*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia se Alumni-uitblinker dien deur denke, hart én hande

Gepubliseer op:  7 Julie 2026

Baie mense beskou die verwerwing van ʼn naskoolse kwalifikasie as ʼn vanselfsprekende volgende stap in ʼn tradisioneel voorspelbare lewenspad. Vir Letitia Franck was dit egter iets heel anders: ʼn moedige weer begin, gebou op deursettingsvermoë, selfontdekking en die vaste oortuiging dat sy nie deur haar verlede gedefinieer word nie.

As die tweede ontvanger van Akademia se gesogte Alumni-uitblinkerstoekenning, staan Franck vandag nie nét as ʼn trotse oud-Fontie en gevestigde entrepreneur uit nie, maar óók as ʼn simbool van wat moontlik is wanneer hoop, harde werk en diensbaarheid hand aan hand loop. Franck het op 6 Mei 2026 die toekenning in ontvangs geneem.

Só werk doelgerigte studie twyfel teë

Franck, wat in die Vaaldriehoek woon en oorspronklik van Virginia in die Goudveld heet, het haar skoolloopbaan aan Hoërskool Vaalpark voltooi. Vir ʼn lang tyd het sy geglo dat verdere studie nie vir haar beskore was nie.

“Ek het grootgeword met die idee dat ek nie kan leer nie,” vertel sy openhartig. Dit was eers ná ʼn goeie vriendin haar van Akademia se studieopsies vertel het, dat hierdie perspektief begin verander het. Wat gevolg het, was ʼn dapper besluit om wéér te begin glo in haar eie vermoëns, asook die moontlikheid van ʼn hoopvolle toekoms.

Franck het haar studiereis aan Akademia in 2023 by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel begin en sy het die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie suksesvol voltooi. Die verwerwing van dié kwalifikasie het haar selfvertroue baie verbeter en sy het dadelik vir die LLB-program, ook via die nauurse afstandsmodel, geregistreer. Sy is vanjaar ʼn derdejaarregstudent en is reeds opgewonde oor toekomstige nagraadse studiegeleenthede.

ʼn Studietuiste wat ruimte skep vir waardevolle groei

Die buigsaamheid van haar gekose onderrigleermodel het dit vir Franck moontlik gemaak om haar rolle as entrepreneur, ma, sweminstrukteur én gemeenskapswerker te balanseer. Tóg erken sy dat dit nie altyd maklik was nie.

“Dit was by tye uitdagend om balans te handhaaf, maar met dissipline was dit moontlik,” sê sy en voeg by dat sy nooit gedurende enige van haar studiereise alleen gevoel het nie. Akademia se ondersteuningstelsels en akademiese standaarde het haar nie net gehelp om te slaag nie, maar om ook in die proses haar selfwaarde terug te kry.

Sy beskryf haar tyd by Akademia as vormend op elke vlak en danksy hierdie vorming het sy vandag die selfvertroue om haar identiteit – persoonlik en professioneel – heelhartig uit te lééf. Haar gunstelingmodules is Familiereg en Ondernemingsreg en sy loof haar dosente – Lichel Helmchen, dr. Melanie Roestoff, Chrislie Boers, Nadia Lategan en dr. Tronel Joubert – as rolmodelle wat ʼn besondere indruk op haar maak. “Ek waardeer elke dosent en elke module omdat dit as ʼn vormingslypsteen vir myself, my medestudente en die groter gemeenskap dien,” sê Franck.

Van student tot gemeenskapsbouer

Vandag is Franck die eienaar van ʼn leersentrum vir skoliere en ʼn swemskool, terwyl sy aktief betrokke is by gemeenskapsinisiatiewe wat fokus op kwesbare kinders. Haar betrokkenheid by laasgenoemde inisiatiewe is nie toevallig nie, en is gewortel in diepe persoonlike ervaring.

“Ek het self bitter moeilike kinderjare beleef en weet hoe dit voel om sonder ondersteuning groot te word,” vertel sy. Vanuit hierdie swaar omstandighede het Franck haar lewensmissie gebeitel, naamlik om ten alle tye as ʼn volwassene vir kinders as ʼn veiligheidsnet te dien, hulle te beskerm en toekomsgedrewe geleenthede vir hulle te skep waar dit voorheen ontbreek het.

Sy gaan voort deur te verduidelik dat gemeenskapswerk vir haar oor meer as hulplening bestaan. Dit gaan oor die toerusting van kinders en die gemeenskappe waarin hulle hulself bevind wat as ʼn katalisator vir toekomsverandering dien.

ʼn Toekenning wat meer as net prestasie spieël

Vir Franck is die Alumni-uitblinkerstoekenning nie bloot ʼn erkenning van akademiese prestasie nie, maar ʼn simboliese bevestiging van haar reis tot op hede. “Dit is vir my ʼn groot eer,” sê sy en voeg by dat dit as ʼn simbool van hoop vir haar dien en só dalk ook ʼn lansie breek vir ander wat hard moet werk om hul toekomsdrome te verwesenlik.

Oor die volgende vyf tot tien jaar sien sy haarself as ʼn gekwalifiseerde regspraktisyn met ʼn fokus op familiereg omdat dit ʼn veld is waardeur sy hoop om veral kinders en kwesbare gesinne te kan ondersteun. Haar droom is eenvoudig maar kragtig: om ʼn verskil te maak waar dit die meeste saak maak.

As enkelouer en deeltydse student weet Franck eerstehands wat dit beteken om deur moeilike seisoene te volhard, en gedagtig hieraan is haar advies aan ander om elke dag hard te werk in die strewe om beter te wees as gister. “Glo in jouself! Jou omstandighede bepaal nie jou toekoms nie,” sê Franck. Sy voeg by dat sukses dikwels in klein, volgehoue keuses opgesluit lê – veral wanneer dit beteken om vroeër op te staan of later te gaan slaap om jou doelwitte te bereik.

ʼn Sprankelende voorbeeld van verbondenheid en toekomspotensiaal

Vir Akademia is Franck se verhaal meer as net nog ʼn suksesstorie. Dit is ʼn weerspieëling van die instelling se kernwaardes: verbondenheid, uitnemendheid en die oortuiging dat onderrig en leer lewens kan verander.

Haar lewensreis dien as bewys dat wanneer ondersteuning, geleentheid en vasberadenheid verweef word, mense nie net hul omstandighede kan oorkom nie, maar ook ander kan ander inspireer om dieselfde te doen.

Letitia Franck, Akademia se Alumni-uitblinker vir 2026, saam met Marthinus Visser, die instelling se besturende direkteur, tydens die jaarlikse prestigefunksie.
Letitia Franck is tans ʼn derdejaarstudent in die LLB-program en sy sien uit daarna om haarself in die toekoms in die regsberoep te vestig waar sy haar liefde vir familiereg sal kan uitleef. Op dié foto is sy saam met haar kinders, Aiva en Logan.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.