Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Gryp die geleentheid aan om jou kennis te verdiep

Geskryf deur Michelle van Niekerk, studenteondersteuningskoördineerder by Akademia

Toetse en eksamens kan baie stresvol wees, veral as dit voel of mens nie genoeg voorberei het vir die toets nie. Stres is egter nie altyd ʼn slegte ding nie, soms help die stres ons juis om aan die gang te kom en gemotiveerd te bly. Wanneer dit voel of ons buite beheer van die situasie is en nie genoeg tyd op hande het om deur al die werk te kom nie, verander die stres dikwels in ʼn gevoel van angstigheid, en dan is dit wanneer die stres verander van gesonde stres na ongesonde stres.

Dit is belangrik om te onthou dat die doel van toetse en eksamens nie is om ons uit te vang of vas te vra nie. Dit is eerder ʼn geleentheid is waar die dosent kan toets of die werk en konsepte wat tydens kontaksessies verduidelik is, werklik verstaan word sodat dit eendag in die werksplek toegepas en uitgevoer kan word. Dit is verder ook ʼn geleentheid vir jou om jou kennis te verdiep en te poog om die werk in jou langtermyngeheue te vestig.

Die wyse waarop ons dink en leer, gaan nie vir almal dieselfde lyk nie. Hier is egter ʼn paar wenke wat toegepas kan word om effektief vir ʼn toets voor te berei:

  1. Begin deur vroegtydig beplanning te doen oor hoe en wanneer jy gaan leer. Vir een persoon gaan dit beteken dat ʼn streng gedetailleerde rooster opgestel moet word en vir ʼn volgende persoon gaan dit bloot wees om die belangrike datums neer te skryf. Maar die belangrikste is om op papier (of elektronies) neer te pen wat gedoen moet word en sodoende daarvolgens te beplan.
  2. In aansluiting by bogenoemde punt, is dit belangrik om vroegtydig te begin om te leer vir ʼn toets, sodat die werk in jou langtermyngeheue gestoor word en nie bloot in die korttermyngeheue nie.
  3. Daar is verskeie leermetodes en -tegnieke. Gaan doen bietjie navorsing oor die verskillende metodes, vind die metode(s) wat die beste vir jou werk en leer daarvolgens. Dit is selde genoegsaam om bloot een keer deur die handboek te lees.
  4. Herhaal, herhaal, herhaal. Hoe meer ons iets hoor en sien, hoe groter die kans dat ons dit gaan onthou oor die lang termyn. Indien dit moontlik is, werk dit by jou beplanning in om die werk en opsommings meer as een keer na te gaan. En probeer om dit so prakties as moontlik vir jouself te maak, sodat jy dit beter verstaan en kan toepas.
  5. Maak seker jy handhaaf ʼn balans en het gesonde leerpatrone. Rus genoeg tussen deur die leerwerk, drink baie water, eet kosse met die regte voedingswaarde en wat vitamines bevat, en maak seker dat jy gereeld vars lug inasem. Dit is ook uiters belangrik om genoeg slaap in te kry.

Wanneer die tyd aanbreek vir jou om toets te skryf en jou senuwees wil met jou weghardloop, staan vir ʼn oomblik stil (of indien jy reeds in die studiesaal is, sit vir ʼn oomblik waar jy is) en haal diep asem – vyf tellings in, vyf tellings uit, en herhaal dit vier keer. Herinner jouself dan ook dat jy hard geleer het en dat jy nou slegs jou beste kan gee. Voorspoed met die toetse en eksamens, Fonties!

Michelle is die studenteondersteuningskoördineerder by Akademia met ʼn hart vir studente