Search
Close this search box.

Akademia belê verder in moedertaalonderrig met Afrikaanse handboekvertaling

Die eerste Afrikaanse uitgawe van die boek, Help! Ek is ʼn studente-onderwyser, is op Maandag 27 Februarie by ʼn oggendfunksie by Leriba in Centurion bekendgestel. Akademia het saam met Van Schaik Uitgewers die projek aangepak om Afrikaanse opvoedkundestudente selfs beter toe te rus in hul moedertaal. Die verrigtinge is deur prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, geopen en hy het ook al die gaste en sprekers verwelkom. Dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het die dag as seremoniemeester ingelei.

Prof. Erna du Toit, mederedakteur van Help! Ek is ʼn studente-onderwyser, het oor die boek se ontstaan gesels. Volgens haar is die eerste Engelse uitgawe in 2008 uitgegee met die doel om temas aan te raak wat die student kan terugploeg in hul akademiese werk, sowel as hul praktiese onderwys. “Die tweede weergawe het die tema van waardegedrewenheid na vore gebring terwyl die derde uitgawe elemente van die Vierde Industriële Rewolusie behels het,” vertel Du Toit.

Du Toit noem dat Akademia in 2021 die behoefte gesien het aan ʼn Afrikaanse weergawe van die boek om sodoende te kan bydra daartoe dat studente in hul moedertaal, Afrikaans, kan skoolhou. Sy het ook die feit beklemtoon dat die boek ideaal is vir studente-onderwysers sowel as onderwysers wat as mentors vir studente-onderwysers dien.

Du Toit het gesê dat die boek bydra tot Afrikaanse onderwysterminologie wat vir die Afrikaanse onderwysstudent van onskatbare waarde sal wees. Sy het ook ʼn beroep gedoen op akademici om verder by te dra en nuwe maniere te ontwikkel wat studente sal toerus in die onderwys.

Volgens Jacky Duffield, verkopebestuurder by Van Schaik Uitgewers word die boek nie net in Pretoria uitgegee nie, maar sal by universiteite landswyd versprei word. “Die boek is nie net ʼn lekkerte nie – maar ʼn moet. Vir almal wat Afrikaans is, Afrikaans liefhet en wil hê dat ons studente en kinders in Afrikaans moet kan leer was dit noodsaaklik om hierdie boek in Afrikaans beskikbaar te stel.” Duffield noem dat elke boek wat Van Schaiks publiseer hulle na aan die hart lê en dat daar ʼn behoefte in die mark vir elkeen van hulle boeke is, wat Help! Ek is ʼn studente-onderwyser insluit.

Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het ook ʼn spreekbeurt gehad. Sy is ook aan stuur van die Akademia Uitgewery en het die projek om Help! Ek is ʼn studente-onderwyser te vertaal gedryf. Sy het gepraat oor hoe uitgewers die akademiese gesprek kan bevorder deur goeie boeke te publiseer, op verskeie digitale en gedrukte platforms. “Dit was heerlik om met Van Schaik Uitgewers hande te vat om hierdie boek in Afrikaans aan ons gemeenskap te kan bied.”

Sy het ook aan die tema van vakterminologie geraak en het genoem dat dit belangrik is om oor die korrekte terminologie te beskik vir Afrikaans om op die hoogste vlak te bly voorbestaan. “ʼn Handboek help ons om terminologie te standaardiseer en daarom wil ons skrywers uitdaag om aan te hou skryf, skep en publiseer in Afrikaans. Sy het ook Johan Blaauw as vertaler van die boek bedank, asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Akademia vir hul finansiële bydrae om die vertaling van die handboek moontlik te maak.”

Brits het afgesluit deur te noem dat dit heerlik is om die handboek in Moedertaalmaand te kon bekendstel aangesien dit ʼn mylpaal vir Afrikaanse onderwys is. Sy hoop ook dat dit as inspirasie kan dien vir ander taalgemeenskappe om vertalings in hul eie moedertale te doen.

Die boek is beskikbaar op Van Schaik Uitgewers se webtuiste. Klik gerus hier om jou kopie te bestel.

Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia, saam met Jackie Duffield, verkopebestuurder by Van Schaik Uitgewery, Juanita Pratt, uitgewer van die boek, prof. Erna du Toit, medeskrywer van die boek, en prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia by die bekendstelling van Help! Ek is ʼn studenteonderwyser!