*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 2 September 2026
By Akademia behels studentwees meer as net lesings, handboeke en eksamen skryf.
Dié Afrikaanse studietuiste bied aan studente die geleentheid om lewenslange vriendskappe te smee, vlug te gee aan hul toekomsdrome én boonop in die proses uiting te gee aan hul talente op ʼn eiesoortige manier. In 2026 verwys laasgenoemde na die instelling se toetrede tot die teaterverhoog met die studentemusiekblyspel, Daai kleindorpiegevoel.
Met dié produksie word nie nét ʼn nuwe dimensie aan Akademia se studentelewebelewenis gevoeg nie, maar word Fonties ook die geleentheid gebied om hul kreatiwiteit, leierskap en spanwerkvermoë buite die lesinglokaal uit te leef. Terselfdertyd blaas die produksie nuwe lewe in die ryke tradisie van Afrikaanse studentemusiekblyspele.
Daai kleindorpiegevoel word vanaf 3 tot 10 Oktober by die Centurion Teater opgevoer.
ʼn Sterk rolverdeling
Die sterk rolverdeling is ʼn spieëlbeeld van die veelheid van talent wat in Akademia se studentegemeenskap leef. Vir dié Fonties is die produksie nie bloot ʼn kans om op die verhoog te skitter nie, maar ʼn geleentheid om hulself uit te daag, nuwe vaardighede te ontwikkel en deel te wees van iets wat groter as elke individuele deelnemer is.
Hiermee ʼn kykie na die jong talent wat pionierspore trap – nie net op die verhoog nie, maar ook in die verdere ontwikkeling van die instelling se bruisende studentelewe.
Keynan Fox as Pieter, die stadsjapie
Keynan Fox (22) is ʼn finalejaarstudent in die BCom (Ekonomie en Regte)-program. Fox, wat sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Merensky in Tzaneen voltooi het, was gedurende sy eerste twee jaar van studie aan Akademia ʼn inwoner van die manskoshuis, Huis Magalies. As ʼn boorling van die plattelandse dorp Hoedspruit meen Fox dat klein dorpies voorwaar ʼn eiesoortige bekoring inhou.
Fox is ʼn ervare verhoogkunstenaar. Sy eerste hoofrol was in die hoërskoolproduksie Onder Konstruksie, waarna hy onder meer hoofrolle in Akademia se eerstejaarskonsert asook die Pappa Pia-studenteproduksies vertolk het. Hiermee saam tree hy ook gereeld as voorsanger op by geleenthede soos As jy sêr en Fontasties.
In Daai kleindorpiegevoel vertolk Fox die hoofrol van Pieter, ʼn stadsjapie in murg en been. Fox beskryf dié karakter as sarkasties, trots en terselfdertyd sensitief. Hoewel hy en Pieter albei uitdagings met oorgawe aanpak, erken hy dat hulle in een belangrike opsig verskil: waar Pieter in die stad tuis voel, verkies Fox die rustigheid van die bos.
“Dit voel gepas om my toneelloopbaan by Akademia met die instelling se eerste musiekblyspel af te sluit,” sê Fox en voeg by dat die voorbereiding vir die rol opnuut sy liefde vir die verhoog laat ontvlam het. “Die verhoog voed my siel,” sê hy. Hy glo voorts dat kultuur die hartklop van ʼn gesonde studentelewe is en dat produksies soos hierdie studente die geleentheid bied om kreatief te wees, instellingstrots te ontwikkel en – al is dit net vir ʼn rukkie – toelaat om weer soos kinders te speel.
Volgens Fox herinner Pieter se verhaal ons daaraan dat ’n mens soms moet stilstaan en oor wat werklik belangrik is, moet besin.

