Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die betekenis agter Sowel As

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia

Ek wil graag oor die naam van Akademia se koffiekroeg op Leriba besin. Soos julle weet, is die naam “Sowel As”. Maar waarom? Is dit ʼn blote naam, of sê dit iets van ons wese? Ons wil hieronder aanvoer dat dit in vele opsigte met ʼn sekere styl van denke by Akademia verbandhou. Ter motivering hiervan staan ons by enkele voorbeelde uit ons groot bronne stil, naamlik die Christelike en Klassieke denke. Akademia sluit met betrekking tot die “sowel as”-styl van denke by hierdie bronne aan. In die hart van ons besinning staan die vraag oor watter soort student Akademia graag die wêreld wil instuur. Is dit ʼn student wat onder meer deur ʼn “sowel as”-styl van denke gekenmerk word?

Klassieke denke

ʼn Bekende Griekse denker het sowat 2 400 jaar gelede gevra watter soort student sy skool wil oplewer? Dié skool was destyds bekend as die Akademie van Athene. Akademia is van sy Akademie afgelei. Ek verwys natuurlik na Plato, een van die belangrikste denkers uit die Klassieke tydperk.

Watter soort studente het die Akademie van Athene opgelewer? Volgens Plato moet die ideale student deur ʼn goedgevormde siel gekenmerk wees. Wat het hy daarmee bedoel? Alhoewel Plato dit nie presies so verwoord het nie, is ʼn goedgevormde siel iemand wat deur ʼn “sowel as”- styl van denke gekenmerk word. Plato het ten minste twee voorbeelde geruik om dit te verduidelik: Sy opvatting van die menslike bewussyn en van die politieke orde.

Eerstens, volgens Plato word die bewussyn van die mens deur ʼn veelheid van dele (die emosionele, die rasionele en die intuïtiewe) gekenmerk. ʼn Goedgevormde siel is iemand wat nie eensydig klem plaas op slegs een van hierdie dele in sy bewussyn nie (soos óf die emosionele óf die rasionele). Hy is eerder iemand wat sowel die veelheid van dele in homself erken as die eenheid of harmonie tussen hulle.

ʼn Tweede voorbeeld is die politieke orde. Plato het sy beeld van die gevormde mens ook op die politieke orde van toepassing gemaak. ʼn Goedgevormde politieke orde word deur ʼn “sowel as”-styl van denke gekenmerk. Hoe so? Elke politieke orde word deur ʼn veelheid van dele gekenmerk. Soos die ekonomiese, militêre, politieke en geestelike dele. ʼn Goedgevormde politieke orde is een wat nie een van hierdie dele uit hul verband met die ander haal en verabsoluteer nie. Indien dit nét om die ekonomie of nét om die militêre draai, word die orde skeefgetrek. ʼn Goedgevormde politieke orde is eerder een waarin sowel die veelheid van dele as hul onderlinge eenheid erken word.

Christelike denke

Ons wil graag na ʼn belangrike maar dikwels vergete saak uit ons Christelike denke verwys. Twee van die belangrikste begrippe vanuit dié denke is die begrippe “liefde” en “orde”. Een van die sentrale vrae vandag is hoe ons die verhouding tussen hierdie twee begrippe moet verstaan. Wat is die verhouding tussen enersyds die liefde en andersyds ordes soos ons eie gesinne, eie gemeenskappe en ook eie politieke ordes?

Met die eerste oogopslag sluit liefde en orde mekaar uit. Dit blyk uit die feit dat die liefde ten diepste grensloos is (dit wil altyd oor die grense van ordes beweeg), terwyl ordes daarenteen begrensde dinge is (ordes neem hul grense in beskerming). Is sowel die grenslose liefde as die begrensde ordes belangrik? Of moet ons tussen hulle kies: óf die grenslose liefde óf die eie begrensde ordes?

Volgens die tradisionele Christelike denke sluit liefde en orde mekaar nie uit nie. In aansluiting by die naam van ons koffiekroeg: Volgens die tradisionele denke is sowel die liefde as orde belangrik. Maar waarom? Kom ons staan by hierdie belangrike insig uit die Christelike denke stil.

Volgens die Christelike denke behoort liefde en orde inderdaad tot twee verskillende sfere van menswees. Die grenslose en die begrensde is nie dieselfde dinge nie. Tegelyk is daar ook ʼn noue samehang tussen hulle. Trouens, volgens ons tradisie het liefde en orde mekaar nodig. Maar hoe moet dit verstaan word? Heers daar nie tog ʼn spanning tussen hulle nie? Hoe het hulle mekaar nodig?

