Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia ken 226 kwalifikasies toe

Gepubliseer op: 12 Maart 2021

Die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling Akademia ken op Vrydag 12 Maart 226 welverdiende kwalifikasies in absentia toe. Hierdie kwalifikasietoekennings is die meeste wat Akademia nog toegeken het, en ʼn reusetoename vanaf die instelling se eerste plegtigheid in 2013, waar tien kwalifikasies oorhandig is. In totaal word 128 grade, 14 gevorderde diplomas en 83 hoër sertifikate vanjaar oorhandig. ʼn Groot jaarlikse toename in kwalifikasies word verwag namate Akademia se studentegetalle en programaanbod groei.

Volgens Liana Venter, registrateur by Akademia, is die instelling veral trots op hierdie studente wat ten spyte van die ontwrigtings en onsekere tye wat weens Covid-19 veroorsaak is, hulle studies suksesvol voltooi het. “Hierdie studente se toewyding en doelgerigtheid gaan nie ongesiens verby nie en inspireer almal om hulle. By Akademia besef ons dat die jaar – gegewe omstandighede en veral omdat die meerderheid van studente bedags werk – nie altyd maklik vir studente was nie, maar hulle het ons verwagtinge met uitnemende prestasies oortref.”

Toppresteerders in die onderskeie programme is die studente met die hoogste prestasie in die kwalifikasie onder diegene wat ʼn minimum gemiddeld van 75% deur die loop van die program gehandhaaf het. Die volgende toppresteerders vir 2020 word in die besonder gelukgewens:

  • Janette Alberts: BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Jacobus Cornelius van der Walt: BCom (Ekonomie en Regte)
  • Ilse Poole: BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Ben Reynecke Fouché: Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Cecilia Johanna Engelbrecht: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Michelle van Wyk: Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

 

Weens die huidige inperkingsmaatreëls wat groot funksies beperk word Akademia genoodsaak om vanjaar se kwalifikasies in absentia te oorhandig. Daar word beoog om later vanjaar, sodra regulasies dit toelaat, ʼn amptelike erkenningsgeleentheid te hou om hierdie prestasies te vier. “Studente het onverpoosd gewerk om hierdie kwalifikasies te voltooi, en Akademia-personeel sal graag saam met die afgestudeerde studente wil feesvier,” sê Venter. “Daarom is die erkenningsgeleentheid bloot uitgestel en nie afgestel nie.”

As ʼn roepinggedrewe instelling is dit belangrik dat hierdie afgestudeerde studente ook hulle roepingsbesef binne en ten dienste van hul eie gemeenskap of gemeenskappe sal uitlewe. Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, meen dat die instelling dit deur twee oorhoofse oogmerke bevorder, naamlik deur die lewering van hoogstaande opleiding sowel as diepgaande opvoeding.

“Met ʼn fokus op opleiding stel Akademia ons studente in staat om die bes moontlike skoling in bepaalde dissiplines (onder andere die rekeningkunde, die onderwys, die reg, ondernemingsbestuur, die ekonomie, die politieke wetenskap) te ontvang.” Hy meen dat studente só toegerus word om hul plek ten volle in die arbeidswêreld in te neem en ʼn suksesvolle loopbaan te volg.

Goosen noem dat opvoeding aan die ander kant studente in staat stel om nie nét gespesialiseerde kennis van spesifieke dissiplines te ontvang nie, maar om noodsaaklike insig te ontwikkel om die samehang tussen die verskillende dissiplines te verstaan. “Akademia gaan uit van ʼn algemeen aanvaarde standpunt dat studente wat inderdaad die geheel kan raaksien ook in hul menswees gevorm en verdiep word. Sodanige studente word by uitstek toegerus om ook die volwasse lewe met ʼn oop, kritiese en roepingbewuste wyse te betree.”

Uiteindelik word alumni gekweek wat aan internasionaal erkende standaarde vergelyk, maar wat ook gevorm is met die oog op insig in die geheel van dinge. “Alhoewel ons talle maatstawwe kan gebruik om ‘sukses’ aan te meet, beklemtoon Akademia met sukses dat ons afgestudeerde studente groot vreugde in die beroepslewe sal ervaar – ʼn vreugde wat spruit uit die wete dat hulle hul beroep op ʼn voortreflike wyse beoefen.”

Akademia verwelkom graag 2020 se afgestudeerde studente as alumni, en wens hulle alle voorspoed toe met hul loopbaanreis. “Ons wens vir hulle is om wesenlike verskille in die werkplek en in die gemeenskappe maak waar hulle hulself bevind, en aktief betrokke by die alumni-netwerk te wees. Wie weet, dalk verwelkom ons hulle weer in die nabye toekoms vir verdere studies,” vertel Venter.

Die kwalifikasieplegtigheid­program vir 2021 is op die Akademia-webblad gepubliseer. Hierdie kwalifikasieprogram is die wettige raamwerk vir die toekenning van kwalifikasies en word ook ingesluit in die jaarverslag wat by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ingedien word.