Inligtingsessies en opedae

Search
Close this search box.

Akademia-paneelgesprek reflekteer oor begrotingsrede

Die begrotingsrede is op Woensdag 22 Februarie deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gelewer. In refleksie op hierdie begrotingsrede het Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ʼn paneelgesprek op Donderdag 23 Februarie by Leriba in Centurion aangebied om die implikasies daarvan te bespreek. Die paneelgesprek is vir die tweede opeenvolgende jaar gehou en het bestaan uit kenners vanuit die ekonomie, politiek en belastingvelde.

Die oggend se verrigtinge is deur dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, geopen en sy het alle gaste, asook die paneel, verwelkom. Mariska Wannenburg, dosent in Belasting en Rekeningkunde by Akademia, het die begrotingsrede opgesom waarna die paneelgesprek afgeskop het.

Rika Nieuwoudt, departementshoof van Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, het die paneelgesprek gelei. Volgens haar is die doel van die begrotingsredefunksie om vir die gemeenskap te verduidelik wat die implikasies van die begrotingsrede werklik beteken en waarvoor individue en maatskappye moet uitkyk.

Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe by Akademia, het genoem dat die begrotingsrede “redelik veilig” was, maar dat Suid-Afrika in ʼn krisistyd staan waar daar nie genoeg besluite geneem word om hierdie krisis af te weer nie. “Ons moet verstaan dat daar iets groot besig is om in die politiek en ekonomie te gebeur en dat dit nog vir ʼn wyle sal rof gaan,” sê Kok. Sy beklemtoon egter dat daar ʼn stadium sal moet kom waar belastinggeld in provinsies gehou moet word waar alles tans na die nasionale tesourie gaan. “Mens kan die invloed van die afwenteling van mag en begroting nie miskyk nie. Ons gaan beter moet begin organiseer op plaaslike en gemeenskapsvlak.”

Nikki Kennedy, dosent in Bestuursrekeningkunde en Belasting by Akademia, het vertel dat alhoewel die wêreldekonomie swaar kry, dit nie die erns van Suid-Afrika se eie probleme wegneem weens die regering wat nie hul kant bring nie. Sy bring egter ʼn silwerrandjie na vore deur te noem dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens besig is om uitstekende werk te verrig deur die basis van belastingpligtiges te verhoog sodat daar eerder meer mense belasting betaal en almal sodoende minder belasting hoef te betaal.

Pieter Janse van Rensburg, direkteur van SA Direkte en Indirekte Belasting by AJM, het klem gelê op die feit dat die enigste maniere vir die land om te spaar is om óf nie geld te spandeer nie óf om dit wys en op ʼn verantwoordelike manier te spandeer.

Die nuus dat dele van die begroting na sukkelende staatsentiteite gaan, was vir Henco Kruger, welvaartbestuurder by Kruger Internasionaal, nie ten goede nie. “Dit maak wel sin om ʼn deel van die begroting aan Eskom toe te ken, maar ek is nie seker waarom ʼn deel na die Suid-Afrikaanse lugdiens of selfs na die poskantoor gegaan het nie.” Kruger is vir ʼn geruime tyd al besig met ʼn studie oor sakeredding en in sy opinie staan Eskom ʼn goeie kans vir sakeredding. Janse van Rensburg het gesê dat dit jammer is dat ʼn deel van die begroting na Eskom toe moet gaan, maar dat dit egter nodig is. “Die pap het op die grond geval by Eskom, maar dit is nodig dat ons dit optel.”

Nog een van die punte wat Kruger bespreek het, was die feit dat staatssalarisse met 3,3% sal verhoog. Hy glo dat dit ʼn taktiek van die minister van finansies was om te sien hoe die unies reageer, maar dat dit moontlik tot onluste kan lei.

ʼn Interessante tema in die paneelgesprek was oor die feit dat individue 25%-korting op hul belasting kry tot ʼn maksimum van R15 000 per persoon wanneer hulle in sonpanele belê. Volgens die paneel kan bitter min mense in Suid-Afrika dit egter bekostig om enigsins in sonkrag te belê. Besighede aan die ander kant kan 125% van hul uitgawes aftrek wat hul belasbare inkomste verminder, iets wat volgens Janse van Rensburg sinvol is. Kruger noem egter dat almal wat belasting betaal egter indirek vir Eskom se foute betaal. “Die begroting se impak op die belegging in sonkrag deur individue en maatskappye maak eintlik die agterdeur oop vir Eskom om geprivatiseer te word, aangesien meer sonkrag ʼn reuse-impak op die kragbehoeftes in Suid-Afrika het.”

Nog ʼn brandpunt vir die paneel is die verligting dat die brandstofheffing en padongelukfondsheffing nie verhoog is nie. Volgens Kennedy gebruik die gemeenskap deesdae nie net brandstof vir vervoer nie, maar ook vir kragopwekkers wat moontlik die besluit beïnvloed het om nie die brandstofheffing te verhoog nie.

Werkloosheid het natuurlik ʼn reuse-impak op die nasionale begroting en volgens Kruger is daar vir elke werkende persoon wat belasting betaal twee mense wat werkloos is en van staatshulp afhanklik is. “Die werkloosheidsyfer gaan slegs opgelos word indien die ekonomie so groei dat daar meer werk beskikbaar is. Wanneer daar meer mense is wat werk, sal dit dan weer bydra tot ʼn vinniger groeiende ekonomie,” het Kruger genoem.

Die paneel het ook gekyk na die uitgawes van die begroting en Janse van Rensburg het beklemtoon dat die 24% van die begroting wat op onderwys spandeer gaan word ʼn uitstekende belegging is solank dit reg bestuur word. Kruger het egter opgemerk dat die minister van finansies tydens die begrotingsrede glad nie aan landbou geraak het nie – wat hy glo ʼn belangrike uitgawe moes wees.

Volgens Christo Luüs, eienaar van Ecoquant (Edms.) Bpk. en voorsitter van die beheerraad van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Finansiële Markte, het die grootste inkomste vir die begroting vanaf uitvoere gekom. “As ons meer steenkool kon uitvoer, sou die groei van inkomste meer gewees het, maar ons het beperkings weens struktuur aan ons kant.”

Hy het ook genoem dat ons besig is om van ʼn gekaapte staat na ʼn mislukte staat te vorder. Sy oplossing hiervoor is dat die staat minder geld spandeer en plek los vir die privaat sektor om in te tree. “Dit sal tot gevolg hê dat alle belastingbetalers minder belasting hoef op te dok.”

Die algehele en opsommende opinie van die paneel was dat die begrotingsrede nie veel verrassings opgelewer het of angs opgewerk het nie, maar dat daar steeds baie meer gedoen sou kon word om die ekonomiese groei te bevorder.

Akademia bied verskeie kwalifikasies in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan waarmee studente ʼn loopbaan kan volg in die finansiële en ekonomiese wêreld. Vir meer inligting, besoek Akademia se webblad hier.

Akademia het op Donderdag 23 Februarie ʼn paneelgesprek aangebied in refleksie tot die begrotingsrede van 2023. Die paneel het bestaan uit Nikki Kennedy, Henco Kruger, Pieter Janse van Rensburg, Alida Kok en Christo Luüs.