om sy roeping te vervul. Volgens Roets is dit sinneloos vir die karakter om teen die pad wat vir hom uitgelê is te probeer stry, soos later in die boeke en films getoon word.

Die derde en laaste groot tema wat Roets uitgepak het, is die van die Übermensch. Paul Atreides se weg na roepingsvervulling toe word ook vergesel met sy eie tipe vergoddeliking as ʼn leier. Die vraag is, gaan sy vergoddelikking lei na die bevryding en florering van die mensdom, of die vernietiging daarvan? Hoe lyk die toekoms wanneer een persoon verhef word tot ʼn Übermensch, lei dit tot bevryding of vernietiging? Hy het die gehoor aangemoedig om die films te kyk of die boeke te lees om self by die antwoord uit te kom.

Ná afloop van Roets se lesing het die gehoor verskeie vrae gehad wat tot goeie besprekings gelei het, onder andere oor die temas wat reeds aangeraak is. Die NP van Wyk Louw-sentrum sien uit na volgende gesprekke vanuit die sentrum waar die studente, personeel en publiek kan saamkom om idees uit te ruil en gesprekke te voer oor temas wat almal se lewens raak. Hou gerus die NP van Wyk Louw-sentrum se webblad dop vir meer inligting.

Personeel vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum saam met dr. Ernst Roets, beleidshoof van die Solidariteit Beweging.
Dr. Ernst Roets het Fonties en personeel van Akademia, sowel as lede van die publiek, ingelig oor verskeie temas vanuit die Dune-reeks.
Goeie gesprekvoering het ná afloop van die openbare lesing gevolg waar verskeie temas in die Dune-reeks aangeraak is.