Abigail de Villiers as Katrientjie, die boerenooi
Abigail de Villiers (21) is ʼn derdejaarstudent in die LLB-program, en sy pak haar studie by wyse van Akademia se nauurse afstandsmodel aan. Dié gebore en getoë Pretorianer het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Garsfontein voltooi. Hoewel sy nie self op ʼn klein dorpie grootgeword het nie, het sy ʼn besonderse liefde vir die platteland. Vir haar lê dié bekoring opgesluit in die rustigheid wat tekenend is van ʼn klein dorpie, die gevoel van behoort en die opregtheid waarmee daar in mekaar se lief en leed gedeel word.
De Villiers is ʼn gesoute verhoogkunstenaar met verskeie skool- en professionele produksies op haar kerfstok. ʼn Verhooghoogtepunt sluit haar deelname aan die Ons vir Jou-musiekblyspel in waarin sy verskeie uiteenlopende rolle vertolk het.
In Daai kleindorpiegevoel blaas De Villiers lewe in die rol van Katrientjie, die boeremeisie met ʼn skerp verstand, vinnige sêgoed en ʼn groot hart. Sy beskryf haar karakter as “vrek slim, geesdriftig en ʼn opperste koffievraat” asook iemand wat ander diep raak en hulle keer op keer aan die goeie van die lewe herinner.
As iemand wat lief is vir Afrikaans én die uitvoerende kunste, is De Villiers opgewonde om deel van die musiekblyspel te wees. Haar deelname bied aan haar die geleentheid om as storieverteller haar moedertaal op die verhoog te laat lééf. “Hierdie produksie is die begin van ʼn splinternuwe kultuurtradisie en dit is my droom dat toekomstige Fonties nog vir lank die geleentheid sal hê om ook hul verhoogdrome by Akademia te kan nastreef,” sê De Villiers.
Abigail en Katrientjie deel ʼn sterk liefde vir mense, gemeenskap en verhoudings. Albei is terselfdertyd lojaal en beskermend teenoor diegene waarvoor hulle lief is. De Villiers erken egter dat sy, anders as Katrientjie, nie daarvan hou om haar hande vuil te maak nie.
Vir De Villiers het die produksieproses haar opnuut herinner aan die besonderse bande wat deur die kunste gesmee word, asook die voorreg wat dit bied om lewens te kan verander.

Veronique le Roux as Tannie Pompie
Veronique le Roux (19) is ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program. Sy het haar skoolloopbaan aan die Teneo Online School South Africa voltooi en dié boorling van Randfontein is ʼn trotse lid van die damesdaghuis, Huis Daglelie.
Die uitvoerende kunste is al van kleins af deel van Le Roux se lewe en sy het op sesjarige ouderdom haar buiging op die verhoog gemaak tydens haar eerste Eisteddfod-deelname. Sedertdien gedy haar passie vir drama, dans, sang en musiek en getuig die prestasies wat sy reeds in dié verband behaal het van haar entoesiasme en talent. Le Roux is onder meer in graad 6 as die Beste Kultuurdogter in die Wesrand aangewys. As ʼn lid van die Hoërskool Waterkloof se dansakademie het sy voorts aan verskeie produksies deelgeneem terwyl sy as Fontie haar buiging tydens die eerstejaarskonsert gemaak het, en sy ʼn kranige lid van die instelling se dansklub is.
In Daai kleindorpiegevoel vertolk Le Roux die rol van Tannie Pompie – die warmhartige en gerusstellende hart van die gemeenskap. Le Roux beskryf haar karakter as opreg, iemand met ʼn goeie sin vir humor en ʼn liefde vir haar gemeenskap.
Le Roux ag haarself as bevoorreg om deel te mag wees van hierdie kulturele pionierswerk en sien met groot afwagting uit na die musiekblyspel. Sy glo dat dié produksie die grondslag van ʼn Akademia-eie kultuurtradisie gaan neerlê wat nog vir baie jare studente asook die gemeenskap sal inspireer. “Dit gaan oor méér as net die verhoogstuk en die geleentheid om my passie uit te leef. Vir my gaan Daai kleindorpiegevoel oor nuwe en hegte vriendskappe, om deel te mag wees van ʼn hegte span en om herinneringe vir ʼn leeftyd te vorm,” sê Le Roux.
Volgens Le Roux beliggaam Tannie Pompie se karakter die belangrike lewenswaarheid dat elke oomblik gekoester moet word, omdat jy nooit weet hoeveel tyd vir jou beskore is nie.