Vanuit die Christelike denke geoordeel, is dit slegs ʼn oënskynlike spanning. Om dit te verduidelik, formuleer ons met ʼn effense omweg.

Vandag staan die liefde en orde vir talle woordvoerders inderdaad in ʼn uitsluitende verhouding teenoor mekaar. Volgens hulle moet ons óf vir die liefde óf vir orde kies. Dit blyk onder meer uit hulle houding jeens die miljoene emigrante en vlugtelinge wat vanuit Afrika en die Midde-Ooste na Europa emigreer. Volgens hulle moet die emigrante uit liefde (of in hedendaagse taal, uit medelye) in Europa toegelaat word. Die vraag of die politieke ordes nie met die oopstelling van grense in gevaar gestel word nie, bly by hulle onbeantwoord.

Ook ter plaatse staan ons as gemeenskap reeds vir ʼn geruime tyd voor ʼn soortgelyke keuse. Ter wille van inklusiwiteit (ʼn vorm van medelye) word daarop aangedring dat ons die grense van ons eie skole, besighede, eiendom, ensovoorts, moet oopstel. In hierdie geval troef inklusiwiteit (of dan medelye) die orde. So diep is hierdie strakke keuse (óf medelye óf orde) geïnternaliseer dat talle skuldig voel om vir hul eie ordes voorspraak te maak.

Volgens die tradisionele opvatting is dit egter ʼn oënskynlike spanning. Inderwaarheid is sowel die een as die ander belangrik. Ons kan die argument so saamvat: Volgens die Christelike denke moet die kerk se universele boodskap van liefde inderdaad aan “alle nasies” verkondig word. Die liefdesboodskap moet alle grense (ook die grense tussen nasies) oorskry. Die vraag is egter of die doel daarmee is om die grense tussen die nasies op te hef? Moet die liefde tog die ordes troef?

In die Christelike erfenis word hierop met ʼn duidelike “nee” geantwoord. Ten minste twee redes kan daarvoor aangevoer word: Die eerste rede hou met die belangrikheid van ordes vir die liefde verband. Die boodskap van die onbegrensde liefde kan slegs ontvang word wanneer dit in die begrensde wêreld van hierdie en daardie spesifieke orde (soos spesifieke gesinne, skole, universiteite en nasies) beliggaam word. Sonder die beliggaming van die grenslose liefde in begrensde ordes bly dit in die lug swewe; sonder die ordes bly die liefde slegs ʼn abstrakte en moralistiese voorskrif (eerder as ʼn deug wat ons ordes van binne af rig en stuur).

Ons kan selfs sê dat begrensde ordes die voorwaarde vir die boodskap van onbegrensde liefde is om gehoor te kan word. Indien die ordes deur iets soos ʼn onverstandige beleid van emigrasie benadeel word, word die boodskap van liefde ironies genoeg self benadeel. Ter wille van die beliggaming van die liefde is die ordes self noodsaaklik. Om hulle te benadeel, beteken om die liefde self te benadeel.

Die Christelike denke antwoord egter met ten minste nog ʼn tweede argument. Net soos wat die liefde die ordes nodig het, net so het ordes ook die liefde nodig om hoegenaamd gesonde ordes te kan wees. Sonder die liefde keer die ordes in op hulself, word hulle selfingenome en verstar hulle; sonder die liefde draai hulle hul rug op die andere buite die eie grense, en in die besonder op God, dié andere anderkant elke begrensde orde.

Om hierdie enkele argumente op te som: Volgens ons tradisie is sowel die liefde as die orde noodsaaklik. Indien liefde nie ʼn rol in ons ordes speel nie, word ons ordes star en selfingenome. Indien slegs die liefde beklemtoon word, word ons in ʼn ordelose wêreld gelaat waarin die liefde self nie tot sy reg kan kom nie.

Ek sluit af met ʼn uitnodiging: Ons nooi al ons studente, personeel en vriende uit om, wanneer dit geleë is, saam met ons ʼn heerlike koppie koffie in Sowel As te kom drink. Sowel die liefde as orde regeer daar.

Vir meer oor Sowel As, klik hier of volg Sowel As op Instragm by @Sowel_As.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.
Sowel As is Akademia se eerste koffiehuis geleë by Leriba in Centurion.