*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 23 Julie 2026
Akademia kondig met trots die aanstelling van dr. Jaco du Toit as waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan. Dié aanstelling is effektief vanaf 1 Julie 2026. Met meer as twee dekades se bedryfservaring in die inligtingstegnologiebedryf, ʼn sterk akademiese agtergrond in kubersekuriteit en ʼn passie vir die ontwikkeling van toekomstige rekenaarwetenskaplikes, voeg Du Toit ʼn unieke kombinasie van praktiese ervaring asook akademiese kundigheid tot dié rol.
Du Toit, wat sedert 2024 deel van die fakulteitspan op die Pretoria-kampus is, volg in die voetspore van dr. Piet Pretorius, onder wie se leiding hy as departementshoof: Rekenaarwetenskappe gedien het.
Van die bedryf na die akademie
Voordat Du Toit die akademie betree het, het hy vir meer as twintig jaar in die rekenaarbedryf gewerk en was hy bevoorreg om blootstelling aan ʼn groot verskeidenheid nywerhede te geniet. Laasgenoemde sluit onder meer in mynbou, energie en petrochemie, finansies, lugvaart, farmaseutiese vervaardiging en telekommunikasie.
Volgens Du Toit sluit dié beroepservaring projekte vir multinasionale maatskappye soos Eskom, Sasol, Anglo American, AngloGold, Telkom, die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in. Hierdie geleenthede het hom nie net dwarsoor die land geneem nie, maar ook vir ʼn tydperk internasionaal in Duitsland gevestig. Terugskouend meen Du Toit dat een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan die geleentheid was om eerstehands te sien hoe uiteenlopende bedrywe funksioneer en hoe tegnologie as dryfveer vir innovasie en doeltreffendheid dien.
“My loopbaan het ʼn aanvang geneem toe die internet pas sy verskyning in Suid-Afrika gemaak het,” sê Du Toit en voeg by dat hy in die bevoorregte posisie was om eerstehands die ontwikkeling van rekenaarnetwerke vanaf die dae van MS-DOS en Windows 3.1 tot en met hedendaagse moderne en sentraalbestuurde infrastruktuurstelsels te kon beleef. Vandag is kuberveiligheid een van sy grootste professionele belangstellings.
ʼn Lewenslange passie vir rekenaarwetenskap
Du Toit vertel dat sy belangstelling in rekenaars reeds as skoolseun posgevat het toe sy pa vir die gesin ʼn ZX Spectrum 48 KB-rekenaar gekoop het. “Ek het gou tot die besef gekom dat daar méér tot rekenaars is as speletjies, en só het my nuuskierigheid uiteindelik my passie en beroep geword,” sê Du Toit.
Jare later, tydens sy honneursstudie, het ʼn etiese kuberkraakoefening sy passie vir kubersekuriteit laat ontvlam. Danksy sy uitgebreide bedryfservaring kon hy maklik die teorie met praktiese toepassings verbind en het hy beide sy meestersgraad sowel as doktorale studie in hierdie veld voltooi. Sy doktorale studie het gefokus op die bestuur van kubersekuriteit in toestelle wat nie deur organisasies gebesig of beheer word nie. Laasgenoemde is toenemend relevant in ʼn wêreld wat gekenmerk word deur afstandswerk en persoonlike slimtoestelle.
Geroepe om die volgende geslag kundiges toe te rus
Volgens Du Toit was die skuif vanaf die bedryf na die akademie vir hom méér as net ʼn loopbaanverandering, en het hy dit as ʼn groter roepingsbesef beskou.
“Toe ek voltyds begin doseer het, was daar vir my ʼn sterk motivering om op dié manier aan gemeenskapsbou deel te neem. Ek wou help om die volgende geslag kundiges voor te berei om ʼn betekenisvolle bydrae tot die bedryf te lewer,” verduidelik Du Toit. Sedertdien het hy sy fokus uitgebrei na die begeleiding van nagraadse studente en die ontwikkeling van nuwe akademiese kundigheid.
