Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Student vertel oor groot gees by eerste koshuisinblynaweek

Gepubliseer op: 16 Maart 2022

Geskryf deur Elisma van der Watt, primaria van Huis Valorem

Die twee koshuise by koshuis@Leriba, Huis Strelitzia en Huis Hennops, asook die daghuis, Huis Valorem, het op 25 tot 27 Februarie hul eerste inblynaweek gehou. Hierdie naweek het ʼn uitstekende geleentheid vir studente gebied om die koshuislewe volwaardig te benut. Die naweek het ʼn nuwe atmosfeer by die koshuise geskep en die studenteverhoudinge versterk.

Dit is ook die eerste geleentheid waar die koshuise saam ʼn nuwe projek kon aanpak. Die Vrydagaand het letterlik op ʼn hoë noot afgeskop met die VOX Chamber Choir se “barchoir”-geleentheid. Dié Saterdag het die studente se gees hoog geloop met ʼn program vol sportaktiwiteite soos toutrek, tafeltennis, vlugbal en snoeker. Die naweek is afgesluit met ʼn spesiale optrede deur elke gang van die koshuis en deur saam middagete te eet as koshuisfamilie.

“Die eerste amptelike inblynaweek het vir ons as koshuisouers net weer bevestig hoe ontsettend spesiaal dit is om verblyf met hierdie wonderlike jong mense te deel. Iets wat vir ons uitgestaan het, was hoe almal by alles betrek is en die lag en samehorigheid van studente,” vertel Tinus Dodds, koshuisouer.

ʼn Mens kan nie respek, entoesiasme en lojaliteit koop nie, maar dit kan verdien word en dit is waarna ons in ons koshuise streef – die vorming van elke studente se menswees, hart en denke.

Dit waaraan ons tans bou, is só mooi dat niemand dit ooit sal kan afbreek nie. Ons bou ʼn tuiste, waar ons kan floreer, presteer en mekaar kan motiveer. Ons het ʼn plek waar ons hoort, ons het ʼn toekoms as Afrikaanse studente. Dit is ons tuiste. Ons is opgewonde oor die vele aktiwiteite wat nog kom en om eendag terug te kan kyk waarop ons as pioniers gebou het.

Die Fonties het die sportaktiwiteite met groot gees aangepak by die koshuise se eerste inblynaweek.
Die toutrek-aktiwiteit was ʼn groot hoogtepunt van die inblynaweek.