Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Stuur 2025 in die regte rigting: Akademia-studieaansoeke nou ingewag

Gepubliseer op: 2 Mei 2024

Daar word gesê dat die enigste manier om werklik die toekoms met sekerheid te voorspel, is om dit proaktief self te skep. Gedagtig aan dié wysheid moedig Akademia voornemende studente aan om nie net in hulself te belê nie, maar ook die toekoms met hoop en selfvertroue tegemoet te stap. Die instelling se 2025-studieaansoeke vir die nauurse afstandsmodel en die voltydse kampusmodel het op 2 Mei geopen.

In ʼn tyd waarin die waarde van naskoolse studie soms in twyfel getrek word, verduidelik Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat studie die beste belegging is wat ʼn persoon kan maak. “In Suid-Afrika is die werkloosheidskoers onder gegradueerdes baie laag, en daar bestaan ʼn sterk direkte verband tussen inkomstevermoë en kwalifikasies,” sê Visser. Hy voeg by dat studente binne die konteks van studiegemeenskappe lewenslange vriendskappe smee en professionele netwerke vestig. Hiermee saam word kritiese denke en ingesteldhede ontwikkel wat noodsaaklik is om betekenisvol te kan lewe.

Die nauurse afstandsmodel is nommerpas vir persone met ʼn besige skedule wat reeds ʼn beroep volg of ander drome wil najaag. Studente wat hierdie keuse uitoefen kan klasse bywoon deur óf by ʼn sentrum aan te sluit óf die e-leeropsie te volg. Die voltydse kampusmodel bied aan studente ʼn kampuservaring waar daar bedags in Centurion klasgedraf word en deelname aan ʼn bruisende studentelewe aangemoedig word. Die Gerhardstraat-kampus en die Leriba-kampus (laasgenoemde is vroeër vanjaar bekendgestel), bied ʼn veilige en goed ingerigte omgewing waarin studente kan gedy.

Ongeag die onderrigleermodel wat voornemende Fonties (soos Akademia-studente bekend staan) kies, ontvang hulle gehalte kwalifikasies. Programme strek oor verskeie fakulteite, naamlik Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Opvoedkunde, Natuurwetenskappe en Regsgeleerdheid.

Studente wat op die voltydse kampusmodel studeer kan voorts deel vorm van die vier inwonende mans- en dameskoshuise. Voornemende voltydse studente wat van privaat verblyf gebruik maak, kan op hul beurt by een van die twee daghuise inskakel en só deel hê aan die pret van koshuis- en studentelewe.

Die instelling se aansoekproses vind aanlyn plaas via die webblad. Ten einde die aansoekproses so naatloos as moontlik af te handel, word die volgende dokumentasie vereis:

  • Gesertifiseerde afskrifte van kwalifikasies nie ouer as drie maande nie (indien van toepassing) of jongste graad 12-punte (skoolverlaters)
  • ʼn Gesertifiseerde afskrif van jou ID-dokument nie ouer as drie maande nie
  • ʼn volledige CV (vir persone wat reeds werk)
  • Gesertifiseerde afskrifte van enige naskoolse kwalifikasies nie ouer as drie maande nie (indien van toepassing)

Klik hier vir meer inligting oor Akademia en om aanlyn aansoek te doen. Die instelling se jaarlikse kampusopedag, wat op  10 en 11 Mei plaasvind, is nóg ‘n manier om inligting in te win.

Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Akademia se studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar het op 2 Mei geopen. Dié aansoekproses vind aanlyn plaas via die instelling se webblad.