“Die geleentheid om by Akademia aan te sluit het my roepingsgeesdrif steeds verdere stukrag gegee en my in staat gestel om nie nét aan ʼn relatiewe jong Afrikaanse hoëronderwysinstelling te help bou nie, maar ook aan ʼn rekenaarwetenskapprogram wat studente doelgerig sal voorberei op die toekoms. ʼn Toekoms waarin beroepe sal gedy wat nog nie eens vandag in die verbeelding bestaan nie,” verduidelik Du Toit.
As waarnemende dekaan is Du Toit opgewonde oor die geleenthede om nie net ʼn verskil binne die rekenaarwetenskapsveld te bewerkstellig nie, maar ook om dit as ʼn bousteen van die groter natuurwetenskaplike milieu uit te brei.
ʼn Duidelike visie vir die fakulteit
Du Toit se groot droom is om saam met sy kollegas binne die Fakulteit Natuurwetenskappe ʼn fakulteit te vestig wat nasionaal én internasionaal aan die gehalte van sy programme erken sal word.
“Ons wil studente doelgerig ontwikkel wat vanuit ʼn Christelike wêreldbeskouing die groter prentjie kan raaksien en ʼn daadwerklike verskil in hul gemeenskappe en beroepsomgewings kan maak,” meen Du Toit. Hy voeg verder by dat hy opgewonde is oor die groeipotensiaal van die instelling se Paarl-kampus, veral wat rekenaarwetenskappe betref. “Dit is vir ons belangrik om opleiding en vorming te bied wat nie net toepaslik is nie, maar ook aan die veranderende behoeftes van die land en die veld van rekenaarwetenskappe sal voldoen,” sê hy verder.
Een van die toekomstige inisiatiewe waarop Du Toit besonder trots is, is die beplande uitbreiding van die fakulteit se hoërsertifikaataanbod. Hierdie programme sal skoolverlaters die geleentheid bied om hul Wiskunde-prestasie te verbeter sodat hulle aan die toelatingsvereistes vir programme met hoër wiskundige vereistes kan voldoen. Daar word voorts ook ondersoek ingestel na die uitbreiding van die huidige BSc (Rekenaarwetenskappe)-program om ʼn selfs meer gefokusde program in inligtingstegnologie aan te bied.
Milde geleenthede wink wat die uitbouing van die groter fakulteit betref, met die toevoeging van biologiese wetenskappe asook ingenieurswese, wat in die vooruitsig gestel word. Hierdie ontwikkelingswerk is reeds volstoom aan die gang en daar word uitgesien na die bekendstelling hiervan by die instelling se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria wat in 2028 ʼn aanvang sal neem.
Du Toit is dit eens dat rekenaarwetenskappe ongekende loopbaangeleenthede ontsluit wat belangstellendes toegang tot feitlik enige bedryf verseker. Hiermee saam verteenwoordig hierdie loopbaanrigting nie nét dinamiese toekomsvooruitsigte nie, maar ook die kritiese verskerping van vindingryke probleemoplossingsvaardighede. Hy voeg by dat sy eie loopbaan as bewys dien dat dié veld mense na plekke kan neem waarvan hulle nooit sou droom nie.
Die mens agter die akademikus
Wanneer Du Toit nie besig is met navorsing of akademiese bestuursverantwoordelikhede nie, is hy ʼn toegewyde gesinsman. Hy is reeds 27 jaar met sy vrou, Ilse, getroud, en die egpaar het twee dogters, Izelle en Marli.
Sy grootste rolmodel is sy skoonpa, die internasionaal erkende kuberveiligheidskenner prof. Basie von Solms. “Vir hom bestaan daar nie iets soos ʼn geslote deur nie, hy sal eerder ʼn deur bou as daar nie een is nie. Hy skep geleenthede waar ander nie eens moontlikhede sien nie, en bo alles is hy ʼn nederige Christen, toegewyde gesinsman en mentor wat my deurentyd met wysheid en leiding ondersteun het,” sê Du Toit.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.