Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-mediasentrum – van 2021 tot nou

Ter viering van Nasionale Biblioteekweek wat op 20 Maart afskop, word daar teruggekyk op die reis van die Akademia-mediasentrum wat op die Centurion-kampus geleë is. Die Akademia-mediasentrum het op 4 Januarie 2021 onder leiding van Lianda Coetzer, bibliotekaris, sy deure oopgemaak op die Centurion-kampus van Akademia. Voorheen was daar slegs ʼn aanlyn biblioteek wat nou tesame met die fisiese mediasentrum die nauurse afstandsmodel sowel as die voltydse kampusmodel se studente met gehalte bronne en boeke bedien.

Die mediasentrum op kampus beskik tans oor 8 000 harde kopieë wat voorgeskrewe handboeke en skenkings insluit. Die onderstaande skenkings is uniek tot die Akademia-mediasentrum:

  • P. van Wyk Louw-versameling
  • Edith Raidt se boekery
  • Natie van Vuuren se boekversameling wat uit 3 000 boeke bestaan

Die aanlyn biblioteek gee steeds aan studente toegang tot ʼn verskeidenheid bronne. Die aanlyn biblioteek is op die Spens, Akademia se leerbestuursplatform, beskikbaar en is ingeteken op die EBSCOHost-databasis wat toegang verleen tot Business Source Complete, ERIC, Communication & Mass Media Complete, EconLit en Education Research asook die JutaStats en LexisNexis-databasisse.

Bogenoemde databasisse verleen toegang tot 750 000 volteksdokumente wat bestaan uit joernaalartikels, e-boeke, konferensieverslae, beleide en kurrikulumgidse. Die argiefdokumente op die databasisse dateer terug tot 1920. Die e-boekversameling bestaan uit 15 000 boeke wat relevant is tot alle vakgebiede. JutaStats en LexisNexis bied toegang tot regsjoernale, Suid-Afrikaanse hofverslae vanaf 1947 en Suid-Afrikaanse Statute en Regulasies. ʼn Verskeidenheid van ooptoegangsbronne is ook op dié biblioteek beskikbaar.

Opleiding in die gebruik van die aanlyn biblioteek deur personeel en studente is ʼn hoë prioriteit aangesien die mediasentrum ʼn belangrike rol in die akademiese reis van die dosente en studente speel. Die navorsing wat binne Akademia deur akademici gedoen word, versprei na alle vlakke van die menslike beskawing en daarom verleen die personeel van die mediasentrum kardinale ondersteuning aan die navorsers rakende toegang tot inligtingsbronne.

Die Akademia-mediasentrum groei van krag tot krag, waar daar in Januarie 2021 met ʼn stewige aantal boekdonasies begin is, staan daar vandag ʼn volwaardige mediasentrum, wat toegang bied tot ʼn verskeidenheid inligtingsbronne in verskillende formate wat toeganklikheid verseker.

Akademia se mediasentrum is in 2021 begin met slegs ʼn paar boekdonasies en rakke.
Akademia se mediasentrum staan vandag sterk met ʼn volledig toegeruste lokaal sowel as ʼn gehalte aanlyn biblioteek.