Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia stel koshuishandelsmerke bekend en koop die woord “koshuis”

Gepubliseer op: 25 April 2022

Die woord “koshuis” lê Akademia na aan die hart. Ter viering van drie koshuisname wat bekend gemaak is, het Akademia die woord “koshuis” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, oftewel WAT, gekoop. Hierdie drie koshuise staan bekend as Huis Valorem, Huis Strelitzia en Huis Hennops wat vanjaar reeds 107 inwoners gesamentlik het. Met die koop van die woord “koshuis” ondersteun Akademia nie net die uitbou van die Afrikaanse taal nie, maar lê ons klem op die belangrike rol wat ʼn koshuis, met sy unieke identiteit, in die vorming van studente speel.

Die instelling neem vanjaar hul studentelewe na nuwe hoogtes met die begin van twee nuwe koshuise (Huis Hennops die manskoshuis en Huis Strelitzia die dameskoshuis) nadat die eerste koshuis (Huis Valorem) reeds in 2021 ontstaan het.

“Vir Akademia om ons doelwitte te bereik waar ons die hart en denke van studente wil ontwikkel en vorm, vorm studentelewe en koshuislewe ʼn groot deel daarvan,” vertel Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia. Hy vertel verder dat die voortbestaan van ʼn gesonde studentekultuur in Afrikaans van kardinale belang is vir die bevordering van Afrikaans onder jongmense.

Daarom is die drie koshuise se handelsmerke op 4 April 2022 amptelik bekendgestel. “Om ʼn goeie naam te kies is baie belangrik. Die naam en handelsmerk van die koshuise moet diepte en karakter hê, uniek en tydloos wees en die waardes van Akademia weerspieël,” vertel Vogel. “Die name van die koshuise is waarlik nou gekoppel aan die studentekultuur wat Akademia kweek.”

Huis Valorem

Die naam van dié huis is deur die eerste inwoners in 2021 gekies. Die naam dui volgens die Latynse letterkunde op waarde, integriteit en ʼn sterk karakter.

“Die huiskomitee sorg vir die hartklop van die koshuis en help om saam met die ander studente tradisies te bou wat hoop gee vir die toekoms,” vertel Elisma van der Watt, primaria van Huis Valorem.

Tinus Dodds, koshuisouer van die drie huise, noem dat alhoewel Huis Valorem die kleinste gebou van al die koshuise het, het dié huis egter die grootste voetspoor gelaat. “Hierdie koshuis het die grondslag gelê vir die ander huise en weens die Covid-19-krisis het hierdie studente ʼn opregte verstaan van omgee en ondersteuning teenoor mekaar wat diep bande gebou het.”

Huis Valorem het ook twee troeteldiere, die goudvisse Marcus en Aurelius, en vandaar die vis in die handelsmerk. Die kleure van die handelsmerk (goudgeel, koningsblou en donkerblou) dui op sterk staan, status, geloofwaardigheid en professionaliteit.

Huis Strelitzia

Die strelitzia is ʼn pragtige plant wat volop by die koshuis@Leriba-perseel blom en wat boonop ook eg Suid-Afrikaans is. Dit het ʼn natuurlike skoonheid en is uiters aanpasbaar in moeilike omstandighede. Vandaar die naam vir die dameskoshuis, Huis Strelitzia.

“Dit is lekker by die huis, maar dit is nog lekkerder by die koshuis,” noem Alicia Bennett, primaria van Huis Strelitzia. Dodds vertel verder dat die koshuis reeds verskeie ryk tradisies onder die onderskeie gange gevorm het. “Die dameskoshuis se verskillende gange is baie trots op hul tradisies en waarvoor hul staan.”

Die handelsmerk word gekenmerk deur die kleure lig- en donkergroen wat groei en optimisme beteken en ook na die skoonheid van natuur verwys. Die ander kleure is oranje wat na energie en entoesiasme verwys en pienk wat vroulik en liefdevol beteken.

Huis Hennops

Die manskoshuis op koshuis@Leriba se naam is afgelei van die Hennopsrivier wat alombekend is en deur die Centurion-omgewing vloei. Die riviersimboliek is sterk aangesien ʼn rivier dui op lewe en die toerus van lewe. Die rivier spruit vanuit die sterk Olifantspruit en vandaar die majestieuse olifant op die handelsmerk van die manskoshuis.

Die aardse kleure van die koshuishandelsmerk verwys na die natuur en rustigheid van die omgewing. Die sandbruin, donkerblou van die water en die groen van die natuur verwys na ontspanning, uithouvermoe en selfversekering.

Jandré du Plessis, primarius van Huis Hennops, vertel dat die inwoners van die koshuis waarlik broers geword het en dat kameraadskap ʼn groot deel van die koshuis is. Dodds noem ook dat die manne waarlik respek het vir mekaar, vir ander en vir die omgewing. “Een van die beste eienskappe waaroor Hennops beskik is om mekaar te ondersteun en die hegte eenheid tussen mekaar.”

Dodds vertel dat hy glo dat die koshuise binne vyf jaar die voorkeurverblyfkeuse vir Fonties gaan wees weens die ongelooflike tradisies waaraan almal sal wil deelneem. Hy glo ook dat die koshuise groot kompetisie gaan wees vir ander koshuise in Pretoria op die akademiese, kulturele en sportgebied. “Ek moedig jou aan, kom bly by een van ons koshuise, hier is plek vir jou! Hier help ons om mekaar te vorm as volronde studente wat met trots gereed gaan wees vir die werkplek,” sê Dodds.

Akademia gee aan die koshuise name om van die staanspoor af studente by ʼn koshuis te verwelkom met ʼn unieke identiteit. “Plekname het byna in alle gevalle ʼn unieke verhaal wat daarmee saamgaan. Name gee betekenis, het en bou ʼn geskiedenis en verbind plekke en mense,” vertel Vogel. “Ons sien uit na al die stories en geskiedenis wat nog by Huis Valorem, Huis Hennops en Huis Strelitzia gemaak gaan word waarop daar ʼn studentekultuur en tradisies gebou gaan word.”

Akademia se drie koshuise, Huis Hennops, Huis Valorem en Huis Strelitzia se handelsmerke is amptelik bekendgestel.
Jandré du Plessis, primarius van Huis Hennops, Elisma van der Watt, primaria van Huis Valorem, en Alicia Bennett, primaria van Huis Strelitzia, met die geskenke wat aan die koshuise vanaf die Akademia-bestuur gegee is.