*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

A capella-vermaak uit die boonste rakke tydens tweede As jy sêr-geleentheid in Pretoria

Gepubliseer op:  30 Julie 2026

A capella-vermaak uit die boonste rakke was aan die orde van die dag toe Akademia se koshuissêrgroepe in Pretoria die verhoog betree het vir die jaarlikse As jy sêr-kompetisie. Dié kompetisie – ʼn hoogtepunt op die instelling se kultuurkalender – is op 28 Julie 2026 by die Fairtree Atterbury Teater aangebied as ʼn musikale viering van nie nét Akademia se bruisende studentelewe nie, maar óók sy gesonde kunstekultuur.

Volgens Miné Noëth, koördineerder: Kultuur, neem Pretoria-Fonties reeds vanaf 2023 aan die sêrtradisie deel. Aanvanklik is die enkelsêrformaat aangehang waarna daar in 2024 na die koshuissleepformaat oorgeskakel is. Vanjaar is dan ook die tweede keer wat die As jy sêr-produksie as deel van die instelling se kultuurtradisie aangebied word. Kaartjies vir hierdie geleentheid is binne slegs twee dae uitverkoop.

Vir diegene wat nie met hierdie kunstemedium vertroud is nie, verduidelik Noëth dat dit ʼn a capella-sangkompetisie is wat baie aan musiekteater herinner. Die kompetisie word voorts geken aan ʼn voorgestelde tema, sang, dans en eiesoortige storievertelling. Elke koshuis moes gevolglik die instelling se jaartema, Boustene vir ons toekoms, gebruik om hul optrede en boodskap mee in te kleur.

Kreatiewe en kleurvolle vertolkings

Tydens vanjaar se geleentheid het deelnemende Fonties hul verbeelding vrye teuels gegee en die gehoor bekoor met vertolkings wat keer op keer vir luide applous gesorg het.

Huis Hennops het hulself as Vikings voorgedoen, terwyl Huis Magalies die Franse vlag gewapper het en Huis Karoo die oop see as seerowers betree het. Huis Strelitzia het – ná ʼn deurmekaarspul by die lughawe – hulself in Rio bevind, terwyl Huis Dahlia op ʼn missie was om ware liefde te vind en Huis Daglelie hulself as speurders gebesig het.

ʼn Paneel bestaande uit ervare verhoogkunstenaars en kultuurambassadeurs het as beoordelaars die moeilike taak gehad om ʼn wenner aan te wys. Die paneel het bestaan uit Nadia Beukes, Revan Luus en Rico Immelman en al drie beoordelaars was dit eens dat die vertolkings van hoogstaande gehalte was. Daar bestaan volgens Noëth, aan die hand van terugvoer van die beoordelaars, ʼn opgewondenheid in die breër gemeenskap oor wat Akademia nog alles in die toekoms binne die uitvoerende kunste gaan vermag.

Aan die einde van die aand het Huis Hennops as die wenners weggestap en só hul deelname aan Akademia se Artium-kunsteskouspel later vanjaar bevestig. Laasgenoemde skouspel verteenwoordig ʼn prestigekultuurgeleentheid waartydens die instelling die jaar se beste kultuuroomblikke vier en erkenning gee aan Fonties se kultuurdeelname.

Huis Karoo en Huis Dahlia beklee onderskeidelik die tweede en derde plek in vanjaar se sêrkompetisie.

Huis Hennops is tydens vanjaar se As jy sêr-geleentheid in Pretoria as algehele wenners aangewys.

Kultuur as ʼn bousteen vir vorming

Volgens Noëth verteenwoordig ʼn geleentheid soos As jy sêr méér as net ʼn platform waar talent ten toon gestel kan word en studente, in koshuisverband, ʼn kultuur van gemeensaamheid kan ervaar.

“Geleenthede soos hierdie moedig studente aan om op kreatiewe maniere ʼn storie met kleur, klank en beweging te vertel. Hierdie manier van doen verg dissipline en kritieke denke, nie nét wat die fynere nuanses van dié tipe uitvoerende kuns betref nie,” verduidelik Noëth.

Sy voeg by dat dit voorts ʼn waardevolle leerskool is wat die tegniese aspekte van die teaterwêreld betref. Laasgenoemde verwys na die verantwoordelikheid wat elke koshuis gehad het om aspekte soos oefenskedules, beligting en choreografie self te behartig.

“Die belangrikste van hierdie sêrgeleentheid is egter die grondslag wat gelê word vir lewenslange vriendskappe en instellingstrots,” meen Noëth. Sy sluit af deur te sê dat deelnemende Fonties hulself uitstekend van hul taak gekwyt het, en dat daar reeds met afwagting uitgesien word na volgende jaar se geleentheid.

Die sêrgroepe van Huis Hennops, Huis Karoo en Huis Dahlia het deurgedring na die Artium-kunsteskouspel later vanjaar.
Die sêrgroepe van Huis Strelitzia, Huis Daglelie en Huis Magalies in aksie op die verhoog.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.