Akademia-kwalifikasieplegtigheid: ʼn Mylpaal op die reis na prestasie én identiteit

Gepubliseer op: 6 Mei 2025

Akademia se jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is veel méér as net ʼn spoggeleentheid op dié instelling se jaarkalender. Dit verteenwoordig in wese ʼn grootse mylpaal – nie net vir elke afgestudeerde student se reis na prestasie én identiteit nie, maar óók van die groei wat die instelling oor die afgelope dertien jaar behaal het.

Vanjaar se plegtigheid het op Dinsdag 6 Mei 2025 by die Choose Life-kerk in Pretoria plaasgevind, en tydens dié geleentheid is ʼn rekordgetal van 590 kwalifikasies toegeken. Die studenteraadsvoorsitter, Johannes van Jaarsveld, het die geleentheid op ʼn gepaste wyse met skriflesing en gebed geopen, terwyl die Akademia-koor verder gravitas tot dié akademiese geleentheid verleen het.

Die kwalifikasies is oor sestien programme toegeken en het 106 nagraadse kwalifikasies ingesluit. Van oor die vyf fakulteite het die volgende programme studente afgelewer:

  • Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Nagraadse Diploma in Belasting

Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde

BComHons (Ondernemingsbestuur)

Gevorderde Diploma in Projekbestuur

BCom (Bestuursrekeningkunde)

BCom (Ekonomie en Regte)

BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)

BCom (Finansiële Beplanning)

BCom (Ondernemingsbestuur)

Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie

Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

  • Fakulteit Geesteswetenskappe

BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)

  • Fakulteit Natuurwetenskappe

BSc (Wiskundige Wetenskappe)

  • Fakulteit Opvoedkunde

Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-Onderwys)

  • Fakulteit Regsgeleerdheid

LLB

Die volgende toppresteerders is in elke program vir hul uitsonderlike akademiese prestasies erken:

  • Frederik Robert Beyer, BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
  • Nicole Botha, BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • Larissa van Dyk, BCom (Ekonomie en Regte)
  • Jessica Lange, BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)
  • Hanke du Plessis, BComHons (Ondernemingsbestuur)
  • Lize Retief, BCom (Ondernemingsbestuur)
  • Gerhardus Hermanus Stephanus Pretorius, LLB
  • Paul Christiaan Johannes Potgieter, BSc (Wiskundige Wetenskappe)
  • De Wet Nel, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Ernice Kelyn, Nagraadse Diploma in Belasting
  • Elrika van der Westhuizen, Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
  • Juan Jacobus Theron, Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
  • Pieter Adriaan Booyens, Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Pietje Petronella Schinkel, Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Anika de Jager, Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

Volgens Liana van Rooy, Akademia se registrateur, spreek die kwalifikasieplegtigheid nie net tot die instelling se gesonde groeitrajek nie, maar spieël dit óók sy roepingsgedrewe strewe om ʼn tuiste vir Afrikaanse universiteitswese te wees. Van Rooy verduidelik dat in die lig hiervan die plegtigheid voorts ʼn simboliese tuiskoms vir die instelling se nuwe alumni-lede verteenwoordig. “Hierdie tuiskoms is nie fisies of geografies gefundeer nie, maar eerder ʼn innerlike verbondenheid tot gedeelde waardes, die groter Akademia-gemeenskap en die identiteitsvorming – akademies en persoonlik, wat gedurende elke alumnus se studietydperk plaasgevind het,” sê Van Rooy.

“As gewaardeerde alumni kan afgestudeerde studente ʼn waardevolle ondersteuningsrol speel in terme van huidige en toekomstige Fonties*. Van Rooy verduidelik dat alumni-betrokkenheid in die vorm van beurse, mentorskap, internskappe en loopbaanadvies ʼn beduidende impak op studentesukses het. Hierbenewens bied die alumni-gemeenskap verskeie opwindende netwerk- en loopbaangeleenthede aan lede terwyl dit ook samewerking en sakevennootskappe fasiliteer.

“Vandag is méér as net ʼn eenmalige viering van akademiese uitnemendheid en alumni-tuiskoms. Die kwalifikasieplegtigheid lewer ʼn kragtige getuienis van toekomstige impak by wyse van voortgesette vorming, toewyding en deursettingsvermoë. Die Akademia-gemeenskap is trots op die prestasie van elke afgestudeerde student,” sluit Van Rooy af. Besoek gerus Akademia se sosialemediaplatforms vir foto’s van dié geleentheid.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Tydens Akademia se jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is ʼn rekordgetal van 590 kwalifikasies, waarvan 106 nagraadse kwalifikasies is, oor sestien programme toegeken.
Die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is nie net ʼn viering van akademiese uitnemendheid nie, maar ook van die Afrikaanse universiteitswese.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.