Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Om ʼn fontie by Akademia te wees

Gepubliseer op: 21 April 2022

Deur Tinus Dodds, toesighouerkoördineerder

Akademie is seker die eerste grootste rede hoekom julle almal besluit het om te kom studeer by Akademia. Ons respekteer dit en moet so wees maar onthou ʼn gebalanseerde student is ook ʼn gelukkige student. Ons het al baie gesien hoe meer betrokke en besiger studente is, hoe meer floreer hierdie studente in hulle akademie asook in hulle persoonlike lewe.

Kom ons loer bietjie hoe ʼn tipiese week sal lyk in ʼn student se lewe. Hier wil ek nie onderskeid tref tussen ʼn koshuisstudente en ander studente nie, want die waarheid is dat al Akademia se studente aan ʼn koshuis behoort. Of jy nou woon by Huis Valorem, Huis Strelitzia of Huis Hennops, jy behoort aan ʼn koshuis. Onmiddellik sal die daghuisstudente (almal wat studeer uit hulle private wonings of privaat huur) die opmerking maak dat hulle nie in een van hierdie huise is nie. Maar onthou dat alle daghuisstudente die geleentheid het om te behoort aan Huis Valorem wat hierdie studente verteenwoordig. Óf jy nou ʼn voltydse studente is óf ʼn nauurse student is, kan jy aan hierdie Huis behoort en inskakel by enige studentepret of aktiwiteite wat deur die studenteraad (SR) en of huiskomitees (HK) gereël word.

Hierdie aktiwiteite word nie net gereël om iets op die kalender te sit nie, maar daar is spesifieke idees hieragter. Akademia wil graag hê dat dit die beste drie tot vier jaar van enige student se lewe sal wees. Nou hoe lyk so ʼn tipiese week waaraan studente kan deelneem?

  • Daar is sportoefeninge – Ja nie almal van ons is goed in kontaksport nie. Die blote feit dat jou tipe sport nog nie aangebied word nie is maar net omdat jy nog nie jou hand opgesteek het en na vore gekom het nie. Akademia sal jou ondersteun om die sport op die been te bring en te bemark onder ander studente.
  • Ja, daar is ook studente wat nie regtig hou van sport nie en onthou vir elke sport moet daar ook ʼn ondersteuner wees om vir die ander span te kan wys wie Akademia is en om ons sportmanne en -dames aan te moedig.
  • Ons studeer hier in geloof en hoop en om daardie rede maak ons ook spesifiek op ons kalender tyd een keer per week waar ons saam die Here aanbid en mekaar onderskraag in alle aktiwiteite. Hier bid ons vir mekaar.
  • Baie van ons studente is geseën met wonderlike gawes soos die mooiste stemme. Ons sing saam en tree dan op as die amptelike Akademia-koor waar ons ander instansies kan bekoor met die talent.
  • Akademia het ten doel om ʼn volronde student met boekkennis, sosiale vaardighede en die vermoë om te redeneer die wêreld in te stuur en om daardie rede kom ons een keer per week bymekaar om interessante en relevante temas tot ons samelewing te bespreek en te verstaan. Die Kuns van studentwees help ons studente om te groei en te ontwikkel in so ʼn volronde student.

 

Al hierdie tipe aktiwiteite is ook so ingedeel op die kalenders om seker te maak ons verloor nie ons nauurse studente in die proses nie. Ons besef dat hierdie tipe student ʼn werk het van 08:00-17:00 en dan onmiddellik weer in klas kom sit van 17:00-22:00. Daarom probeer ons alle aktiwiteite doelgerig ontwikkel sodat selfs hierdie student waarde kan kry uit die buitemuurse aktiwiteite. Nauurse studente wat reeds in die werkersmark staan, is ʼn bron van kennis vir ons kampusstudente en hulle deel waardevolle lesse met die “outjies” rakende, werksetiek, waarvoor om uit te kyk in die werksomgewing asook hoe om CV’s doelgerig op te stel. Baie van ons nauurse studente het al daarin geslaag om vir ons kampusstudente tydelike werke te kry waar hulle waardevolle ervaring kan opbou.

Nou die een aspek wat nog nie hanteer is nie – dit klink oulik vir studente maar ek studeer nie tans in Centurion of Pretoria nie. Hoe kan ek betrokke raak? Akademia het die gaping raakgesien en is tans in proses om ʼn studentekoördineerder aan te stel wat al hierdie aktiwiteite regoor die land ook gaan uitrol en selfs meer aktiwiteite met daardie segment te ontwikkel. Hier word gekyk na ʼn naweekprogram waar hierdie tipe aktiwiteite na die student geneem sal word. Dit maak nie saak of dit nou in George of Bellville is nie! Personeel en dosente van Akademia sal na die areas reis en programme daar vestig en uitrol.

Hoekom is al hierdie nodig? Akademia het ʼn kultuur gevestig waar elke student vir hom belangrik is en ons wil poog dat elke student betrokke kan wees by die een of ander aksie, want onthou ons het elke individu nodig om te BOU! Te BOU aan ons toekoms en die pad vorentoe.