Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Wêreldboekedag: Akademia omhels die ryke nalatenskap van boeke

Gepubliseer op: 23 April 2024

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris van Akademia se mediasentrum.

Wêreldboekedag, ook bekend as Wêreldboeke- en Kopieregdag, word jaarliks op 23 April gevier. Die doel van dié dag, wat in 1995 tot stand gekom het, is om lees, die uitgewersbedryf en kopiereg te bevorder. Méér nog, dit beklemtoon die waardevolle nalatenskap wat tussen die bladsye van boekversamelings vervat word.

Akademia se mediasentrum, as ʼn bewaarplek van kennis, omhels op Wêreldboekedag opnuut die wonderlike skrywers wie se werke in elke moontlik genre wêrelde oopbreek en só begrip kweek en intellektuele groei bevorder. Hierdie boeke vang ook kulturele erfenis en tradisies vas wat van generasie tot generasie oorgedra word.

Die lees en gevolglike waardering van ʼn boek laat ʼn leser nooit onaangeraak nie. ʼn Goeie boek kan daarin slaag om die verlede te verduidelik, om jou wortels en herkoms beter te verstaan en om uiteindelik jou identiteit te ontwikkel en te verwoord.

Boeke skyn nie net ʼn lig op waarhede en wyshede nie, maar verkwik ook die siel deur vermaak uit die boonste rakke te bied. Op dié manier word die leser na ʼn denkbeeldige wêreld vervoer, waar nuwe perspektiewe en emosies ervaar kan word. Hierdie einste ervarings ontwikkel kritiese denkvaardighede en help die leser, by wyse van multidimensionele karakters en nuwe omgewings, om sin uit sy/haar eie wêreld te maak. Ontleding, interpretasie en evaluasie word gevolglik die leerpraktyke waarop begrip voortgebou word. Emosionele intelligensie is nóg ʼn aspek wat deur aktiewe lees bevorder word. Laasgenoemde verwys na die leser se vermoë om die menslike natuur beter te begryp en hom/haarself met die karakters en hul omstandighede vereenselwig.

Die blootstelling aan uiteenlopende woordeskatte, soos in die verskeie genres vervat, verbeter nie net taalvaardighede nie, maar ook algemene kommunikasievaardighede. Lees as ʼn terapeutiese aktiwiteit bekamp stres en verteenwoordig ʼn gesonde ontsnappingsaktiwiteit.

Boekversamelings spieël voorts die wysheid, prestasies en die strewe van verskeie generasies – vervloë en hedendaags. In die lig hiervan is Akademia dankbaar om as tuiste te dien vir verskeie spesialisversamelings. Hierdie versamelings sluit onder meer in die Johan Olivier se hofverslaeversameling (1947 tot 2008), die Joost van den Vondel-versameling (Nederlandse digkuns), die prof. Edith Raidt-versameling (Afrikaanse taalkunde), die dr. Natie van Vuuren-versameling (Afrikaanse taalkenner) en die Nongqai-joernaal (tydskrifjoernaal van die Suid-Afrikaanse magte).

Die skenking van boeke aan Akademia se mediasentrum verryk nie net die sentrum se boekversameling nie, maar verbreed ook die verskeidenheid en diepte van hulpbronne aan gebruikers en meer spesifiek navorsers. In hierdie opsig bevorder skenkings die mediasentrum se status as ʼn splipunt vir leer en navorsing. Die verkryging van boeke deur skenkings verminder ook die behoefte om nuwe bronne aan te koop wat die mediasentrum in staat stel om hulpbronne aan ander belangrike dienste toe te ken, soos byvoorbeeld die aankoop van elektroniese databasisse. Akademia as rentmeester van hierdie spesialisversamelings is daarom verbind tot die bewaring van die Afrikaanse kultuurerfenis. Hierdie versamelings sluit boeke in wat skaars is en nie maklik bekombaar is nie, boeke wat uit druk is, en waardevolle historiese artefakte.

Vir meer inligting oor die mediasentrum se spesiale versamelings stuur ʼn e-pos na biblioteek@akademia.ac.za of besoek hul webblad hier.

Lianda Coetzer, bibliotekaris van Akademia se mediasentrum, meen boeke vergestalt elke generasie se nalatenskap van wysheid, prestasies en strewe na uitnemendheid.