Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Goeie Wiskunde- en Natuurwetenskappe-onderrig maak ʼn wennernasie

Gepubliseer op: 25 April 2022

Prof. Hannes Rautenbach het in sy hoedanigheid as dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia op Donderdag 7 April 2022 saam met ʼn afvaardiging van die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum, ʼn besoek gebring aan die Thabo Mbeki Stigting in Johannesburg.

Die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum is in Februarie 2001 deur prof. Werner Olivier saam met twee kollegas in die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde van die Universiteit van Port Elizabeth, naamlik Flip Potgieter en Hennie Boshoff, gestig.

Die sentrum dra die naam van wyle dr. Govan Mbeki (vader van die voormalige staatspresident, Thabo Mbeki). Dr. Mbeki se sterk standpunt oor die waarde van ʼn opvoedkundige kwalifikasie, en meer spesifiek kundigheid gekoppel aan die Wiskunde en Natuurwetenskappe, was ʼn natuurlike skakel met inisiatiewe wat alreeds sedert 1990 by die Universiteit van Port Elizabeth plaasgevind het. Dit was juis sy uitspraak tydens sy 90ste verjaarsdagviering, naamlik “Our South African youth must study Mathematics and Science in order for us to become a winning nation”, wat aanleiding gegee het tot die stigting van die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum.

Op uitnodiging van dr. Celia Booyse, bestuurder van Programontwikkeling en Gehalteversekering by Akademia, het ʼn afvaardiging van die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum, onder leiding van prof. Werner Olivier, gedurende vroeg April 2022 ʼn besoek aan Akademia gebring. Prof. Olivier dien tans as direkteur van die sentrum.

Omdat die sentrum gevestig is in die nalatenskap van dr. Govan Mbeki, het prof. Rautenbach gevoel dat dit baie gepas sou wees dat die afvaardiging kennis maak met die Thabo Mbeki Stigting, en het hy gereël vir ʼn formele ontmoeting met mr. Max Boqwana, hoof- uitvoerende beampte van die Thabo Mbeki Stigting.

Van Akademia se kant af is een van Akademia se tienjaarherdenkingswyne, as ʼn gebaar van vriendskap, aan die Thabo Mbeki Stigting oorhandig.

Van links na regs: prof. Hannes Rautenbach (dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe, Akademia), prof. Werner Olivier (direkteur van die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum), Max Boqwana (hoof- uitvoerende beampte van die Thabo Mbeki Stigting), asook Flora Olivier en Carine Steyn (beide van die Govan Mbeki Wiskunde-ontwikkelingsentrum).