Edo Collyer as Ronnie Bester
Edo Collyer (23) is ʼn student in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program en pak sy studie by wyse van Akademia se nauurse afstandsmodel aan. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Wagpos in Brits voltooi en was vir twee jaar lank ʼn inwoner van die manskoshuis, Huis Magalies.
Hoewel Daai kleindorpiegevoel die instelling se eerste musiekblyspel is, is Collyer ʼn ervare verhoogkunstenaar. Van sy gunstelingrolle sluit dié van Pappa Pia en Enzo Engelbrecht in die Pappa Pia-studenteproduksies in, asook ʼn komiese vertolking van Nataniël in ʼn skets wat hy in 2025 die lig laat sien het.
As Ronnie Bester, die dreigende burgemeester van die dorp, blaas Collyer lewe in ʼn eksentrieke en selfgesentreerde karakter. Hy beskryf Ronnie as iemand wat glo dat die wêreld om hom draai en hy versinnebeeld ʼn man vol waansin, selfsug en gróót idees oor homself. Die een ding wat Collyer en Ronnie egter sonder twyfel gemeen het, is dat beide glo dat ʼn netjiese pak klere jou ver in die lewe kan bring!
“Kultuur vorm identiteit en het die vermoë om mense te inspireer,” sê Collyer en voeg by dat dit vir hom ʼn groot voorreg is om deel van hierdie nuwe kultuurhoofstuk van Akademia te mag wees. “Wanneer jy op die verhoog staan, word jy self ʼn kunstenaar. Dit verander die manier waarop jy na die wêreld kyk,” meen Collyer en nooi ʼn ieder en ʼn elk uit om dié bekoring self te kom ervaar tydens die musiekblyspel.

Zandré Gower as Oom Bert, die motorwerktuigkundige
Zandré Gower (20) is ʼn derdejaarstudent in die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program. Dié oudinwoner van die manskoshuis, Huis Hennops, het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Wagpos in Brits voltooi.
Gower is ʼn gesoute kunstenaar wat sy passie vir musiek en kultuur reeds sedert sy skooldae uitleef. As ʼn voormalige Huis Hennops-man het hy ook in koshuisverband aan verskeie produksies deelgeneem. As ʼn solomusikant skuif hy gereeld met sy kitaar agter die mikrofoon in om gehore tydens spesiale en institusionele geleenthede te vermaak.
In Daai kleindorpiegevoel vertolk Gower die rol van Oom Bert, ʼn wyse en standvastige gesagsfiguur. Hy is geliefd in die gemeenskap, altyd bereid om ʼn handjie by te sit en staan op vir dit waarin hy glo. Gower, sonder om die aap uit die mou te laat, verklap dat sy karakter ʼn sagte plekkie vir Tannie Pompie het, en sy effense hakkel raak veral opvallend wanneer hy met haar ʼn geselsie aanknoop.
Beide Gower en sy karakter streef daarna om ander met respek te behandel en getrou te bly aan hul persoonlike waardes en oortuigings. Die grootste verskil lê in die ouderdomsverskil tussen Oom Bert en Gower opgesluit en Gower meen dat hy hoop om deur lewenservaring ook eendag so wys soos sy karakter te kan wees.
Volgens Gower bied deelname aan ʼn musiekblyspel soos hierdie waardevolle geleenthede aan Fonties vir groei en ontwikkeling – ʼn vormingsproses wat reeds by die oudisies begin en lank ná die gordyn vir die laaste keer gesak het, sal duur. “Dit is ook ʼn fees om hierdie ervaring met ander Fonties te deel en boonop eerstehands by professionele rolspelers in die groter vermaaklikheidswêreld te mag leer.”

Martin Munro as Marno, die jaloerse ekskêrel
Martin Munro (22) is ʼn vierdejaar-LLB-student en pak sy studie by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aan. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Jeugland in Kemptonpark voltooi en is tans ʼn lid van die mansdaghuis, Huis Karoo.
Munro is ʼn ervare verhoogkunstenaar met ʼn rits produksies, kompetisies en ander kultuuraktiwiteite op sy kerfstok. Hy was onder andere deel van die Oos-Randse Jeugkoor wat in 2019 deur Europa getoer het en ʼn internasionale kompetisie in Salzburg gewen het. By Akademia het hy oor die jare heen aan verskeie koshuisproduksies, As jy sêr en ander kultuurgeleenthede deelgeneem.
In die instelling se eerste musiekblyspel vertolk hy die rol van die jaloerse ekskêrel – ʼn man wat eenvoudig nie wil aanvaar dat sy verhouding verby is nie. Munro beskryf sy karakter as egoïsties, ongeskik en hardkoppig, maar erken dat hulle wel een eienskap deel: deursettingsvermoë.
Vir Martin is dit ʼn groot eer en voorreg om deel te mag wees van hierdie geskiedkundige produksie. “Ek wéét hierdie musiekblyspel verteenwoordig iets ongeloofliks en ek kan nie wag dat mense dit moet sien en self ervaar nie,” sê Munro en hy moedig oud en jonk aan om betyds hul kaartjies te koop.
Hoewel dit aanvanklik ʼn uitdaging was om sy karakter se oordrewe ego geloofwaardig uit te beeld, het Munro gou sy voete in die rol gevind. Tydens die voorbereiding het hy ook opnuut ontdek hoeveel energie deur passie en entoesiasme ontsluit kan word. “Ek het geleer ek kan met baie min slaap klaarkom wanneer ek doen waarvoor ek lief is!” lag Munro.
Volgens Munro herinner sy karakter se verhaal ons daaraan dat liefde soms beteken om iemand te laat gaan. Hy moedig voorts ander Fonties aan om elke geleentheid aan te gryp: “Jy is net een keer ʼn student. Die lewe is te kort om nét agter die boeke te spandeer; kultuuraktiwiteite soos dié musiekblyspel help jou om te ontdek wie jy werklik is,” meen Munro.

