Nuwe BCom (Rekeningkunde)-program – ʼn Viering vir Akademia én die arbeidsmark

Gepubliseer op: 28 Januarie 2025

Akademia het op Dinsdag 28 Januarie 2025 die amptelike bekendstelling van die gesogte BCom (Rekeningkunde)-program by die Alpine Attitude-boetiekhotel in Pretoria gevier.

Dié program, wat binne die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gesetel is, sal vanjaar sy eerste groep studente via die instelling se nauurse afstandsmodel inneem. Méér nóg, die program geniet volle akkreditasie by die Association of Chartered Certified Accountants (ACCA) – ʼn internasionale professionele liggaam.

Die bekendstellingsgeleentheid volg nadat die nuus oor dié toevoeging tot die fakulteit se aanbod* in die rekeningkundeveld in November 2024 bekend gemaak is. Op daardie stadium was die program steeds onderhewig aan ʼn streng akkreditasieproses by die ACCA. Laasgenoemde verteenwoordig een van die twee professionele liggame wat deur The Independent Regulatory Board for Auditors (IRBA) in Suid-Afrika geakkrediteer is. Volgens dr. Rachel Maritz, dekaan van die fakulteit, verteenwoordig die nuwe program nie net ʼn viering vir Akademia nie, maar ook vir die arbeidsmark omdat dit die baan weg vir graduandi om die titel van geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeester na te jaag.

“Die toevoeging van die BCom (Rekeningkunde)-program tot die instelling se bestaande programverskeidenheid verteenwoordig ʼn groot hoogtepunt in die ontwikkelingsreis van die fakulteit,” sê Maritz. Sy voeg by dat goed gevormde graduandi met spesialiskennis in rekeningkunde, bestuursrekeningkunde, finansiële bestuur, belasting én ouditkunde gevolglik ʼn positiewe en toekomsgerigte verskil in die werksplek sal maak. Hierbenewens sal die akkreditasie deur die ACCA die fakulteit toerus om toekomstige geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeesters of geregistreerde ouditeurs plaaslik op te lei om ook internasionaal relevant te wees.

Volgens Mareka Chabedi, ACCA- opvoedkundige bestuurder, is dié professionele liggaam verheug oor die insluiting van Akademia tot sy internasionale netwerk wat oor méér as180 lande strek. Hy meen dat die instelling se akkreditasiestatus vanaf die ACCA ʼn weerspieëling is van die program se wêreldklas gehalte en uitnemende standaard. “Ons sien daarna uit om Akademia se akademici se hande te versterk en só toekomstige geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeesters en geregistreerde ouditeurs toe te rus vir loopbane in welke professionele sektor ook al,” sluit Chabedi af.

Besoek Akademia se webblad vir meer inligting indien jy belangstel om jouself in die finansiële wêreld te bekwaam óf te onderskei. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar sluit op 31 Januarie.

*Die fakulteit beskik oor ʼn uitgebreide aanbod in die rekeningkundeveld met onder meer programme in BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde), BCom (Bestuursrekeningkunde), nagraadse diplomas in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde en Belasting asook ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.

Akademia bied vanaf 2025 die gesogte BCom (Rekeningkunde)-program aan. Dié program geniet akkreditasie by die Association of Chartered Certified Accountants of ACCA – ʼn internasionale professionele liggaam. Dr. Rachel Maritz (dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Rika Calitz (departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe), Alick Burger (programkoördineerder: BCom (Rekeningkunde) en Mareka Chabedi, ACCA- opvoedkundige bestuurder klink ʼn glasie ter viering van die programbekendstelling.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.