Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Internasionale Onderwysersdag: Om ʼn verskil in jou veld en gemeenskap te maak

Gepubliseer op: 5 Oktober 2022

Ter viering van Internasionale Onderwysersdag wat op 5 Oktober 2022 plaasvind, bedank Akademia al die onderwysers en studente-onderwysers wat ʼn verskil maak in ons land. Die tema van vanjaar se Internasionale Onderwysersdag is: “Die transformasie van opvoedkunde begin by onderwysers.”

Akademia het ten doel om goeie onderwysers op te lei wat ʼn verskil in hul veld en gemeenskap maak. “Die Fakulteit Opvoedkunde is hier om by te dra deur in hierdie behoefte en in die vraag na hoë kwaliteit onderwysers te voorsien,” sê prof. Gawie du Toit, die dekaan van die fakulteit. “Weens die aard en wese van opvoedkunde sal studente wat aan Akademia studeer, volledig toegerus word om as beginneronderwysers met selfvertroue hulle professionele loopbane in die onderwys te betree.”

Volgens Du Toit beskik goeie onderwysers oor die volgende kenmerke en vaardighede:

  • Hulle is passievol.
  • Hul stel hoë verwagtinge aan hul studente.
  • Hul het ʼn lewenslange liefde vir leer.
  • Hul bou goeie en volhoubare verhoudings met ander.
  • Hulle besef die belangrikheid van interafhanklikheid en verbondenheid.
  • Hul het ʼn aanpasbare leierskap- en bestuurstyl.
  • Hulle is ware pioniers.
  • As rentmeesters bou hulle voort op wat uit die verlede ontvang is en gee dit in ʼn beter toestand oor aan die geslag wat kom.

 

Akademia se missie is om die boonste kenmerke en vaardighede aan al ons opvoedkunde-studente oor te dra. “Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem met die snelveranderde onderwysomgewing,” noem Du Toit.

Een van hierdie studente is Carmen Matthee, ʼn student in die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys). “Om ʼn onderwyser te word, het nie net vir my daaroor gegaan om aan leerders feite oor te dra nie, maar om daardie oomblik vas te vang wanneer hulle ʼn konsep snap,” meen sy.

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde is verlede jaar op 5 Oktober 2021 amptelik tydens ʼn spogfunksie bekendgestel. “Dit is voorwaar wonderlik om te sien hoeveel opvoedkunde-studente vanjaar hul studiereis by Akademia afgeskop het,” meen Du Toit. Hy hoop dat elkeen van hierdie studente-onderwysers besef waar hul ware noord is en altyd ʼn daadwerklike rol speel in die kulturele vorming van die skoliere wat weer onder hul kennis en leiding sal floreer.

Indien jy ʼn passie vir onderwys het en ʼn kwalifikasie in die Fakulteit Opvoedkunde wil studeer, besoek gerus Akademia se webblad. 2023-studieaansoeke vir die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) sluit op 30 November 2022, terwyl die aansoeke vir BEd (Grondslagfase-onderwys) sowel as BEd (Intermediêre Fase-onderwys) op 31 Januarie 2023 sluit. Akademia – maak kennis met jou toekoms!

Akademia is ʼn studietuiste vir vele studente-onderwysers wat ʼn rol gaan speel in die opvoeding van die jeug van die toekoms.