Gepubliseer op: 11 Februarie 2025
As alles volgens plan verloop sal Akademia se geografiese uitbreiding na die Wes-Kaap in Februarie 2026 ʼn hoogtepunt bereik wanneer dié instelling die deure na sy splinternuwe Paarl-kampus vir die akademiese jaar oopswaai. Só vertel Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, tydens ʼn Wes-Kaap-hoofdegeleentheid wat op Dinsdag 11 Februarie 2025 aangebied is. Dit volg nadat die instelling in April 2024 sy voorneme aangekondig het om sy geografiese voetspoor na dié streek te vergroot.
Visser, vergesel deur ʼn afvaardiging van personeel van Akademia en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het tydens hierdie geleentheid in die Paarl ʼn hand van kennismaking én samewerking na die plaaslike Afrikaanse onderwysgemeenskap uitgesteek. Dié satellietkampus span die kroon op die instelling se huidige groeitrajek en baan die weg na die realisering van nóg ʼn Akademia-droom, naamlik die ontwikkeling van ʼn wêreldklas kampus in Pretoria teen 2028.
Visser het trots aangekondig dat die nuwe tussentydse Paarl-kampus in die hartjie van Esterville geleë sal wees, en dat die instelling se nuwe adres in die Wes-Kaap later bekend gemaak sal word. Die vestiging van dié satellietkampus bou voort op die instelling se reeds bestaande sentrumnetwerk in onder meer George, die Paarl en Somerset-Wes waar Fonties* hul studie via die nauurse afstandsmodel aanpak. Die kampus sal gestalte gee aan Akademia se voltydse kampusmodel, soos wat dit reeds in Centurion die geval is en sal in sy vestigingsjaar ʼn studietuiste vir ongeveer 340 eerstejaarstudente wees. Laasgenoemde sal studente nie net toegang gee tot die instelling se vyf fakulteite nie, maar ook tot ʼn bruisende en eiesoortige studentelewe. Prof. Gawie du Toit, wat tans die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia is, sal as hoof van dié kampus diens doen. Du Toit is reeds meer as 35 jaar aktief betrokke in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor as onder meer navorser, departementshoof, kurrikulumontwikkelaar, programdirekteur en senior bestuurder.
Die volgende programme sal met die aanvang van die 2026- akademiese jaar by dié kampus aangebied word:
BCom (Ekonomie en Regte), BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde), BCom (Ondernemingsbestuur)
BA (Kommunikasie en Joernalistiek), BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
BEd (Grondslagfase-onderwys), BEd (Intermediêre Fase-onderwys)
Aanlyn studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar sal op Dinsdag 1 April vanjaar open.
Volgens Visser sal studente tydens hul studiejare voluit aan ʼn aktiewe studentelewe kan deelneem en hul talente op só ʼn wyse ontwikkel dat hulle roepingsgedrewe tot voordeel van hul gemeenskap sal kan leef. “Studentelewe by Akademia het dit ten doel om ʼn tuiste te skep waar studente se denke én hart in samehang kan ontwikkel en ons is daartoe verbind om, soos reeds die geval is by ons kampusse, ook in die Wes-Kaap in hierdie ontwikkeling van goed gevormde studente te belê,” sê hy. Dié studentelewe sal vorm aanneem by wyse van ʼn verkose studenteraad (SR), daghuise en ʼn verskeidenheid aktiwiteite waaronder sport, kultuur, gemeenskapsprojekte, sosiale en goed gevestigde studenteondersteuningstrukture.
Wat die fasiliteitsinrigting betref verduidelik Visser dat die plan is dat dit teen die einde van Augustus vanjaar voltooi sal wees. Die volgende fasiliteite word ingerig: dertien lesinglokale, ʼn koffiewinkel, ʼn kafeteria, ʼn mediasentrum, ʼn Akademia-winkel, saamwerkruimtes, ʼn funksielokaal, asook veilige parkering. Hierdie fasiliteit sal later vanjaar amptelik bekendgestel word. Intussen word ʼn propvol Wes-Kaap-gebeurlikheidskalender in die vooruitsig gestel met onder meer ʼn kampusopedag, skoolbesoeke, ʼn toppresteerdersfunksie (Elite-Fontie), vakkeuse-aande en Akademia se deelname aan die Paarl-koorfees ter viering van die eeufeeswording van Afrikaans later vanjaar.
“As ʼn instelling verteenwoordig 2025 ʼn gróót jaar, waarin ons hard gaan werk om gestalte aan ons droom én roepingsbesef te gee, naamlik om as ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling diensbaar te wees vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe,” sê Visser. Hy voeg by dat die instelling reeds baie vermag het sedert die eerste klasse dertien jaar terug met slegs 42 studente in vier programme ʼn aanvang geneem het. “Ons staan waarlik op die skouers van die gemeenskappe wat ons dien, en sien uit na die vestiging in die Wes-Kaap. Dit is ons droom om teen 2032 ʼn voorkeurstudietuiste vir méér as 2 000 Fonties in dié omgewing te wees, met ʼn voltydse personeelkorps van meer as 100 kundige en ervare personeel. Intussen vat ons doelgerig hande met die gemeenskap om só die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese te help verseker,” sluit Visser af.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.