Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se koffiewinkel, Sowel As, vier eerste verjaarsdag

Gepubliseer op: 18 April 2024

ʼn Volle jaar nadat Akademia se eerste koffiewinkel, Sowel As, sy deure oopgeswaai het kyk die instelling terug op 365 dae vol hoogtepunte. Dié koffiewinkel wat op die Leriba-kampus in Centurion geleë is, het op 17 April 2023 sy eerste koppie koffie bedien en sedertdien is méér as 5 000 koppies boeretroos verkoop.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, het die koffiewinkel alle verwagtinge oortref en dit is nou verweef in die Akademia-ervaring. “Sowel As is na ʼn jaar gevestig as ʼn ware kuieroase vir Akademia se personeel, studente, alumni en gemeenskapsvriende,” sê Swanepoel. Sy vertel hoe die idee van ʼn eie koffiewinkel vir etlike jare gekoester was, en dat dit lekker is om te sien hoe dié pypdroom gestalte kry. Waar die koffiewinkel aanvanklik slegs deur koshuisstudente, nauurse afstandstudente by Akademia se sentrum in Centurion en ʼn handjievol personeel besoek is, is dit vandag ʼn miernes van bedrywigheid. Konferensie- en simposiumgangers asook internasionale besoekers tel deesdae onder die koffiewinkel se gereelde gaste.

Swanepoel sê dat die afgelope jaar verskeie hoogtepunte vir Sowel As ingehou het. Sy verwys onder meer na spesiale geleenthede soos die wynproegeleentheid saam met die wynmaker, Wynand Grobler, ʼn koffieproe saam met die koffiekenners van Bun Bun Roastery en ʼn pizza-en-wyn-kuiergeleentheid. Huis Strelitzia se ma-en-dogter-oggend en verskeie byeenkomste waaronder die SAIMS-konferensie in September verlede jaar, Akademia-personeelvergaderings en die onlangse joernalistieksimposium verteenwoordig nóg hoogtepunte op die koffiewinkel se kerfstok.

Behalwe vir die groei in die besoekersgetalle, is die koffiewinkel se spyskaart ook aansienlik uitgebrei. Vandag kan besoekers weglê aan ʼn verskeidenheid versnaperinge waaronder sjokolade bruintjies, pofryskoekies, mini-kaaskoekies en koekiefudge. Warm en koue drankies, soos melkskommels en freezos, is ook beskikbaar. Volgens Swanepoel geniet die koekiefudge en wegneem-cappuccinos en warmsjokolade die grootste voorkeur onder besoekers.

Conrad Prins, ʼn LLB-student op die nauurse afstandsmodel, is ʼn bekende gesig by Sowel As. Hy werk sedert die koffiewinkel se begindae as barista. “Ek het al só baie geleer sedert ek die Sowel As-voorskoot oor my kop getrek het! Behalwe vir kliëntediensvaardighede het ek ook geleer hoe om voorraad te bestuur, basiese finansiële transaksies uit te voer én hoe om koelkop onder druk te funksioneer,” sê Prins. Hy voeg laggend by dat Fonties ʼn wye koffiesmaak het. Daar is diegene wat hul koffie óf sterk (americano) óf soet (caffè mocha) óf melkerig (caffè latte) verkies, terwyl die meer waaghalsiges ʼn dirty chai geniet.

Volgens Swanepoel spog die koffiewinkel op die oomblik met ʼn span van tien baristas, almal studente. Opleiding word deur gesoute koffiekenners aangebied en behalwe vir eerstehandse ervaring, verdien die studente ook ʼn paar rand in die proses. “Die droom is om selfs meer studente die geleentheid te bied om by die span aan te sluit en op dié manier vervul Sowel As sy verbintenis tot die gemeenskap deur werkskepping en praktyksopleiding te bevorder,” verduidelik Swanepoel. Sy voeg by dat die koffiewinkel ook aan plaaslike entrepreneurs die geleentheid bied om as verskaffers op te tree.

Verskeie projekte word vir die toekoms beplan soos byvoorbeeld ʼn koffiewaentjie, uitbreiding na Akademia se sentrums in Bloemfontein, die Moot en George asook ʼn opwindende reeks handelsmerkprodukte soos voorskote en koffiebekers.

Die naam Sowel As spreek tot die instelling se vormingsideaal en simboliseer die ontwikkeling van die denke sowel as die hart met die oog op ʼn vrye toekoms. In die lig hiervan sê Swanepoel dat net soos wat studente blootgestel word aan méér as net hul onderskeie dissiplines, en individuele ontwikkeling en groei, sy die hoop uitspreek dat die koffiewinkel sal voortgaan om méér as net ʼn tradisionele koffie-en-kuier-ervaring aan besoekers te bied. “Mag Sowel As in die volgende jaar steeds toeneem in gewildheid en waarlik aan elkeen ʼn ware Akademia-ervaring bied – een waar ʼn ieder en ʼn elk tuis voel,” sluit Swanepoel af.

Vir meer besonderhede, of om as student of personeellid die koffiewinkel vir ʼn spesiale geleentheid te bespreek, stuur ʼn e-pos na sowelas@akademia.ac.za. Hou gerus Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting en spesiale aanbiedinge. Volg ook gerus Sowel As hier op Instagram.

Akademia se eerste koffiewinkel, Sowel As, het onlangs sy eerste verjaarsdag gevier.
Barista, Conrad Prins, en Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, glimlag breed op Sowel As se verjaarsdag.