Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die toekoms van weer, klimaat en water oor geslagte heen

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Akademia het op Donderdag 23 Maart die navorsingsuitslae van die #Studentelewe-veldtog aanlyn bekendgemaak. Die bekendstelling het gepaardgegaan met ʼn paneelgesprek en die deelnemers was Marthinus Visser, besturende direkteur, Douard d’Assonville, bestuurder: studentelewe en koshuise en Rika Nieuwoudt, departementshoof en dosent. Hulle het die navorsingverslag se hooftemas bespreek asook hoe Akademia se reeds gevestigde studentelewe hierby aansluit.

Akademia het in 2022 die navorsingsveldtog van stapel gestuur om Afrikaanse alumni se beste #studentelewe-oomblikke vas te vang. Die doel hiervan was om te kyk wat die elemente van ʼn gesonde studentelewe is wat jongmense tydens hulle studies vorm en om te bepaal hoe die studentelewe van ʼn Afrikaanse universiteit behoort te lyk. Oudalumni van verskeie hoëronderwysinstellings, sowel as bekendes soos Bennie Fourie, Daniëlla van Heerden, Bok van Blerk en Mila Guy het deelgeneem.

“Oudstudente se studentestories is ʼn bousteen vir Akademia se groeiende studentekultuur. Vanweë die studentelewe word daar aan gemeenskaplike sake deelgeneem; word gemeenskapsbande gestig; word vorm aan ons ideale en drome gegee; word saam feesgevier. Kwalik enige ander geskenk laat ʼn blywende indruk op ons as só ʼn studentelewe,” vertel prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, oor die belangrikheid van ʼn studentelewe.

Tesame met ʼn webblad en ʼn Facebook-blad waar die publiek aangemoedig is om hul stories en herinneringe te deel, is daar ook ʼn elektroniese vraelys op SurveyMonkey saamgestel. 487 respondente vanuit 23 hoëronderwysinstellings het uiteindelik die vraelys voltooi.

Daar is ook stories op die Studentelewe-webblad en Facebook-blad gedeel en sommige respondente het selfs stemboodskappe gestuur. Hierdie data is deur middel van inhoudsanalise deur Solidariteit Navorsingsintituut ontleed om spesifieke temas te identifiseer.

In die volledige verslag brei Akademia uit oor die temas wat vanuit respondente se reaksie uitstaan en word daar meer inligting gegee rakende die studenteaktiwiteite wat by Akademia plaasvind. Verder word daar ook verduidelik waarheen Akademia op pad is en hoe die uitslae van die veldtog as bloudruk aangewend kan word.

Die hooftemas wat in die verslag ten vore gekom het, is:

  • Studentekultuur
  • Koshuislewe
  • Karaktervorming

Volgens d’Assonville presteer Akademia reeds op al drie die terreine. Uit die verslag word dit gemeld dat die gebeure wat buite die klaskamer plaasvind, ʼn integrale deel van die opleidings- en opvoedingservaring van ʼn student by Akademia is. Die buitemuurse studentelewe aan Akademia word gerig deur die vormingsideaal wat die instelling vir sy studente nastreef.

In die verslag word daar bespreek dat Akademia se studentelewe deugde soos karaktervorming, integriteit, wysheid, vriendskap en die sin vir gemeenskap ondersteun, wat weer die instelling se verbintenis tot opvoeding en vorming ondersteun en versterk.

In die paneelgesprek lig d’Assonville uit dat mens uit die verslag kan sien dat dit ʼn groot voorreg is om ʼn nuwe studentelewe te kan skep en bou, maar ook dat dit ʼn groot verantwoordelikheid is om die erfenis van studentelewe aan ʼn nuwe generasie oor te dra.

Hy vertel dat mens in die verslag kon sien dat dit nie nodig is om die wiel te herontwerp nie en dat Akademia beslis op die regte pad is. “Ons by Akademia is trots om dit waaraan ons ouers en grootouers gebou het te koester en uit te bou. Ons sien daarna uit om verder te bou aan ʼn gesonde, bruisende en lewenskragtige studentelewe vir Afrikaanse studente.”

Visser noem tydens die paneelgesprek dat die uitslae van die navorsingsverslag sy vermoedens rakende die impak van studentelewe sterk bevestig het. “Ons sien in die verslag dat ʼn sterk studentelewe saam met akademie die vol pakkie maak.”

Hy sê verder dat hy gerus voel oor die vordering van Akademia se groeiende studentelewe na aanleiding van die navorsingsuitslae van die #Studentelewe-verslag. “Die verslag toon dat Akademia die behoefte van die Afrikaanse student verstaan. Ons skep ʼn gemeenskap vir ons studente, werk aan iets groter as net onsself en lewe binne ʼn waarderaamwerk wat ʼn deurslaggewende faktor in die verslag was.

In die paneelgesprek het Visser ook Akademia se leuse ad futurum per fontes beklemtoon wat beteken vanuit die bronne na die toekoms. “Ons gaan dus hierdie navorsing oor die bronne van studentelewe bestudeer, die goeie daaruit neem en dit herverpak om ʼn goeie studentelewe vir Akademia te bou.

Visser het die paneelgesprek afgesluit deur Akademia se droom te deel wat ʼn volledige kampus in die ooste van Pretoria insluit. Hy het genoem dat hierdie kampus vinnig in wording is en dat dit al die aktiwiteite van Akademia se studentelewe sal kan huisves. “Alhoewel ons nog nie op die droomkampus is nie, hou dit geensins ons studente terug nie,” noem Visser. “Ons sien uit om die erfenis van ons Afrikaanse alumni landswyd te kan uitbou op hierdie nuwe kampus.”

Klik hier om die verslag af te laai.

Klik hier om die paneelgesprek te kyk.

Indien jy by Akademia wil betrokke raak en Akademia se groeiende studentelewe wil help uitbou, klik gerus hier om ʼn verskil te maak.

Die navorsingsuitslae van die #Studentelewe-veldtog sal ʼn rol daarin speel om Akademia se bruisende studentelewe verder uit te bou.