Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vier tien jaar se sukses tydens prestigefunksie

Gepubliseer op: 6 Oktober 2022

Akademia het op die tiende dag van die tiende maand (10 Oktober) tien jaar van klasgee gevier tydens ʼn glansfunksie wat by die Sol-Tech-kampus in Pretoria gehou is. Die aand is bygewoon deur die pioniers wat aan Akademia help bou het, hoofde van die instellings van die Solidariteit Beweging, vriende en donateurs, personeel, asook die studenteraad van 2022/2023.

Die instelling spog met ʼn dekade se groei vanaf 40 studente wat op 3 Maart 2012 hulle klasse afgeskop het tot 2 350 studente in die 2022 akademiese jaar. Die aantal programme het ook vermeerder vanaf slegs vier kwalifikasies na sewentien, terwyl die personeel vanaf slegs vyf na byna 200 deeltydse en voltydse personeellede.

Esté Gross, radio-omroeper by Pretoria FM, was die seremoniemeester van die aand en het met die volgende woorde begin: “Meer as tien jaar gelede was daar ʼn droom. ʼn Droom om ʼn tuiste vir studente te skep wat in Afrikaans wil studeer. Dié droom is verwerklik toe daar besef is dat dié droom nie net een mens s’n nie, maar dat ʼn hele klomp denkers dieselfde droom gedeel het.”

Die opening is waargeneem deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. Hy het sy waardering uitgespreek teenoor Akademia wat as akademiese tuiste ʼn bron van water is wat die dors van die gemeenskap les.

Die Akademia-koor het ʼn besondere bydrae tot die aand gelewer. Akademia se universiteitslied is vir die eerste keer bekendgestel. Die lied is geskryf deur prof. Hans du Plessis, skrywer en digter, en is gekomponeer deur Franco Prinsloo, Akademia se koordirigent. “Hierdie lied vat Akademia se visie saam en heg die sirkel van die verlede en die toekoms van Akademia. Die lied verbind alles wat Akademia hoop om te bereik,” sê dr. Dirk Hermann, direksielid van Akademia.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het die gaste op ʼn reis deur die instelling se afgelope tien jaar geneem tydens sy toespraak. “Hierdie geleentheid is daar vir ons as gemeenskap om in groot dankbaarheid terug te kyk op die werk wat reeds gedoen is en ook om ʼn blik op die toekoms te kry.”

Visser het sy toespraak afgesluit met die volgende: “Akademia is die akademiese tuiste waar die denke en die hart gevorm word vir ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. Ons visie verbind ons daartoe om ʼn tuiste te skep vir die Afrikaanse gemeenskap. Mag u, u kinders en kleinkinders, ʼn belewenis van tuiskoms by Akademia hê.”

Die Akademia-gedenkboek wat die laaste tien jaar van die instelling omvat is ook die aand bekendgestel en aan Visser oorhandig. “Die boek vertel die storie van hulle wat die visie gehad het om die spreekwoordelike hoeksteen van Akademia te lê; hulle wat begin bou het lank voordat ander die nood daarvoor raakgesien het; en hulle wat die fondasie gelê het van ʼn instelling wat broodnodige hoop bring aan ʼn gemeenskap. Mag ons hulle nooit vergeet wat dapper genoeg was (en steeds is) om te bou nie,” sê Ilze Nieuwoudt as skrywer van hierdie boek. Hierdie boek is beskikbaar op bestelling deur Die Winkel.

Die aand van prestige-tienjaarfeesviering was ook die verjaarsdag van wyle oudpresident Paul Kruger. Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, het tydens sy toespraak gesels oor die ooreenkomste tussen Kruger en Akademia. Beide die oudpresident en die instelling se lewensfilosofie rakende die sirkelagtige reis tussen die verlede en ʼn goeie toekoms stem volgens Goosen ooreen. Hy het toe die standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger onthul wat sedert vanjaar ʼn veilige tuiste by Akademia vind.

Die dekane van Akademia se vyf fakulteite, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid en Opvoedkunde het hul visie vir hul onderskeie fakulteite gedeel. “Ons het die dekane aangestel nog voor ons fakulteite gehad het, dit was dalk die roekelooste, maar beste besluit wat ons nog geneem het. Hulle is fantastiese mense,” het Hermann tydens die aand se rusbankgesprek vertel.

Tydens die rusbankgesprek het prominente figure in Akademia se sukses, Visser, Hermann, Flip Buys (direksielid), en Henk Schalekamp, (direksievoorsitter), gesels oor hoe Akademia vanaf slegs ʼn droom tot ʼn volle tien jaar gevorder het. Hulle het verder oor die instelling se toekomsplanne gesels wat ʼn omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria insluit. Die rusbankgesprek is afgesluit deur elkeen wat hul wense vir Akademia as instelling met die gehoor gedeel het.

Buys het ʼn heildronk ingestel op Akademia se dekade van pionierswerk en op die volgende dekades wat nog voorlê. “My wens vir Akademia is om ʼn wêreldklas universiteit in Afrikaans te wees.”

Schalekamp se wens vir Akademia is dat hy altyd op reis sal bly en nooit die vanselfsprekendheid en genoegdoening van ʼn bestemming ervaar nie. Hy het 1 Korintiërs 13:12 aangehaal: “Nou kyk ons nog in ʼn dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.” Hy sluit die aand af met die volgende woorde: “Mag Akademia aan hierdie dowwe spieël bly poleer om die mooie, goeie en ware vir ons oop te breek tot ons die volheid daarvan kan sien wanneer ons Verlosser weer kom.”

Laai gerus die foto’s van die aand hier af.

Akademia het ʼn dekade van pionierswerk gevier tydens ʼn glansfunksie wat op 10 Oktober by Sol-Tech-kampus in Pretoria gehou is.
Esté Gross, radio-omroeper van Pretoria FM, was die seremoniemeester van die prestigeverjaardagfunksie.
Die aand is bygewoon deur die personeel en studenteraad van Akademia sowel as vriende en donateurs van die instelling.
Die Akademia-koor het vir die heel eerste keer die universiteitslied, geskryf deur prof. Hans du Plessis en gekomponeer deur Franco Prinsloo, gesing.
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het die gaste toegespreek oor Akademia se tien jaar van pionierswerk.
Die Akademia-gedenkboek is tydens die funksie bekendgestel en aan Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, oorhandig.
Akademia het ʼn standbeeldreeks van oudpresident Paul Kruger onthul ter viering van die ooreenkomste tussen die instelling en die oudpresident.
Die aand is afgesluit deur ʼn rusbankgesprek deur die prominente rolspelers in Akademia se sukses, Flip Buys en dr. Dirk Hermann (direksielede), Marthinus Visser (besturende direkteur) en Henk Schalekamp (Akademia-direksievoorsitter). Esté Gross, seremoniemeester van die aand, het die gesprek gelei.