Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia stel Fakulteit Regsgeleerdheid bekend tydens formele geleentheid

Gepubliseer op: 11 Oktober 2022

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid is op 5 Oktober bekendgestel by die instelling se Centurion-kampus. Vooraanstaande regslui sowel as vriende van Akademia het die aand bygewoon. Die formele bekendstelling volg nadat daar op 26 Julie aangekondig is dat prof. Hermie Coetzee, gesoute akademikus en toegelate prokureur, haar plek vol sal staan as dekaan van dié fakulteit.

Coetzee het tydens die formele funksie haar inhuldigingstoespraak as dekaan van die fakulteit gelewer. Sy meen dat die totstandkoming van ʼn fakulteit ʼn geskiedkundige oomblik is omdat dit ʼn seldsame gebeurtenis is en akademici wat daarvan deel is ʼn rare geleentheid gegun word om aan die begronding deel te neem. “Verder is die totstandkoming van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan Akademia ʼn heuglike oomblik vir moedertaalonderrig en om Afrikaans as ʼn regswetenskapstaal te bevorder.”

Volgens Coetzee is die Fakulteit Regsgeleerdheid se missie om ʼn baken van gehalte regsopleiding in Afrikaans, kritiese denke, gemeenskapsdiens en bowenal hoop te wees. Sy hoop ook dat elke student wat deur die fakulteit gelewer word, as ʼn gesonde, veelsydige, bekwame en oplossingsgedrewe regspraktisyn ʼn opbouende verskil in sy of haar gemeenskap sal maak.

Sy noem dat die fakulteit nie net studente wil leer hoe om te dink nie, maar ook hoe om te doen en daarom wil die fakulteit ʼn brug bou tussen teorie en praktyk. “Ons fokus op die hoogste denkbare teoretiese opleiding, maar ook op die ideaal van wysheid, waarop die klassieke universiteitswese geskoei is. Dus, die strewe na kennis en wysheid in ʼn

Afrikakonteks ten bate van die gemeenskappe waaruit ons kom en die gemeenskappe waarin ons studente ʼn positiewe verskil aan ons land en al sy mense kan en móét maak,” sê Coetzee. Sy meen dat die fakulteit ook onlosmaaklik verbind is tot die regsgemeenskap en om die regsprofessie aan wie se voete hul staan te dien.

Die twee departemente waaruit die fakulteit bestaan is ook bekendgestel tydens die funksie. “Dit is ʼn voorreg om twee uiters ervare, bekende en gedugte akademici aan hoof van ons twee departemente te hê,” noem Coetzee. Dr. Melanie Roestoff staan aan die hoof van die Departement Privaat- en Handelsreg en dr. Willem Gravett aan die hoof van die Departement Publiek- en Prosesreg. Beide departementshoofde is ook regspraktisyns.

Daar is ook ʼn huldeblyk gelewer aan die wyle advokaat Van Niekerk vir sy ruimhartige bydrae tot die Akademia-mediasentrum. Hy het ʼn indrukwekkende regsbiblioteek oor vele dekades saamgestel en het hierdie versameling aan Akademia nagelaat.

Regsgeleerdheid is by Akademia ingelei deur die BCom (Ekonomie en Regte)-program waarvan die eerste studente in 2017 ingeneem is. Akademia bied reeds die gewilde LLB-kwalifikasie op die nauurse afstandsmodel aan sedert 2020 en dit word ook vanaf 2023 voltyds op die kampusmodel aanbied. Tans spog die gewilde LLB-program met 440 studente oor verskeie akademiese jare en die eerste graduandi word aan die einde van 2023 gelewer.

Die fakulteit se akademiese korps bestaan uit ʼn diverse en dinamiese span van verskeie vakspesialiste. Akademici vir die program is in die meerderheid nie net dosente nie, maar is ook regspraktisyns. Dit beteken dat hulle waardevolle praktiese insigte met studente kan deel om hul uitstekend vir die werksplek voor te berei.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia het die heildronk by die bekendstelling ingestel. “Dit is vir Akademia ʼn groot voorreg om die Fakulteit Regsgeleerdheid se geboorte te vier. Ons vier daarmee tesame ook ʼn diepe volwassenheid in dié fakulteit danksy die senior personeel en die bekwame leiding van prof. Coetzee.”

Indien jy belangstel om ʼn kwalifikasie aan die Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia te studeer, besoek die Akademia-webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir 2023 is steeds oop. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Marthinus Visser, besturende direkteur, saam met prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid en die twee departementshoofde van die fakulteit, dr. Melanie Roestoff en dr. Willem Gravett.