*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Pretoria-Fonties droom en doen selfs groter tydens Spore 2026

Gepubliseer op:  11 Februarie 2026

Drie jaar ná die bekendstelling van Akademia se Spore-projek gaan dié studenteinisiatief van krag tot krag én word daar op ʼn eiesoortige, maar baie impakvolle manier, uiting gegee aan die instelling se vormingsideaal.

Akademia se ses koshuise in Pretoria is tydens vanjaar se eerstejaarsoriënteringsprogram in sleepverband (ʼn dames- en manskoshuis as ʼn span) daarmee getaak om elk ʼn speelhuisie vir jong kinders te bou. Soos in die verlede, is hierdie huisies ná afloop van ʼn bekendstellingsgeleentheid, wat op Saterdag 7 Februarie 2025 plaasgevind het, aan verskeie plaaslike instellings geskenk in samewerking met Solidariteit Helpende Hand. Hierdie instellings sluit in Bramley-kinderhuis, Club21, Trotse Tjokkers en Ons Plek Derdepoort.

Die koshuise het as volg deelgeneem

Ná afloop van die beoordelingsproses het Maglia as vanjaar se Spore-wenners na vore getree.

Volgens dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker: Studentesake en koördineerder van die projek, spreek vanjaar se speelhuisies van passievolle kreatiwiteit en sluit onder meer ʼn ruimtehuis, ʼn modderkoekiekombuis, ʼn winkel en ʼn interaktiewe speletjieshut in. Boonop is die gehalte van die speelhuisies vanjaar volgens Dubery ook baie goed en sy lig haar hoed vir Rudi Greyson van Kanton vir sy insette en hulp aan die studente om te verseker dat die struktuur van hul speelhuisies stewig en veilig is.

“Diensbaarheid en gemeenskapsverbondenheid is twee baie belangrike vormingsboustene, en by wyse van hierdie projek word die studente aangemoedig om op ʼn praktiese wyse die boodskap van hoop en naasteliefde uit te dra,” verduidelik Dubery. Sy voeg by dat die studente, gedagtig aan die naam van die projek, werklik spore van deernis en samehorigheid nalaat.

Op haar beurt meen Annemé Kriel, die SR-lid van gemeenskapsprojekte, dat haar belewenis van Spore 2026 haar met trots vul. “Die studente se meelewing, opgewondenheid en passie het my opnuut weer daaraan herinner dat Akademia soveel méér as net ʼn plek van studie is. Dit is ʼn tuiste en ʼn gemeenskap van vriende, denkers, doeners en verskilmakers. Ek is só trots op my mede-Fonties en sien reeds uit na die spore wat ons studente tydens volgende jaar se projek gaan nalaat,” sê Kriel.

“Hierdie speelhuisies verteenwoordig soveel meer as net ʼn kleurvolle houtstruktuur, elke huisie bied aan kwesbare jong kinders die geleentheid om waarlik kind te wees. Om groot drome te droom, opwindende verbeeldingsvlugte te onderneem en vir ʼn wyle die uitdagings van hul eie leefwêreld te ontvlug,” sluit Dubery af.

Vir meer foto’s van vanjaar se Spore-projek, in Pretoria en die Paarl, besoek gerus Akademia se Facebook-blad.

Vanjaar se Spore-projek het, soos in die verlede, aan Pretoria-Fonties die uitdaging gestel om kreatiewe speelhuisies vir jong kinders te bedink en te bou.
Die sleepkoshuis, Maglia (Huis Magalies en Huis Dahlia), het vanjaar se koshuisuitdaging gewen.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.