*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 10 Julie 2026
Die finale ronde van Akademia se jaarlikse Woordmeesters-taalkompetisie, in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Die Papier as mediavennoot, wink. Ná die aanlyn taaltoetse afgehandel is en die deelnemers se puntestand bereken is, word die hoed gelig vir die topdriefinaliste in elk van die drie kategorieë. Hierdie taalfundi’s, wat uit meer as 870 deelnemers landswyd uitgeblink het, sal op Afrikaanse Taaldag, 14 Augustus, meeding om die titel van Woordmeester 2026. Die finaal sal op Akademia se Leriba-kampus in Pretoria plaasvind.
Benewens die prestige wat met die titel gepaardgaan, is daar ook groot pryse – insluitend kontant – op die spel. Verskeie ander vennote* voeg ook hul steun tot dié projek.
Die topdriefinaliste in elk van die kategorieë is:
Skoolkategorie (graad 10 tot 12)
Amelia Minnar, Hoër Meisieskool Paarl
Rian Knoesen, Hoërskool Menlopark
Gerlú Mountany, Hoërskool Frikkie Meyer
Studentkategorie
Megan Muller, Noordwes-Universiteit (NWU)
Chanelle Beukes, Akademia
Ildamarie Botha, Universiteit van Pretoria (UP)
Publiekkategorie
Morné van Rooyen, Bloemfontein
Ranya van der Walt, Centurion
Crisna Bezuidenhout, Pretoria
Ervare woordmeesters dien as beoordelaars
Die finale ronde word beoordeel deur vyf gesiene taalkundiges en taalpraktisyns wat elk oor jare se akademiese en professionele ervaring beskik.
Suléne Pilon, beskrywende taalkundige aan die Universiteit van Pretoria (UP), dien onder meer as moderator van die morfologie- en sintaksisafdeling van VivA se Afrikaanse Taalportaal en is voorsitter van die SAAWK se Taalkommissie.
Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, weerspieël die ervaring en diepte van die beoordelaarspaneel die standaard waarna die Woordmeesters-taalkompetisie streef. “Woordmeesters wil deelnemers nie net beloon vir goeie taalgebruik nie, maar hulle ook uitdaag om die wetenskap, struktuur en rykdom van Afrikaans te ontdek. Daarom is dit vir ons belangrik dat die finaal deur kenners beoordeel word wat self ʼn diepgaande bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans lewer,” sê Swanepoel.
Soos die kompetisie sy 2026-hoogtepunt nader, bly Woordmeesters ʼn viering van Afrikaans as ʼn taal wat nie slegs gepraat word nie, maar ook met sorg, kennis en liefde beoefen word. Deur inisiatiewe soos hierdie word nuwe geslagte taalgebruikers aangemoedig om Afrikaans nie net te gebruik nie, maar dit doelbewus te slyp, te koester en verder uit te bou.
*Ander vennote wat aan dié taalinisiatief deelneem, sluit in Afrikaans.com, AfriForum, Weet, Penguin Random House South Africa, Stimulusmaksima en Jonathan Ball Publishers.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.