*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia se eerste tusseninstellingskynhof slyp die regsleiers van môre

Gepubliseer op:  13 Julie 2026

Die pad na die hofsaal begin vir regslui lank voordat hul eerste saak aangehoor of bepleit word. Gedagtig hieraan het Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid onlangs ʼn suksesvolle tusseninstellingskynhofkompetisie aangebied.

Tydens hierdie geleentheid, wat op 2 en 3 Julie op Akademia se Pretoria-kampus aangebied is, het regstudente van Akademia, Emeris en Stadio byeengekom om hul regskennis, argumenterings- en litigasievaardighede in ʼn gesimuleerde hofomgewing voor ervare regskenners op die proef te stel.

Só sien die kompetisie daar uit

Mignonn Roestoff, junior dosent: Privaat- en Handelsreg en organiseerder van die skynhof, verduidelik dat hoewel ʼn skynhof op ʼn gesimuleerde hofverrigting berus, dit met dieselfde erns benader word as ʼn werklike hofsaak.

In hierdie geval het die skynhof oor ʼn erfregfeitestel gegaan, en daar is van die deelnemers verwag om hierdie feitestel te ontleed, skriftelike betoogshoofde voor te berei, asook mondelinge argumente voor ʼn paneel van bewese en praktiserende regslui te lewer. Laasgenoemde paneel het bestaan uit verteenwoordigers van die Pretoriase balieraad, waaronder adv. Marius Snyman SC, adv. Kgaogelo Ramaimela, adv. Anmarli van der Merwe, en adv. Yolandi van der Laarse, asook die voorsittende beampte van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Praktisyns vir Herstrukturering en Insolvensie (SARIPA), René Bekker.

Die kompetisie is oor drie rondes beslis, en ná elke ronde het deelnemers na ʼn hoër hof gevorder. (Met ander woorde, die simulasie het die hooggeregshof, die appèlhof en uiteindelik die Konstitusionele Hof omvang.)

Akademia-studente presteer uitstekend

Akademia se studente het besonder goed gevaar in die kompetisie. Aiden van Heerden is as algehele wenner aangewys, terwyl Nikita van Rensburg en Anika Crafford as naaswenners geëindig het.

Studente van Emeris het ook erkenning ontvang. Omphile Rakwena en Thabelo Magabe is geloof vir die beste hofdrag, terwyl Thando Buhle Ncube en Litsoanelo Seturumane met die louere vir beste hofetiket weggestap het.

Fontie-regstudent, Aiden van Heerden, is as die algehele wenner van Akademia se eerste tusseninstellingskynhofkompetisie aangewys. Nikita van Rensburg en Anika Crafford het as naaswenners uit die stryd getree. Mignonn Roestoff van die Fakulteit Regsgeleerdheid het die sertifikaatoorhandiging behartig.

Vorming wat verder strek as die lesingsaal

Volgens dr. Alex Politis, senior dosent: Privaat- en Handelsreg en mentor van die Akademia-span, ontsluit skynhofopleiding veel meer as bloot akademiese kennis.

“Mentorskap in hierdie konteks behels gespesialiseerde opleiding waarin studente deur praktiese oefening aan litigasietegnieke blootgestel word. Hulle leer hoe om sake te ontleed, regsargumente te formuleer, strategie te ontwikkel en skriftelike betoogshoofde op te stel. Terselfdertyd word hulle deur die uitdagende voorbereidingsproses ondersteun, aangemoedig en bemoedig,” verduidelik Politis.

Die feit dat al drie die topfinaliste uit Akademia se eie geledere kom, spreek volgens Politis boekdele oor die gehalte van die instelling se interne skynhofopleiding, asook die bekwaamheid van Fonties binne die Fakulteit Regsgeleerdheid. Hy voeg by dat die geleentheid om teen studente van ander instellings mee te ding van onskatbare waarde is en dat dit terselfdertyd bande met toekomstige kollegas en regsnetwerke smee.

Waardevolle terugvoer uit die regsberoep

Volgens prof. Hermie Coetzee, dekaan van Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid, het die deelnemende studente ʼn hoë standaard gehandhaaf.

“Al die deelnemende instellings het die kompetisie met groot entoesiasme aangepak en die studente het ʼn uitstekende ingesteldheid geopenbaar. Die voorsittende beamptes het waardevolle terugvoer en praktiese wenke gegee wat van groot waarde vir die deelnemers is,” sê Coetzee.

Die geleentheid is ook positief deur die besoekende instellings ontvang. Benewens lof vir die organisering van die kompetisie en die fasiliteite op die Pretoria-kampus, het Emeris byvoorbeeld aangedui dat hulle graag die oorspronklike feitestel vir hul eie interne skynhofkompetisie wil gebruik.

Politis meen terugskouend dat geleenthede soos hierdie belangriker as ooit is.
“Die regsprofessie staan toenemend onder kritiese ondersoek ten opsigte van die gehalte van regspraktisyns. Die voorbereiding, deursettingsvermoë, taalvaardigheid en vernuf wat ons studente tydens hierdie kompetisie getoon het, gee my groot vertroue in die toekoms van die regsprofessie in Suid-Afrika,” sluit Politis af.

Met die suksesvolle aanbieding van sy eerste tusseninstellingskynhofkompetisie het Akademia nie net ʼn nuwe tradisie gevestig nie, maar ook sy verbintenis bevestig om regstudente deur praktiese ervaring toe te rus vir ʼn beroep waarin deeglike voorbereiding, professionele integriteit en regsvernuf hand aan hand loop.

Elk van die deelnemende spanne moes hul feitestelontleding, skriftelike betoogshoofde, asook mondelinge argumente voor ʼn paneel van bewese en praktiserende regslui lewer.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.