Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Senior rekenmeester deel haar studente-ervaring by Akademia

Gepubliseer op: 5 Oktober 2022

Hanri Grobler is een van Akademia se heel eerste studente wat in 2021 vir die Nagraadse Sertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys, ook bekend as NGOS, op die nauurse afstandsmodel ingeskryf het. Sy is ook ʼn voltydse senior rekenmeester van 57 jaar met ʼn passie vir opvoedkunde.

Grobler het besef dat sy naby aftrede staan maar dat sy nog lank nie gereed is om by die huis stil te sit nie. Sy het dus besluit om ʼn nuwe beroepsrigting na te streef en het dadelik vir die NGOS-kwalifikasie ingeskryf by Akademia. “My dogter het my gevra wanneer ek op my gelukkigste was in my lewe en dit het dadelik opgekom dat dit die tye was waar ek met kinders gewerk het. Ek het toe besef dat die NGOS-kwalifikasie die perfekte oplossing vir my is,” vertel sy.

Grobler glo dat dit eintlik vir haar makliker is om die nuwe loopbaanreis op haar ouderdom aan te pak aangesien haar kinders reeds uit die huis uit is. “Ek het nog soveel liefde en aandag om aan kinders te bied en nou is eintlik die ideale tyd daarvoor. Mens is nooit te oud om nuwe drome te droom nie,” vertel sy. Ná haar aftrede wil sy graag haar passie vir onderwys benut deur aanlyn tutoring te doen. “Dit is ʼn baie interaktiewe rigting en mens kan dit vanaf enige plek in die wêreld doen, dus maak dit vir my maklik as ek by my kinders wil gaan kuier.”

Aangesien sy steeds bedags voltyds werk, moes sy vooraf reëlings tref om die 40 dae proeftydperk suksesvol te voltooi. “Ek het besef dat die program baie omvattend is en het daarom besluit om die praktiese proeftydperk oor twee jaar te voltooi,” sê Grobler. Sy het ook voor haar studies afgeskop het reeds met haar werkgewer gesels oor haar studies en wat dit alles behels. Sy raai voornemende studente wat voltyds werk om dieselfde te doen en om genoeg verlof byderhand te hou vir die proeftydperk.

Sy vertel dat dit ʼn groot voorreg was om haar eerste proeftydperk by ʼn skool vir kinders met spesiale behoeftes te kon aflê. “Dit was ongelooflik om te sien hoe omvattend die skool bedryf word. Daar is arbeidsterapeute, spraakterapeute, sielkundiges en onderwysers wat almal saamwerk om die kinders se lewens te verbeter,” noem Grobler. “Toe ek by die huis kom ná my eerste dag van die proeftydperk het ek vir my man gesê dat daar ʼn hele nuwe wêreld vir my oopgegaan het.”

Grobler vertel verder dat die onderwysstelsel deur die jare baie verander het. “Vroeër jare is kinders met ʼn lepeltjie gevoer, maar vandag word die skoliere voorberei om deel van hul eie leerproses te wees,” sê sy. Sy meen dat dit egter baie voorbereiding van onderwysers neem en dat alhoewel hul dit soms maklik laat lyk, dit baie tyd en energie in beslag neem. Sy het ook besef dat baie mense, haarself inkluis, ʼn wanopvatting het oor die jeug van vandag. “Elke skool, klas en kind is uniek met hul eie karakter. Met die regte vaardighede kan mens soveel positiwiteit uit die skoliere bring.”

Grobler noem dat haar rekenaarvaardighede beslis opgeskerp is tydens haar studies. “Ek het gedink ek weet alles van rekenaars af aangesien ek in die rekenkundige bedryf werk, maar daar is baie programme wat ek moes aanleer.” Aangesien die NGOS-kwalifikasie op die nauurse afstandsmodel aangebied word, is al haar kontaksessies, toetse en eksamens aanlyn afgelê. “Die kontaksessies bied vir ons as studente steeds die geleentheid om direk vrae aan die dosente te kan rig en om openlik te kan gesels oor uitdagings wat ons ondervind. Dit maak van Akademia ʼn unieke leerervaring.”

As deel van die NGOS-kwalifikasie leer die studente ook die basiese beginsels van ʼn Afrikataal as gesprekstaal. Vir Grobler was dit nog altyd ʼn passie om ʼn Afrikataal aan te leer en sy sê dat sy hierdie vaardigheid altyd met haar kan saamneem. “Om in iemand anders se moedertaal met hul te kan kommunikeer is wonderlik en dit maak vir my baie deure oop,” sluit sy af. Akademia wens haar die beste toe met haar loopbaanreis en kan nie wag om te sien wat sy alles gaan vermag nie.

Hanri Grobler gesels op die KykNET-program (kanaal 144), Huppel in die Stap, vanaf 17:30 wat verskyn op 14 Desember. Kyk gerus saam!

Indien jy ʼn passie het vir onderwys en graag ʼn loopbaan daarin wil volg, besoek gerus ons webblad om meer uit te vind oor die NGOS-kwalifikasie by Akademia. Studieaansoeke vir 2023 sluit op 30 November 2022. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Hanri Grobler is een van Akademia se heel eerste studente wat die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys studeer terwyl sy voltyds as senior rekenmeester werk. Hier is sy saam met Bettie Kemp van Huppel in die Stap.