Search
Close this search box.

Internasionale akkreditasie wink vir Akademia se nuwe BCom (Rekeningkunde)-program

Gepubliseer op: 25 November 2024

Akademia het op Maandag 25 November 2024 tydens ʼn glasieklinkgeleentheid die opwindende nuus bekendgemaak dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vanaf 2025 die eerste groep studente in die gesogte program BCom (Rekeningkunde) sal inneem. Die fakulteit beskik reeds oor ʼn aanbod in die rekeningkundeveld met onder meer programme in BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde), BCom (Bestuursrekeningkunde), nagraadse diplomas in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde en Belasting asook ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.

Die BCom (Rekeningkunde)-program sal oor ʼn tydperk van drie jaar aangebied word via die instelling se nauurse afstandsmodel en studente sal hul studie via ʼn uitgebreide netwerk van sentrums óf ʼn e-leeropsie kan voltooi.

Tesame met dié aankondiging het dr. Rachel Maritz, dekaan van die fakulteit, ook die nuus bekendgemaak dat die program in ʼn gevorderde stadium is met die aansoek tot akkreditasie* by die Association of Chartered Certified Accountants (ACCA). Laasgenoemde is een van die twee professionele liggame wat deur The Independent Regulatory Board for Auditors (IRBA) in Suid-Afrika geakkrediteer is. Hierdie internasionale professionele liggaam sal aan Akademia se BCom (Rekeningkunde)-graduandi die geleentheid bied om die gesogte titel van geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeester na te jaag en te verwerf deur die vrystelling van professionele eksamens te bewerkstelling. ʼn Bykomende voordeel is dat diesulke graduandi, wat volle lidmaatskap van die ACCA geniet, sonder enige oorgangseksamens internasionale erkenning sal geniet.

“Die toevoeging van die BCom (Rekeningkunde)-program tot Akademia se bestaande programverskeidenheid verteenwoordig ʼn hoogtepunt in die ontwikkelingsreis van die fakulteit,” sê Maritz. Sy voeg by dat die instelling se strewe met dié nuwe program is om doelgerig voort te bou op die vormingsideaal om studente se denke én hart roepingsgedrewe te vorm. “Ons sien daarna uit om goed gevormde graduandi met spesialiskennis in rekeningkunde, bestuursrekeningkunde, finansiële bestuur, belasting én ouditkunde te lewer wat op ʼn toekomsgerigte wyse ʼn positiewe verskil in die werkswêreld maak deur hul dieperliggende begrip van die samehang van die onderskeie rekeningkundige dissiplines,” sê Maritz. Die akkreditasie deur die ACCA sal die fakulteit voorts toerus om toekomstige geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeesters of geregistreerde ouditeurs plaaslik op te lei om ook internasionaal relevant te wees.

“Die ACCA-akkreditasie breek voorts die internasionale beroepsveld vir plaaslike geoktrooieerde rekenmeesters oop en kan gesien word as ʼn dinamiese alternatiewe akademiese roete tot beroepsvervulling in hierdie hoogs gespesialiseerde veld,” verduidelik Maritz. 

Die BCom (Rekeningkunde)-program in ʼn neutedop

Dié program is op ʼn NKR-vlak 7 en het ʼn tweeledige doel. Eerstens sal dit studente toerus met die nodige insig en toepassingsvaardighede in besigheid, rekeningkunde en ouditpraktyke sowel as verwante dissiplines. Tweedens sal die program studente toelaat om verder te spesialiseer in óf rekeningkunde óf ouditkunde deur gestruktureerde opleiding (klerkskap) te voltooi en só toegang te verkry tot professionele eksamens om uiteindelik die gesogte geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeester (ACCA) of geregistreerde ouditeur (RA)-titel agter sy/haar naam te kan voeg.

Maritz verduidelik dat studente wat die program suksesvol voltooi vrystelling sal geniet vir professionele eksamenvraestelle in die eerste drie kategorieë van die kwalifikasie, naamlik fondasie, toegepaste kennis, en toegepaste vaardighede.

Vir meer inligting oor die BCom (Rekeningkunde)-program skakel in vir die aanlyn inligtingsessie op Woensdag 27 November 2024 om 18:00. Indien jy belangstel om jouself in die finansiële wêreld te bekwaam óf te onderskei, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop.

* Akademia sal voorlopige akkreditasie by die ACCA geniet vir elke module waarvoor daar nóg nie ʼn volledige historiese eksamenvraestel ingedien is nie. Dit wil sê, die splinternuwe modules sal voorlopige akkreditasie geniet totdat die finale, voorlopig geakkrediteerde eksamenvraestel in praktyk deur die studente aan die einde van 2027 geskryf word. Laasgenoemde verteenwoordig die voorsiende jaartal wanneer die instelling sy eerste afstuderende BCom (Rekeningkunde)-studente sal lewer.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, Alick Burger, programkoördineerder: BCom (Rekeningkunde), dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Rika Calitz, departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe klink ʼn glasie op die nuwe program.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.