Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia ken die meeste kwalifikasies nog toe

Gepubliseer op: 21 April 2022

Akademia ken die meeste kwalifikasies nog toe tydens die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid wat op 21 en 22 April gehou is. ʼn Totaal van 339 kwalifikasies is in persoon by die Atterbury Teater in Pretoria oorhandig. In totaal word 146 grade, 16 gevorderde diplomas, 14 nagraadse diplomas, 42 nagraadse onderwyssertifikate en 121 hoër sertifikate oorhandig.

Die afgelope twee jaar het Akademia kwalifikasies in absentia toegeken. Dit is  ʼn groot voorreg vir Akademia om vanjaar die kwalifikasies in persoon te kan oorhandig. “Die nuwe afgestudeerde studente het vir meeste van hul studies onder die Covid-19-pandemie se juk gebuk gegaan. Dit is daarom ʼn baie spesiale oomblik om in persoon saam met hulle geliefdes en dosente, hul sukses, deursettingsvermoë en harde werk te kan vier,” sê Liana van Rooy, registrateur by Akademia. “Die studente het beslis geseëvier en bo die ontwrigting uitgestyg om as volronde afgestudeerde by ons instelling uit te stap.”

“Dit is vanjaar ons tiende jaar van pionierswerk en is dit met dankbaarheid dat ons die groei van die afgelope dekade kan ervaar. Tydens die eerste plegtigheid in 2013 het ons tien kwalifikasies toegeken, en kyk net waar is ons vandag. Jaar ná jaar groei ons teen ʼn snelle pas,” vertel Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia.

Daar word verwag dat die toename in kwalifikasies stewig sal groei aangesien daar jaarliks nuwe programme uitgerol word en die studentegetalle dus sterk toeneem. Twee van die nuwe kwalifikasies is BEd (Grondslagfase-onderwys) en BEd (Intermediêre Fase-onderwys) wat vanaf 2022 aangebied word.

Dit is ook die eerste jaar dat die instelling alumni in die volgende programme het:

  • BSocSci (Politiek, Ekonomie en Regte)
  • Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
  • Nagraadse Diploma in Belasting
  • Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde

 

“Ons is in veral trots op die toppresteerders wat ten spyte van pandemie-uitdagings steeds uitnemend presteer het,” sê Van Rooy. Toppresteerders in die onderskeie programme is die studente met die hoogste prestasie in die kwalifikasie onder diegene wat ʼn minimum gemiddeld van 75% deur die loop van die program gehandhaaf het. Die volgende toppresteerders vir 2021 word in die besonder gelukgewens:

  • August John Fred de Koker – BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Gerhardus Hermanus Stephanus Pretorius – BCom (Ekonomie en Regte)
  • Bradley Christopher Smith – BCom (Finansiële Beplanning)
  • Amanda-Lee Jordaan – BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Robert Moore – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Maria Elizabeth le Roux – Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Tania de Bruyn – Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Chanelle Booyens – Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
  • Amëlia Marais – Nagraadse Diploma in Belasting
  • Charné Faure – Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
  • Jaco Conradie – Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)

 

Volgens Visser is die nuwe afgestudeerde studente goed voorbereid vir hul loopbane. “Hierdie studente is goed toegerus om hul plek vol te staan in die arbeidswêreld en om hul gemeenskap te kan dien,” sê Visser verder.

Van Rooy noem dat die instelling trots is op elke afgestudeerde student wat Akademia se naam hoog hou en help bou aan ʼn wêreldklas universiteit. “Van die nuwe alumni is reeds weer aan die studeer aan verdere kwalifikasies by Akademia terwyl ander gereed is om ʼn bydrae in hul gemeenskap te gaan maak. Mag sukses en goedheid elkeen vergesel op hul loopbaanpad, mag hulle ʼn reusebydrae maak tot die gemeenskap waar hulle hulself sal bevind, en mag hulle altyd ʼn Akademia-ambassadeur wees.”

Akademia ken vanjaar byna 350 kwalifikasies toe tydens die kwalifikasieplegtigheid wat op 21 en 22 April by die Atterbury Teater in Pretoria gehou is
By Akademia word daar klem daarop gelê om volronde alumni te lewer wat hoogstaande opleiding ontvang het en gereed is om ʼn verskil in hul gemeenskap te maak.
Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, prof. Danie Goosen, akademiese hoof, Marthinus Visser, besturende direkteur, en prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.