André Smit as Spanner
André Smit (20) is ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Ekonomie en Regte)-program. Hy is ʼn trotse lid van die mansdaghuis, Huis Karoo. Dié boorling van Centurion – wat sy skoolloopbaan by wyse van die Cambridge-tuisskoolplatform voltooi het – is geen vreemdeling vir die verhoog nie. Hy neem reeds elf jaar lank aan verskeie produksies deel – hetsy professioneel óf bloot uit die liefde vir die uitvoerende kunste.
As Spanner in Daai kleindorpiegevoel vertolk hy ʼn karakter wat eerder grappe maak as moue oprol en sy dagtaak aanpak. Hoewel André en Spanner albei ʼn goeie sin vir humor het, meen Smit dat hy nie sommer in ʼn oorpak betrap sal word nie.
Vir Smit is dit ʼn opwindende geleentheid en voorreg om deel te mag wees van die musiekblyspel. “Dit is ʼn eer om een van die eerste Fonties te kan wees wat hierdie nuwe kultuurervaring by Akademia kan belééf en terselfdertyd só die tafel (of is dit nou die verhoog?) vir toekomstige musiekblyspele te kan dek.” Smit glo voorts dat deelname aan produksies soos hierdie studente help om karakter te bou en ʼn groter waardering vir kultuur te ontwikkel.
Volgens Smit leer sy karakter, Spanner, ʼn baie belangrike lewensles in die musiekblyspel, naamlik dat ʼn mens verstandig moet wees as dit kom by wie jy kies om jouself mee te vereenselwig.

Tristin Minnie as Tjokkie
Tristin Minnie (21) is ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program en pak sy studie by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aan. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Oosterlig in Boksburg voltooi. Hoewel hy nie meer in ʼn koshuis woon nie, was hy voorheen ʼn trotse inwoner van Huis Magalies.
Minnie het sy vaardighede as akteur geslyp deur sy deelname aan die Pappa Pia-studenteproduksies. As ʼn lid van die geskiedkundige eerste akteursensemble van Akademia se studentemusiekblyspel, meen Minnie dat hy trots is op die vestigingsrol wat hy help vervul met hierdie nuwe kultuurtradisie.
Minnie se karakter, Tjokkie, sorg vir humor op die verhoog. Hy beskryf sy karakter as snaaks, spontaan en stout – ʼn komiese persoonlikheid wat vir ʼn hele paar ligte oomblikke in die verhaal sorg. En hoe verskil Minnie van sy verhoogkarakter? “Gits, van ʼn motorenjin weet ek minder as niks nie!” lag Minnie. Gedagtig hieraan vertel hy skertsend dat Tjokkie se skoene aanvanklik vir hom “ʼn nommer te klein” gevoel het, maar dat hy dié rol terdeë geniet het. Dit was dan ook veral vir hom lekker om met sy studentemaats sowel as die ervare produksiespan te werk en só nuwe vaardighede aan te leer.
Die produksie het Minnie geleer om op sy medespelers te vertrou en saam te werk om iets besonders te skep. Volgens hom bied produksies soos hierdie waardevolle ervaring, skep dit nuwe geleenthede en gee dit studente die kans om hul talente steeds verder te ontwikkel.

Koop jou kaartjie en neem jou sitplek in
Die musiekblyspel sal gedurende middag- en aandvertonings opgevoer word en kaartjies is by die Centurion Teater asook op die Quicket-kaartjieplatform beskikbaar vanaf R220 per persoon. Hou Akademia se sosialemediaplatforms sowel as die Akademia-webblad dop vir meer inligting.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.