Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Só kerf Akademia-alumnus haar pad in die sakewêreld uit

Gepubliseer op: 3 Mei 2024

Daar word gesê dat koffie die één geur is wat oor die wêreld heen passie en kreatiwiteit aanwakker. Vir Akademia-alumnus, Catherine-May Trollip (22) van Kempton Park, is koffie egter meer as net ʼn passie – dit is die grondslag waarop sy haar loopbaan in die sakewêreld bou.

Wat in 2023 as ʼn inskrywing vir Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie begin het, is vandag ʼn opwindende internskap by haar alma mater. Vandag, as ʼn lid van die Bemarking en Kommunikasieafdeling se Institusionele Projekte en Ondernemings, vervul Trollip die rol as assistent by die instelling se gewilde koffiewinkel, Sowel As, asook die Akademia-gastehuis.

Trollip vertel dat sy in 2023, twee dae voor die sluitingsdatum van die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie op die ingewing van die oomblik ʼn sakeplan vir die koffiewinkelkategorie ingeskryf het. Dié sakeplan het vir haar ʼn topdrieplek in die finale rondte van die kompetisie besorg. Ná afloop van die finaal is sy die internskap, wat in Januarie vanjaar afgeskop het, aangebied. Volgens Trollip verteenwoordig dié internskap die ideale oorgang tussen haar akademiese begronding en praktykservaring. “Dit is só lekker om eerstehands te ervaar hoe dié twee wêrelde by mekaar aansluit, en hoe die BCom (Ondernemingsbestuur)-program direk tot vandag se werksomgewing spreek,” sê Trollip.

Trollip wat tydens vanjaar se kwalifikasieplegtigheid trots die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie ontvang het, het haar studie by wyse van die voltydse kampusmodel voltooi. “As ek terugkyk op my studiereis by Akademia kan ek nie anders as om met ʼn gevoel van diepe dankbaarheid gevul te word nie. Om in my moedertaal te kon studeer is beslis ʼn voorreg en ek sal vir altyd my identiteit as ʼn Fontie koester,” sê Trollip. Sy voeg by dat die moedertaalonderrig wat sy by die instelling ontvang het haar in staat gestel het om met ʼn dieper insig en begrip met die programinhoud om te gaan.

Haar gunstelingmodule was Innovasie- en Operasionele bestuur en sy voeg by dat sy veral waardering het vir die wyse waarop twee van haar Bestuurswetenskap-dosente – Johann Smith en Elize-Mari Coetzer, hul passie en kundigheid met studente deel. “Ons dosente het deurentyd die ekstra myl geloop en ons vir die praktyk geslyp deur onder meer praktiese oefeninge en deurlopende kreatiwiteitsontwikkeling,” sê Trollip.

Derhalwe vir die internskap besig Trollip haar vanjaar ook met verdere studie. Sy is tans besig om die BComHons (Ondernemingsbestuur)-program via Akademia se nauurse afstandsmodel te voltooi. Ná afloop hiervan sal sy graag die Gevorderde Diploma in Projekbestuur-program wil aanpak en in die nabye toekoms ook die Nagraadse Onderwyssertifikaat. “Kennis is mag, en ek wil graag toekomsfiks bly en op dié manier hoopvol na die dag van môre uitsien,” sê sy.

Trollip moedig alle Fonties aan om geleenthede soos internskappe met albei hande aan te gryp. “My internskap oortref al my verwagtinge. Ek het nie net die geleentheid om my kwalifikasie prakties toe te pas nie, maar geniet ook blootstelling aan ʼn verskeidenheid ander aspekte. Laasgenoemde sluit in personeelopleiding, finansies, voorraadbeheer en skakeling met verskaffers – alles wat ek eendag nodig gaan hê om my eie besigheid op die been te bring,” verduidelik Trollip.

Indien jy soos Trollip ʼn sin vir besigheid het en daarvan droom om jouself in die besigheidswêreld te vestig, klik hier om meer te wete te kom oor die
BCom (Ondernemingsbestuur)-program.

Catherine-May Trollip vervul vanjaar die rol as assistent: Sowel As en die Akademia-gastehuis as deel van ʼn jaarlange internskap.
Catherine-May het ʼn topdrieplek in die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie vir 2023 behaal. Haar medefinaliste was Daren Horne en Abigail Fourie.