Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Woordeboekdag: Is jou woordeboek ʼn deurstopper of ʼn deur na ʼn lewende taal?

Gepubliseer op: 13 Oktober 2022

Geskryf deur Karien Brits, Akademia se taalpraktisyn

“Ek gebruik my woordeboek elke dag,” hoor ek ʼn jongmens, so met die selfoon in die een hand, nou die dag in ʼn koffiewinkel gesels. My hart swel sommer van trots en dankbaarheid, maar net tot ek die volgende deel hoor: “As ʼn deurstopper”.

Ons moet dalk nie te gou swaarmoedig oor die jong geslag (generasie Z en die generasie daarna) se misbruik van woordeboeke raak nie. Veral nie op Woordeboekdag, die geboortedag (16 Oktober 1758) van Noah Webster nie. (Webster word allerweë as die vader van die Amerikaanse leksikografie beskou.) Dit is juis ʼn dag waarop alle generasies kan terugkyk op die ontwikkeling van woordeboeke oor al die eeue heen.

Die eerste woordeboeke in menseheugenis is waarskynlik ook later as deurstoppers en vuuraanstekers gebruik, want die eerste woordboeke was op kleitablette en papirusblare. Woordboeke het van tematiese ordening verskuif na alfabetiese ordening (daar is wel nog woordboeke wat nie alfabetiese georden word nie). Waar die woorde fisies op kaartjies aangeteken is en in klein laaitjies gebêre is, word dit deesdae in elektroniese korpora op rekenaars gestoor. Dit het natuurlik die oorgang van gedrukte woordeboeke na CD-ROM-formaat en later na aanlyn woordboeke vergemaklik.

Net soos wat die formate van woordeboeke verander het, het die aanslag en gebruik van woordeboeke ook verander. Prof. Rufus Gouws skryf in sy 2016-artikel “Op pad na ʼn omvattende woordeboekkultuur in die digitale era” wat in Lexikos verskyn het oor hoe Generasie Z, oftewel die netbewoners (“netizens”) “ander verwagtinge aan naslaanbronne” stel. Volgens Gouws is die gedrukte woordeboeke nie meer hierdie generasie se voorkeurleesstof nie, maar hulle het ʼn voorkeur aan gratis aanlyn leesstof.

Dit beteken darem gelukkig nie dat woordeboeke dood is nie. Soos wat die kleitablette van ouds nuttige instrumente in hulle gebruikers se hande was, is die aanlyn woordeboeke van vandag ook onontbeerlike bronne in ons digitale era. Woordeboeke en woordeboekmakers help ons steeds om die regte woorde in te span. Gebruik dan jou woordboeke as deurstoppers, maar hou die deur na die digitale woordeboek op jou slimfoon oop. Daardie paar rand wat jy aan die lisensiegeld betaal hou ons tale lewendig en relevant.

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.